YouVersion Logo
Search Icon

Numeri 25

25
Die Israeliete begin afgode dien in Sittim
1Terwyl die Israeliete by die stad Sittim gewoon het, het hulle begin om seks te hê met die Moabitiese meisies. 2Die meisies het die Israeliete uitgenooi na die offers vir hulle gode, en die Israeliete het saam met hulle geëet en gebuig vir die gode van die Moabitiese meisies. 3Die Here het kwaad geword vir die Israeliete toe hulle vir Baäl-Peor begin dien, 4en Hy het vir Moses gesê: “Jy moet al die leiers van die mense vat en jy moet hulle voor die tempel-tent in die son ophang, dan sal Ek weer goed word vir die Israeliete.”
5Moses het vir die regters van Israel gesê: “Elkeen van julle moet sy eie manne doodmaak wat vir Baäl-Peor begin dien het.”
Pinehas doen versoening vir die volk
6Daar het een van die Israelitiese mans gekom en hy het 'n Midianitiese vrou saamgebring na sy familie toe. Moses en die hele volk het dit gesien en hulle het gestaan en huil by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. 7Toe Pinehas seun van Eleasar seun van die priester Aäron sien wat die man doen, het hy opgestaan tussen die ander Israeliete en hy het 'n spies in sy hand geneem. 8Hy het die man gevolg tot by die vroue se tent. Hy het die spies deur altwee gesteek, deur die Israelitiese man en deur die maag van die vrou. Daarna het die Here opgehou om die Israeliete te straf, hulle het nie meer gesterf nie. 9Maar daar was 24 000 Israeliete wat gesterf het. 10Die Here het vir Moses gesê: 11“Pinehas seun van Eleasar seun van die priester Aäron het daardie man en vrou doodgemaak, nou is Ek nie meer kwaad vir die Israeliete nie. Ek was kwaad omdat hulle ontrou was, en Pinehas was ook kwaad daaroor, soos Ek. Dit is nou nie meer nodig dat Ek self kwaad bly en hulle almal doodmaak omdat hulle ontrou was nie. 12Daarom moet jy vir Pinehas sê dat Ek 'n verbond maak met hom, en dit sal goed gaan met hom. 13Pinehas het kwaad geword omdat die Israeliete ontrou was en hy het versoening gedoen vir hulle. Daarom maak Ek met hom hierdie verbond: Hy en sy nageslag sal altyd priesters wees.”
Die Midianiete is vyande van die Israeliete
14Simri was die Israelitiese man wat saam met die Midianitiese vrou gesterf het. Pinehas het hulle doodgemaak. Simri was 'n familiehoof in die Simeon-stam en hy was die seun van Salu. 15Die Midianitiese vrou wat gesterf het, was Kosbi dogter van Sur. Haar pa was 'n stamhoof van die Midianiete. 16Die Here het vir Moses gesê: 17“Julle moet onthou die Midianiete is julle vyande. Julle moet hulle doodmaak, 18want hulle het julle vyande geword en hulle het julle verlei om vir Baäl-Peor te dien en toe Kosbi, die Midianitiese vrou, die Israelitiese man verlei het. Kosbi was die dogter van 'n leier van die Midianiete. Pinehas het haar doodgemaak op dieselfde dag toe baie Israeliete gesterf het omdat hulle vir Baäl-Peor gedien het.”

Currently Selected:

Numeri 25: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy