YouVersion Logo
Search Icon

1 Samuel 23

23
Dawid se bevryding van die dorp Keïla
1Daar is aan Dawid berig gebring: “Kyk, die Filistyne is besig om teen Keïla te veg, en hulle plunder die dorsvloere!” 2 Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek gaan en daardie Filistyne aanval?” Die Here het vir Dawid gesê: “Gaan, val die Filistyne aan en bevry Keïla!” 3Maar die manne van Dawid het vir hom gesê: “Kyk, hier in Juda leef ons reeds in vrees – hoeveel te meer as ons na Keïla toe gaan, na die gevegslinies van die Filistyne?”
4 Dawid het weer die Here geraadpeeg, en die Here het hom geantwoord en gesê: “Maak gereed, gaan af na Keïla, want Ek gaan die Filistyne in jou hand gee.”
5Dawid en sy manne het toe na Keïla gegaan en teen die Filistyne geveg. Hy het hulle vee weggedryf en 'n groot slagting onder hulle aangerig. So het Dawid die inwoners van Keïla bevry.
6 Toe Abjatar, seun van Agimeleg, na Dawid in Keïla gevlug het, het hy afgegaan met 'n efod by hom. 7Toe daar aan Saul berig gebring is dat Dawid in Keïla aangekom het, het Saul gesê: “God het hom in my hand oorgelewer, want hy het homself toegesluit deur in 'n dorp met poortdeure en 'n sluitbalk in te gaan.” 8Daarop het Saul al die manskappe opgeroep vir die geveg om af te trek na Keïla en Dawid en sy manne te beleër.
9 Dawid het egter geweet dat Saul besig is om kwaad teen hom te beplan. Hy sê toe vir Abjatar, die priester: “Bring die efod nader!” 10Toe sê Dawid: “Here, God van Israel, u dienskneg het betroubaar verneem dat Saul van plan is om na Keïla te kom en om vanweë my die dorp te verwoes. 11Sal die burgers van Keïla my oorlewer in die hand van Saul? Gaan Saul afkom, soos u dienskneg verneem het? Here, God van Israel, maak dit tog aan u dienskneg bekend!” Die Here het geantwoord: “Hy gaan afkom.”
12 Toe vra Dawid: “Sal die burgers van Keïla my en my manne oorlewer in die hand van Saul?” Die Here het geantwoord: “Hulle sal.”
13 Daarop het Dawid en sy manne – ongeveer seshonderd man – gereedgemaak en uit Keïla weggetrek. Hulle het toe bly rondbeweeg. Aan Saul is berig dat Dawid ontvlug het uit Keïla. Hy het toe sy veldtog gestaak.
Dawid in die woestyn van Sif
14 Dawid het in die woestyn, in die bergskuilings, gebly. Daarna het hy in die berggebied van die woestyn van Sif gaan bly. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie. 15Dawid het besef dat Saul uitgetrek het om sy lewe te neem.
Terwyl Dawid in Goresa was, in die woestyn van Sif, 16 het Jonatan, Saul se seun, gereedgemaak en na Dawid in Goresa gegaan. Hy het hom in die Naam van God bemoedig 17 en vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want Saul, my pa, sal jou nie in die hande kry nie. Jy is die een wat koning sal word oor Israel, en ek self sal tweede in bevel wees. Selfs my pa, Saul, weet dat dit so is.” 18 Nadat hulle twee voor die Here 'n ooreenkoms gesluit het, het Dawid in Goresa gebly, en Jonatan het na sy huis teruggegaan.
19 Sifiete het na Saul in Gibea opgegaan en gesê: “Hou Dawid hom nie daar by ons skuil in die bergskuilings by Goresa, op die heuwel van Hagila suid van Jesimon nie? 20As u, o koning, dan nou graag wil afkom na ons, kom gerus af! Dit sal ons verantwoordelikheid wees om hom in die hand van die koning oor te lewer.”
21 Saul het gesê: “Mag julle deur die Here geseën word, omdat julle medelye met my het. 22Gaan tref verdere voorbereidings. Maak seker en bekyk sy plek – waar sy spore is, wie hom daar gesien het. Want hulle sê vir my hy is baie geslepe. 23Gaan kyk, en maak seker van al die plekke waar hy wegkruip, en kom dan terug na my toe met betroubare inligting. Ek sal dan met julle saamgaan, en as hy wel in die landstreek is, sal ek hom opspoor tussen al die familiegroepe van Juda.” 24Hulle het toe gereedgemaak en voor Saul uit na Sif gegaan.
Dawid en sy manne was in die woestyn van Maon, in die Araba, suid van Jesimon. 25Saul en sy manne het hom toe gaan soek. Dawid is daaroor ingelig, en hy het na die rotsskuiling afgetrek en in die woestyn van Maon gebly. Toe Saul dit hoor, het hy Dawid in die woestyn van Maon agtervolg.
26 Saul het al langs die een kant van die berg getrek, en Dawid en sy manne al langs die ander kant van die berg. Dawid het haastig op die vlug geslaan om van Saul af weg te kom, maar Saul en sy manne was besig om Dawid en sy manne te omsingel om hulle gevange te neem. 27'n Boodskapper het egter by Saul aangekom en gesê: “Maak tog gou en kom, want die Filistyne het 'n aanval geloods op die land!”
28Saul het Dawid toe nie verder agtervolg nie en die Filistyne tegemoetgetrek. Daarom noem hulle daardie plek Sela-Hammaglekot.

Currently Selected:

1 Samuel 23: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in