YouVersion Logo
Search Icon

Levitikus 7

7
Die skuld-offer
1Die Here het vir Moses gesê: “Dit is wat die priesters met die skuld-offer moet doen, die skuld-offer is hoog-gewyd: 2Hulle moet die dier wat die skuld-offer moet wees, slag op dieselfde plek waar hulle die diere vir die brand-offer slag. 3Die priester moet al die vet van die dier offer, die stertvet en die vet wat oor die binnegoed is. 4Hy moet ook die twee niere offer, en die vet wat aan die niere is by die kruis, en ook die punt van die lewer wat hy saam met die niere uitsny. 5Die priester moet dit op die altaar verbrand. Dit is 'n vuur-offer vir die Here, dit is 'n skuld-offer. 6'n Man of 'n seun van die priesters se familie mag die vleis van die skuld-offer eet. Hulle moet dit eet op 'n gewyde plek, dit is hoog-gewyd. 7Hulle moet dieselfde doen met die skuld-offer soos met die sonde-offer. Die priester wat versoening doen, kry dit.
8“Die priester wat iemand se brand-offer offer, mag die vel kry van die dier wat hy ge-offer het. 9Elke koring-offer wat iemand in 'n oond bak of gereedmaak in 'n pan of op 'n bakplaat, behoort aan die priester wat dit ge-offer het. 10Elke ander koring-offer, die koring-offer wat hulle met olyf-olie gemeng het, en die koring-offer wat droog is, behoort aan die priesters van die nageslag van Aäron, enige een van hulle kan dit kry.”
Die ete-offer
11“En dit is hoe iemand vir die Here 'n ete-offer moet bring: 12As hy offer om vir die Here dankie te sê, dan moet hy saam met die dank-offer ook ongesuurde rondebrood van meel offer. Hy moet dit meng met olyf-olie, ongesuurde roosterkoek waarop hy olyf-olie gesmeer het, en rondebrood van die beste meel wat hy gemeng het met olyf-olie. 13Saam met die dank-offer, sy ete-offer, moet hy ook 'n offer bring van rondebrood wat hy met suurdeeg gebak het. 14Hy moet 'n deel van alles wat hy offer, vir die Here present gee. Die priester wat die bloed van die ete-offers sprinkel, moet dit kry. 15Die persoon wat die offer bring en sy mense moet die vleis vir die dank-offer, die ete-offer, op-eet op die dag wanneer hy dit bring. Daar mag niks oorbly tot die volgende dag nie. 16As hy offer omdat hy 'n gelofte gemaak het of omdat hy self besluit het om 'n offer te bring, dan eet hulle die vleis op die dag wanneer hy die offer bring, maar as daar vleis oorbly, dan mag hulle dit die volgende dag eet. 17As daar dan nog vleis oorbly tot die derde dag, dan moet hulle dit verbrand. 18As iemand op die derde dag van die vleis eet, dan sal die Here nie die offer aanvaar nie. Dit sal wees soos wanneer die persoon nie 'n offer gebring het nie. Die Here sal dit haat, en Hy sal die persoon straf wat die vleis eet. 19Niemand mag vleis eet wat geraak het aan iets wat onrein is nie, hulle moet die vleis verbrand. Iemand wat rein is, mag vleis eet wat rein is. 20As iemand onrein is en hy eet saam by die offer-ete, dan moet julle hom afsny van sy volk. 21Iemand raak miskien aan iets wat onrein is, dit is miskien 'n mens of 'n dier wat onrein is, of iets anders wat die Here haat. As die persoon dan van die vleis eet wat aan die Here behoort, die vleis van die ete-offer, dan moet julle hom afsny van sy volk.”
Die Israeliete mag nie vet of bloed eet nie
22Die Here het vir Moses gesê: 23“Jy moet vir die Israeliete sê: Julle mag nooit vet van 'n bees of 'n skaap of 'n bok eet nie. 24Wanneer 'n dier gevrek het, of wanneer 'n wilde dier dit doodgemaak het, dan mag julle die vet gebruik vir julle werk, maar julle mag glad nie die vet eet nie. 25Ja, julle moet enige iemand afsny van sy volk wanneer hy die vet eet van 'n dier wat iemand vir die Here op die altaar ge-offer het.
26“Julle mag ook nooit bloed eet nie, oral waar julle woon, nie 'n voël se bloed nie en ook nie 'n dier se bloed nie. 27Julle moet enige iemand wat bloed eet, afsny van sy volk.”
Die dele van die ete-offers wat die priesters moet kry
28Die Here het vir Moses gesê: 29“Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer iemand vir die Here 'n ete-offer bring, dan moet hy 'n deel van die vleis vir die Here offer. 30Hy moet self die vet en die bors van die dier vir die Here gee. Die bors moet 'n beweeg-offer vir die Here wees. 31Die priester moet die vet op die altaar verbrand, en Aäron en sy seuns moet die bors kry. 32Julle moet die regter-boud van die ete-offer ook vir die priesters present gee. 33Die priester wat die bloed en die vet van die ete-offer verbrand, moet die regter-boud kry, 34want Ek het die bors van die beweeg-offer en die boud geneem van die Israeliete en Ek het dit vir die priester Aäron en sy seuns gegee. Die boud is 'n present, dit is 'n deel van die ete-offers, en die Israeliete moet dit altyd gee. 35Dit is die dele wat Aäron en sy seuns moet kry van die vuur-offers van die Here. Hulle moet dit kry van die dag toe hulle gewy is om priesters van die Here te wees. 36Toe die Here die priesters gesalf het, het Hy gesê die Israeliete moet hierdie dele vir die priesters gee.
37“Dit is wat moet gebeur met die brand-offer, die koring-offer, die sonde-offer, die skuld-offer, die offer wanneer priesters gewy word, en die ete-offer.”
38Die Here het dit vir Moses gesê op Sinai-berg, in die Sinai-woestyn. Die Here het dit gedoen toe Hy gesê het dat die Israeliete offers vir Hom moet gee.

Currently Selected:

Levitikus 7: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy