YouVersion Logo
Search Icon

Levitikus 5

5
Skuld-offers
1Die Here het vir Moses gesê: “'n Persoon het miskien gesien dat iemand iets verkeerd doen of hy weet miskien daarvan. Of hy het miskien gehoor dat iemand 'n ander persoon vervloek. Hy kan 'n getuie wees, maar hy wil nie vertel wat gebeur het nie. Dan het daardie persoon sonde gedoen, hy is skuldig. 2Of iemand raak miskien aan 'n onrein ding, maar hy weet dit nie, of hy raak aan 'n dooie, onrein, wilde dier of aan 'n mak, dooie dier of 'n klein diertjie. As hy dit doen, dan het hy onrein geword, en hy is skuldig. 3Of iemand raak miskien aan iets wat onrein is, en wat van 'n mens kom. Hy raak aan enige iets wat hom onrein laat word, maar hy weet dit nie. Dan is hy skuldig wanneer hy dit later besef. 4Of iemand dink miskien nie goed wat hy sê nie en hy belowe iets en hy sê die Here is die getuie. Hy belowe iets wat goed is of iets wat sleg is, mense doen dit partymaal wanneer hulle nie goed dink nie. Die persoon weet nie dat hy verkeerd gedoen het nie, maar wanneer hy later besef wat hy gedoen het, dan is hy skuldig. 5Wanneer hy besef dat hy skuldig is omdat hy een van hierdie dinge gedoen het, dan moet hy bely dat hy sonde gedoen het 6en hy moet vir die Here 'n skuld-offer bring vir die sonde wat hy gedoen het. Dit moet 'n ooi wees, 'n skaap-ooi of 'n bok-ooi om 'n sonde-offer te wees. Die priester moet vir die persoon versoening doen vir sy sonde. 7As die persoon nie 'n skaap of 'n bok het nie, dan kan hy twee tortelduiwe of twee ander duiwe bring om 'n skuld-offer vir sy sonde te wees, een duif is om 'n sonde-offer te wees en een duif is om 'n brand-offer te wees. 8Hy moet die duiwe na die priester toe bring, en die priester moet eerste die duif offer wat 'n sonde-offer moet wees. Die priester moet die duif se nek omdraai, maar hy moenie die kop aftrek nie. 9Dan moet hy 'n bietjie van die duif se bloed teen die kante van die altaar spat en hy moet die bloed wat oorbly, uitdruk teen die onderkant van die altaar. Dit is die sonde-offer. 10Die priester moet die tweede duif offer soos hy altyd 'n brand-offer offer. Die priester doen so versoening vir die persoon, en die Here sal sy sonde vergewe. 11As die persoon nie duiwe kan koop nie, dan moet hy een tiende van 'n efa van die beste meel bring om 'n sonde-offer te wees vir die sonde wat hy gedoen het. Hy moenie olie op die meel gooi nie en hy moenie wierook bo-op sit nie, want dit is 'n sonde-offer. 12Hy moet die meel vir die priester bring. Die priester moet 'n handvol van die meel neem en hy moet dit verbrand op die altaar, saam met die vuur-offer vir die Here. Die handvol meel is die teken van die hele offer. Dit is 'n sonde-offer. 13So doen die priester versoening vir die persoon se sonde, en die Here sal hom vergewe. Die priester mag die meel kry wat oorgebly het, soos by die koring-offer.”
14Die Here het vir Moses gesê: 15“Iemand wou miskien nie verkeerd doen nie, maar hy het verkeerd gedoen met die gewyde dinge van die Here. Dan moet hy 'n gesonde skaap-ram vir die Here gee om 'n skuld-offer te wees. 16Die persoon moet dan die geld betaal vir die sonde wat hy gedoen het teen die gewyde dinge. Hy moet ook nog een vyfde bysit en hy moet dit vir die priester gee. Die priester moet dan vir die persoon versoening doen met die ram wat 'n skuld-offer is, en die Here sal die persoon se sonde vergewe.
17“Iemand weet miskien nie dat hy sonde doen omdat hy ongehoorsaam is aan een van die gebooie nie. As hy ongehoorsaam is, dan is hy skuldig en dan moet hy betaal. 18Hy moet 'n gesonde skaap-ram na die priester toe bring om 'n skuld-offer te wees. Jy moet sê hoe groot die ram moet wees. Die priester moet dan versoening doen vir die sonde wat die persoon gedoen het. Hy het nie geweet dat hy die sonde doen nie maar hy het dit gedoen. Die Here sal hom vergewe.
19“Dit is die skuld-offer, wanneer iemand regtig skuldig is voor die Here.”

Currently Selected:

Levitikus 5: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in