YouVersion Logo
Search Icon

1 Konings 11

11
Salomo se ontrou
1 Koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad. Saam met die dogter van die farao was daar Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese en Hetitiese vroue, 2 vroue uit die nasies van wie die Here vir die Israeliete gesê het: “Julle mag met hulle nie omgaan nie, en hulle mag met julle nie omgaan nie. Hulle sal beslis julle harte verlei om hulle gode te volg.” Salomo was juis aan hierdie gode verknog. 3Hy het sewehonderd vroue van koninklike stand en driehonderd byvroue gehad. Sy vroue het sy hart verlei. 4Teen die tyd dat Salomo oud was, het sy vroue sy hart verlei om ander gode te volg, en was sy hart nie meer volkome by die Here sy God, soos wat die hart van sy vader Dawid was nie. 5Salomo het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die verfoeilike god van die Ammoniete, gevolg. 6Salomo het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie die Here met volharding gevolg soos sy vader Dawid nie. 7 Salomo het toe 'n •offerhoogte vir die verfoeilike god van Moab gebou op die berg wat oos van Jerusalem lê, en ook vir •Moleg, die verfoeilike god van die Ammoniete. 8So het hy gemaak vir al sy uitlandse vroue, wat gewoonlik reukwerk gebrand en offers geslag het vir hulle gode.
9Die Here was toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die Here, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het, 10 en hom juis oor hierdie saak beveel het om nie ander gode te volg nie. Hy het egter nie nagekom wat die Here beveel het nie. 11Toe sê die Here vir Salomo: “Omdat jy hiervan bewus was, en jy nie my verbond en my vaste voorskrifte wat Ek jou beveel het, nagekom het nie, sal Ek beslis die koningskap van jou afskeur en dit vir jou dienaar gee. 12In jou leeftyd sal Ek dit egter nie doen nie, ter wille van jou vader Dawid. Uit jou seun se hand sal ek dit wegskeur. 13Die hele koninkryk sal Ek egter nie wegskeur nie. Een stam sal Ek vir jou seun gee, ter wille van Dawid, my dienskneg, en ter wille van Jerusalem, wat Ek gekies het. ”
Salomo se teenstanders
14Daarna het die Here vir Hadad, die Edomiet, as teenstander van Salomo laat opstaan. Hy was uit die koninklike geslag in Edom. 15 Toe Dawid Edom verslaan het, het Joab, die bevelvoerder van die leër, terwyl hy opgetrek het om die gesneuweldes te begrawe, elke manlike persoon in Edom neergevel. 16Ja, ses maande lank het Joab en die hele Israel daar gebly, totdat hy elke manlike persoon in Edom afgemaai het. 17Hadad het egter gevlug, hy en Edomitiese manne, van sy vader se amptenare wat saam met hom was. Hulle wou na Egipte gaan. Hadad was nog 'n jong seun. 18Hulle het uit Midian vertrek en Paran bereik. Hulle het toe manne uit Paran met hulle saamgeneem en in Egipte aangekom by die farao, die koning van Egipte. Dié het vir hom 'n huis gegee, kosvoorraad aan hom toegesê en ook 'n stuk land vir hom gegee. 19Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy vir hom sy vrou se suster, die suster van Tagpenes, die koningin, as vrou gegee het. 20Die suster van Tagpenes het vir hom sy seun, Genubat, in die wêreld gebring. Tagpenes het hom in die farao se paleis gespeen. Genubat was tussen die farao se seuns in die paleis van die farao. 21Maar toe Hadad in Egipte hoor dat Dawid by sy voorouers gaan rus het, en dat Joab, die bevelvoerder van die leër, gesterf het, sê Hadad vir die farao: “Laat my gaan, sodat ek na my land kan terugkeer.” 22Die farao sê toe vir hom: “Maar wat ontbreek jou dan hier by my dat jy nou skielik na jou land wil terugkeer?” Hy antwoord toe: “Niks nie, maar laat my tog maar gaan.”
23God het vir Salomo nog 'n teenstander laat opstaan – Reson, seun van Eljada, wat gevlug het van sy heer, Hadad-Eser, die koning van Soba. 24Hy het manne om hom vergader en die •aanvoerder van 'n rowerbende geword juis toe Dawid besig was om 'n slagting onder sy mense aan te rig. Hulle het toe na Damaskus gegaan, daar gaan woon en in Damaskus die bewind oorgeneem. 25Hy was 'n teenstander van Israel solank Salomo geleef het, bo en behalwe die kwaad wat Hadad aangerig het. Hy het 'n afsku in Israel gehad en oor Aram regeer.
26Daar was ook Jerobeam, seun van Nebat, 'n dienaar van Salomo, 'n Efraimiet uit Sereda. Die naam van sy moeder, 'n weduwee, was Serua. Maar hy het teen die koning in opstand gekom. 27En dit is die rede waarom hy teen die koning in opstand gekom het: Salomo het die terrasse herbou en die bres in die muur van die stad van sy vader Dawid toegebou. 28Die man Jerobeam was 'n bekwame man. Salomo het gesien dat die jong man iemand is wat 'n taak afhandel. Hy het hom toe aangestel oor al die dwangarbeiders van die huis van Josef. 29Gedurende daardie tyd, toe Jerobeam op 'n keer uit Jerusalem uitgaan, kry Agija, die profeet uit Silo, hom langs die pad. Agija het 'n nuwe mantel aangehad. Die twee van hulle was alleen in die veld. 30Agija gryp toe die nuwe mantel wat om hom was, en skeur dit in twaalf stukke. 31Hy sê toe vir Jerobeam: “Neem vir jou tien stukke, want so sê die Here, die God van Israel, ‘Kyk, Ek gaan die koningskap uit die hand van Salomo skeur, en tien stamme aan jou gee. 32Maar die een stam sal syne wees, ter wille van my dienskneg Dawid en ter wille van Jerusalem, die stad wat Ek gekies het uit al die stamme van Israel. 33 Dit is omdat hulle My verlaat het en in aanbidding buig voor Astarte, die godin van die Sidoniërs en voor Kemos, die god van Moab, en voor Milkom, die god van die Ammoniete. Hulle het nie op my paaie gebly deur te doen wat reg is in my oë, en my vaste voorskrifte en bepalings uit te voer soos Salomo se vader Dawid nie. 34Ek sal nie die hele koninkryk uit sy hand neem nie, maar hom as leier aanstel solank hy leef, ter wille van Dawid, my dienskneg, wat Ek gekies het, hy wat my wette en vaste voorskrifte nagekom het. 35 Maar Ek sal die koninkryk uit die hand van sy seun neem en dit, die tien stamme, aan jou gee. 36Aan sy seun sal Ek een stam gee, sodat daar altyd 'n lamp vir Dawid, my dienskneg, voor My sal wees in Jerusalem, die stad wat Ek vir My gekies het om my Naam daar te vestig. 37Maar jou sal Ek neem, en jy sal as koning heers oor alles wat jy begeer – jy sal koning wees oor Israel. 38As jy dan luister na alles wat Ek jou beveel, my paaie volg en doen wat reg is in my oë deur my vaste voorskrifte en gebooie na te kom, soos my dienskneg Dawid gedoen het, sal Ek met jou wees en vir jou 'n bestendige huis bou, soos ek dit vir Dawid gebou het. Ek sal Israel vir jou gee. 39Ek sal die nageslag van Dawid verneder as gevolg hiervan. Maar dit sal nie vir altyd wees nie.’ ”
40Salomo het probeer om Jerobeam dood te maak, maar Jerobeam het gereedgemaak en na Egipte gevlug, na Sisak, die koning van Egipte. Hy was in Egipte tot met die dood van Salomo.
Salomo se dood
41 Die verdere geskiedenis van Salomo, alles wat hy gedoen het en sy wysheid, is dit nie opgeteken in die •boekrol van die Geskiedenis van Salomo nie? 42 Die tydperk wat Salomo in Jerusalem as koning geheers het oor die hele Israel, was veertig jaar. 43Salomo het by sy voorouers gaan rus en is begrawe in die Stad van Dawid, sy vader. Sy seun Rehabeam het in sy plek koning geword.

Currently Selected:

1 Konings 11: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in