Jeremia 46
46
Die Here praat oor Egipte
1Jeremia het gehoor die Here praat met hom oor die volke.
2Die Here het gepraat oor Egipte, oor die soldate van die farao Neko, koning van Egipte. Die soldate was in Karkemis by die Eufraat-rivier. Koning Nebukadnesar van Babel het die soldate van die farao oorwin in die vierde jaar nadat Jojakim, seun van Josia, koning van Juda geword het. 3Die farao het gesê:
“Julle moet die skilde neem
en kom oorlog maak,
4julle moet die perde inspan
en op die ryperde klim,
julle moet gereedstaan
met helms op julle koppe,
julle moet die spiese skerpmaak
en harnasse aantrek.”
5Die Here sê:
“Ek sien soldate wat skrik en vlug.
Party soldate sterf, ander soldate vlug,
hulle staan nie stil nie,
hulle draai nie om nie,
die vyande is rondom hulle.
6Die vinnige manne
kan nie weghardloop nie,
die soldate kan nie vry wegkom nie,
hulle struikel en val by die Eufraat-rivier
in die noorde.”
7Wie is dit wat oor sy walle stroom
soos die Nyl-rivier,
soos 'n groot rivier met water wat raas?
8Dit is Egipte wat oor sy walle stroom
soos 'n groot rivier met water wat raas.
Egipte sê: “Ek wil oor my walle stroom,
ek wil die aarde toemaak.
Ek wil al die stede verwoes
en die mense doodmaak wat daar woon.
9Perde, julle moet storm,
oorlogkarre, julle moet wild jaag,
die soldate moet uitgaan,
die soldate uit die lande Kus en Put,
die soldate wat elkeen 'n skild vashou,
die soldate uit die land Lud,
die soldate wat elkeen 'n boog
vashou en styftrek.”
10Maar daardie dag behoort
aan die Here,
die Here wat oor alles regeer,
dit is die dag wanneer Hy
sy vyande wil straf.
Die vyande sal baie soldate
doodmaak,
die bloed sal vloei,
want dit sal 'n offer wees
in die land in die noorde,
by die Eufraat-rivier,
'n offer vir die Here,
die Here wat oor alles regeer.
11Egipte, jy moet na Gilead gaan
en jy moet balsem gaan haal,
al jou eie medisyne het nie
gehelp nie,
jy het nie gesond geword nie.
12Die volke op die hele aarde
het gehoor
toe jy die oorlog verloor
en toe jy skree van die pyn,
want jou soldate het oor mekaar geval
en hulle het saam bly lê.
13Die profeet Jeremia het gehoor die Here praat met hom. Dit was in die tyd toe koning Nebukadnesar van Babel gekom het om oorlog te maak teen Egipte. 14Die Here het gesê:
“Julle moet dit gaan vertel in Egipte,
julle moet dit sê vir die mense
in die stad Migdol,
julle moet dit sê vir die mense
in die stede Nof en Tagpanges,
julle moet sê: ‘Julle soldate moet regstaan
en gereed wees,
want die vyande maak die mense oral dood.’
15En hoekom vlug julle soldate?
Hulle het nie aangehou veg nie,
want die Here het hulle omgestoot.
16Hulle val oor mekaar en hulle sê:
‘Jy moet opstaan, ons moet teruggaan
na ons mense toe,
na die plekke waar ons gebore is,
weg van die swaarde van die vyande
wat so baie van ons doodmaak.’
17“Hulle het vir die farao, die koning van Egipte, 'n nuwe naam gegee. Die nuwe naam was: Die man wat gespog het, maar wat nie daar was toe hy oorlog moes maak nie.”
18Die Koning praat.
Sy Naam is die Here wat oor alles regeer.
Hy sê: “So seker soos Ek lewe,
die vyande wat kom, is sterk,
so sterk soos Tabor-berg wat tussen die berge is,
soos Karmel-berg by die see.
19Mense van Egipte, julle moet
al julle goed vasbind,
die vyande sal julle vang en wegvat.
Hulle sal die stad Nof verwoes,
daar sal nie meer mense woon nie.
20Egipte is soos 'n mooi jong vers-kalf,
maar daar kom 'n blindevlieg uit die noorde.
21Egipte het soldate gehuur,
en hulle was soos vet kalwers,
maar hulle het ook omgedraai en gevlug,
nie een soldaat het bly staan nie.
Die dag het gekom, en hulle het bang geword,
die tyd het gekom, die Here het hulle gestraf.
22Egipte sal vlug, soos 'n slang
wat blaas en wegseil
wanneer die houtkappers in die bos kom.
Die soldate van Babel kom om oorlog te maak,
hulle kom soos houtkappers
23wat die bome in die groot bos van Egipte
met hulle byle afkap.
Want daar is meer soldate as sprinkane,
niemand kan hulle tel nie.
24Egipte sal die oorlog ver verloor,
die volk uit die noorde sal hulle oorwin.”
25Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê:
“Ek sal nou vir Amon, die god van No, straf. Ek sal ook die farao straf, en sy gode en sy konings, die farao en almal wat dink hy kan hulle help. 26Ek gee hulle vir die vyande wat hulle wil doodmaak, vir koning Nebukadnesar van Babel en vir sy soldate. Maar daarna sal die mense van Egipte weer in hulle land woon, soos lank gelede.”
Dit het die Here gesê.
Die nageslag van Jakob sal terugkom
(Ook Jer 30:11-12)
27“ En julle, my dienaars, nageslag van Jakob,
julle moenie bang wees nie.
Mense van Israel, julle moenie skrik nie,
want Ek sal julle red daar ver waar julle is.
Ek sal julle nageslag red uit die land
waar hulle gevangenes is.
Die nageslag van Jakob sal terugkom
en hulle sal veilig wees,
en daar sal niks wees wat hulle pla nie,
hulle sal vir niemand bang wees nie.
28“Die Here sê:
“Julle, my dienaars, nageslag van Jakob,
julle moenie bang wees nie, want Ek is by julle.
Ek het julle weggejaag na ander volke toe.
Ek sal daardie volke laat verdwyn,
maar Ek sal júlle nie laat verdwyn nie.
Maar Ek sal julle straf, Ek moet dit doen,
Ek kan nie sê julle is onskuldige nie.”
Currently Selected:
Jeremia 46: ABA
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.