YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 31

31
1 Toe dit alles verby was, het die hele Israel wat teenwoordig was, uitgegaan na die dorpe van Juda. Hulle het die gedenkstene stukkend gebreek, die asjeras afgekap, die offerhoogtes en die altare in die hele Juda en Benjamin, Efraim en Manasse, afgebreek totdat dit vernietig was. Daarna het al die Israeliete teruggekeer na hulle stede, elkeen na sy erfgrond.
Reëlings vir die tempeldiens
2 Hiskia het die priesters en die Leviete volgens hulle afdelings laat aantree, elke afdeling in ooreenstemming met sy dienswerk – die priesters en Leviete, om by die •brandoffers en •maaltydoffers diens te doen, en om te dank en loof in die poorte van die Here se kamp. 3 Die bydrae van die koning, uit sy eie besittings, vir die brandoffers was die volgende: die brandoffers in die oggend en die aand, die brandoffers op die Sabbatte, en tydens die nuwemaansfeeste en die vaste feestye, soos voorgeskryf in die wet van die Here. 4Hy het die volk, die inwoners van Jerusalem, aangesê om die deel wat die priesters en Leviete toekom, te gee, sodat hulle al hulle kragte kon wy aan die wet van die Here. 5Soos die woord versprei het, het die Israeliete oorvloedig gegee van die eerste opbrengs van koring, •nuwe wyn, olie, heuning en alles wat die landerye opgelewer het. 'n Tiende van alles het hulle in groot hoeveelhede ingebring. 6 Die Israeliete en Judeërs wat in die dorpe van Juda gewoon het, ook hulle het die tiendes van beeste en kleinvee afgestaan. Die tiendes van die •heilige gawes wat aan die Here hulle God gewy was, het hulle gebring en dit hoop vir hoop neergesit. 7In die derde maand het hulle die hope begin pak, en in die sewende maand was hulle daarmee klaar. 8Toe Hiskia en die •hoë amptenare daar aankom en die hope sien, het hulle die Here en sy volk Israel geprys. 9Toe Hiskia die priesters en die Leviete uitvra oor die hope, 10het Asarja, die hoëpriester uit die huis van Sadok, met hom gepraat. Hy het vir hom gesê: “Vandat die •wydingsgeskenke in die huis van die Here begin inkom het, het ons geëet en versadig geword, en daar is nog baie oor. Omdat die Here sy volk geseën het, het hierdie oorvloed oorgebly.” 11Hiskia het toe opdrag gegee dat vertrekke in die huis van die Here ingerig moet word. Hulle het dit toe ingerig.
12Die mense het die wydingsgeskenke, die tiendes en die heilige gawes getrou ingebring. Daaroor het Kenanja, die Leviet, toesig gehou, en Simi, sy broer, was tweede in bevel. 13Jegiël, Asasja, Nagat, Asael, Jerimot, Josabad, Eliël, Jismagja, Magat en Benaja was toesighouers onder bevel van Kenanja en sy broer Simi, op aanwysing van koning Hiskia en Asarja, die leier in die huis van God. 14Kore, seun van Jimna, die Leviet, wat die poortwag was by die Oospoort, het beheer gehad oor die vrywillige gawes aan God, om die wydingsgeskenke van die Here en die •besonder heilige gawes uit te deel. 15Hy is in die dorpe van die priesters getrou bygestaan deur Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Seganja, om aan hulle stamgenote in hulle afdelings, groot en klein, hulle porsies te gee. 16Naas die manlike persone van drie jaar en ouer op hulle geslagsregister, het dit almal ingesluit wat, volgens hulle afdelings, die huis van die Here binnegegaan het ooreenkomstig die eise van elke dag vir hulle diens, met die verantwoordelikhede daaraan verbonde. 17In die geval van die priesters het dit plaasgevind in ooreenstemming met die families op die geslagsregister, maar in die geval van die Leviete van twintig jaar en ouer in ooreenstemming met hulle verantwoordelikhede in hulle afdelings. 18Hulle moes in die geslagsregisters opgeneem word met al hulle afhanklikes, hulle vroue, hulle seuns en hulle dogters, die hele geloofsgemeenskap, want deur die getrouheid van die Leviete is hulle ook geheilig.
19 Vir die nageslag van Aäron, die priesters, in die weigebiede van hulle dorpe, was daar in elke afsonderlike dorp manne wat by die naam aangewys is, wat die porsies moes gee aan elke manlike persoon onder die priesters, en aan elkeen wat geregistreer is onder die Leviete.
20Op hierdie manier het Hiskia dit gereël deur die hele Juda. Hy het gedoen wat goed, reg en eerbaar was voor die Here sy God. 21Elke taak wat hy aangepak het in verband met die diens in die huis van God en in verband met die wette en gebooie, was daarop gerig om sy God se wil te soek. Met sy hele hart het hy dit gedoen, en hy was suksesvol.

Currently Selected:

2 Kronieke 31: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy