YouVersion Logo
Search Icon

Sagaria 12

12
Die Here sê wat Hy sal doen met die ander volke
1Die Here het gepraat. Die Here het oor Israel gepraat. Dit is die Here wat die hemel en die aarde gemaak het, en Hy het die gees van die mens gemaak soos dit is.
Die Here sê: 2“Ek sal Jerusalem nou maak soos 'n beker wyn. Al die volke rondom Israel sal daarvan drink en hulle sal val soos dronk mense. Die mense van Juda sal ook swaarkry wanneer die vyande Jerusalem aanval van al die kante.
3“Dit is wat sal gebeur: Daardie dag sal Ek Jerusalem soos 'n groot klip laat word vir al die volke. Elkeen wat die klip wil optel, sal baie seerkry. Al die volke van die aarde sal probeer om oorlog te maak teen Jerusalem, 4maar daardie dag sal Ek die perde laat skrik. Die manne wat op die perde ry, sal nie weet wat om te doen nie. Ek sal die mense van Juda beskerm, maar Ek sal die ander volke se perde blind laat word. 5Dan sal die leiers van Juda dink: Die mense van Jerusalem kan so goed oorlog maak omdat die Here hulle help, die Here wat oor alles regeer.
6“Daardie dag sal Ek dit so laat gebeur dat die leiers van Juda soos vuur onder hout is, of soos vuur tussen droë koring-gerwe. Hulle sal die ander volke rondom hulle doodmaak, en die mense van Jerusalem sal bly waar hulle was. 7Ek sal die mense van Juda eerste red. Ek sal dit doen, want dan sal die koning van die nageslag van Dawid en die mense van Jerusalem nie dink hulle is beter as die mense van Juda nie.
8“Daardie dag sal Ek die mense beskerm wat in Jerusalem woon. Die swakste mens in Jerusalem sal soos koning Dawid wees, en die koning sal wees soos 'n engel uit die hemel. Dit sal lyk of die Engel van die Here voor hulle loop.
9“So sal Ek daardie dag begin om al die volke dood te maak wat altyd kom oorlog maak teen Jerusalem. 10Maar Ek sal die nageslag van koning Dawid en die mense van Jerusalem laat jammer word oor wat hulle gedoen het. Hulle sal na My toe opkyk en bid. Hulle sal huil en treur oor die man wat hulle doodgesteek het met 'n spies. Hulle sal oor hom treur en huil soos iemand wat treur oor sy enigste kind wat dood is. Hulle sal huil oor hom soos iemand wat huil oor sy oudste kind wat dood is.
11“Daardie dag sal die mense in Jerusalem so baie treur soos die mense in die Megiddo-vallei treur oor die afgod Hadad-Rimmon. 12Al die mense in die land sal treur. Elke familie sal treur, al die mans saam, en al die vroue saam. Die nageslag van Dawid sal treur, ook die nageslag van Natan, 13die nageslag van Levi, die nageslag van Simeï, 14en al die ander families sal saam treur.”

Currently Selected:

Sagaria 12: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy