YouVersion Logo
Search Icon

1 Johannes 3

3
1Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie. 2Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. 3En elkeen wat hierdie vaste hoop op Hom het, hou homself rein, net soos Hy rein is. 4Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid. 5Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem, en in Hom is daar geen sonde nie. 6Elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie; elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien, en Hom nie leer ken nie.
7Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie doen wat reg is, is regverdig, soos Hy regverdig is. 8Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die •Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig. 9Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is. 10Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie. Dieselfde geld vir iemand wat nie sy broer liefhet nie.
Liefde in plaas van haat
11 Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Dat ons mekaar moet liefhê – 12nie soos Kain, wat uit die Bose was en sy broer vermoor het nie. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy dade sleg was, en dié van sy broer regverdig.
13Moenie verbaas wees, broers, as die wêreld julle haat nie. 14Ons weet dat ons uit die dood oorgegaan het na die lewe, omdat ons ons broers liefhet. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. 15Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe blywend in hom het nie. 16Hieraan ken ons die liefde: dat Hy vir ons sy lewe afgelê het. Ook ons behoort ons lewe vir ons broers af te lê. 17 Hoe bly die liefde van God in iemand wat genoeg aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar sy hart nogtans vir hom toesluit?
18 Kinders, ons moenie net met woorde, met die tong, liefhê nie, maar met die daad, in waarheid. 19En hieraan sal ons weet dat ons uit die waarheid kom, en met 'n geruste gewete voor God kan staan: 20Wanneer ons gewete ons veroordeel, God is groter as ons gewete en Hy weet alles. 21Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, kan ons met vrymoedigheid voor God staan. 22En wat ons ook al vra, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie onderhou, en doen wat vir Hom aangenaam is. 23En dit is sy gebod: Dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus •Christus, moet glo, en mekaar moet liefhê volgens die gebod wat Hy aan ons gegee het. 24En wie sy gebooie onderhou, bly in Hom, en Hy in hulle. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: deur die Gees wat Hy aan ons gegee het.

Currently Selected:

1 Johannes 3: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy