YouVersion Logo
Search Icon

1 Konings 9

9
Tweede verskyning van die Here aan Salomo
1Pas nadat Salomo klaar was met die bou van die huis van die Here en die koninklike paleis, met alles wat hy beplan het, met alles wat hy graag wou doen, 2het die Here 'n tweede keer aan Salomo verskyn, net soos Hy aan hom verskyn het by Gibeon.
3Die Here het vir hom gesê: “Ek het jou gebed, jou smeekbede wat jy pleitend voor My uitgespreek het, gehoor. Ek het hierdie •tempel wat jy gebou het, geheilig deur my Naam vir altyd daar te vestig. My oë en my hart sal altyd daar wees. 4 En jy, as jy voor My leef soos jou vader Dawid geleef het, met 'n eerlike hart en in opregtheid, deur op te tree volgens alles wat Ek jou beveel, en my vaste voorskrifte en beslissings nakom, 5 sal Ek jou koninklike troon oor Israel vir altyd laat standhou, soos Ek jou vader Dawid beloof het deur te sê, ‘Daar sal vir jou nooit iemand ontbreek op die troon van Israel nie.’
6 “As julle wel van My afvallig word, julle of julle nageslag, en nie meer my gebooie, my vaste voorskrifte wat Ek aan julle voorgehou het, nakom nie, maar ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding buig, 7sal Ek Israel uitroei van die grond af wat Ek hulle gegee het, en die tempel wat Ek geheilig het vir my Naam, sal Ek uit my teenwoordigheid verwyder. Dan sal Israel 'n spreuk en 'n spotnaam word onder al die volke, 8en hierdie tempel sal 'n puinhoop word. Elkeen wat daar verbygaan, sal verslae wees en fluit en vra, ‘Waarom het die Here so iets gedoen aan hierdie land en aan hierdie tempel?’ 9Dan sal hulle antwoord, ‘Omdat hulle die Here hulle God, wat hulle voorouers uit Egipteland uitgelei het, verlaat en ander gode aangehang het, in aanbidding voor hulle gebuig en hulle gedien het – dit is waarom die Here al hierdie onheil oor hulle gebring het.’ ”
Salomo se geskenk aan Hiram
10Aan die einde van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue, die huis van die Here en die koninklike paleis, gebou het, 11 gee koning Salomo toe vir Hiram twintig dorpe in die landstreek Galilea. Hiram, die koning van Tirus, het immers vir Salomo bygestaan met sederhout en sipreshout en goud, soveel as wat hy wou hê. 12Hiram het uit Tirus vertrek om die dorpe te besigtig wat Salomo vir hom gegee het, maar in sy oë was dit nie goed genoeg nie. 13Hy het gesê: “Wat is hierdie dorpe wat jy vir my gegee het, my broer?” Hy het dit die gebied van Kabul genoem; dit is vandag nog so. 14Hiram het immers vir die koning 'n honderd-en-twintig kikkar goud gestuur.
Salomo se bouwerk
15Dít was die doel met die verpligte diens waartoe koning Salomo mense opgeroep het: om die huis van die Here te bou, asook sy eie paleis, die terrasse, die stadsmuur van Jerusalem, Gasor, Megiddo en Geser. 16Die farao, die koning van Egipte, het voorheen opgetrek en Geser ingeneem. Hy het dit afgebrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee. 17 Salomo het Geser herbou, ook Bet-Goron-Onder, 18Baälat en Tamar in die woestyn van die land, 19asook al die voorraadstede wat aan Salomo behoort het, die stede vir die strydwaens en die stede vir die perde, ja, wat Salomo ook al graag wou bou in Jerusalem en in die Libanon, in die hele gebied waaroor hy regeer het.
20 Al die mense wat oorgebly het van die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, wat nie deel was van die Israeliete nie – 21dit is nou hulle nageslag wat ná hulle oorgebly het in die land, en wat die Israeliete nie met die banvloek kon tref nie – het Salomo opgeroep vir verpligte dienswerk, dit is vandag nog so. 22Maar van die Israeliete het Salomo niemand onderwerp aan slawediens nie, want hulle was krygsmanne, sy dienaars, bevelvoerders, adjudante en die •aanvoerders van sy strydwamag en ruitery. 23 Hulle was ook die hoofopsigters wat in beheer was van Salomo se bouwerk – vyfhonderd-en-vyftig man wat bevel gevoer het oor die mense wat die werk moes doen.
24Eers nadat die dogter van die farao uit die •Stad van Dawid opgegaan het na haar paleis wat Salomo vir haar gebou het, het hy die terrasse herbou.
25Salomo het drie keer per jaar •brandoffers en •maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het, en daarmee saam het hy wierook gebrand op die altaar wat voor die Here was. Hy het ook die tempel in stand gehou.
Salomo se vloot
26Koning Salomo het 'n vloot opgebou by Es-jon-Geber wat by Elat is, aan die kus van die Rietsee in die gebied van Edom. 27Saam met Salomo se dienaars, het Hiram sy dienaars, skeepslui wat die see geken het, aan die vloot beskikbaar gestel. 28 Hulle het na Ofir gegaan en van daar af goud gebring, vierhonderd-en-twintig kikkar en dit na koning Salomo geneem.

Currently Selected:

1 Konings 9: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in