YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 26

26
Die Here belowe om vir Isak die land en 'n groot nageslag te gee
1Daar was weer hongersnood in die land, soos dit was in die tyd toe Abraham gelewe het. Isak het na Abimelek toe gegaan. Abimelek was die koning van die Filistyne in die land Gerar.
2Die Here het aan Isak verskyn en vir hom gesê: “Moenie verder gaan na Egipte nie. Jy moet woon in die land wat Ek vir jou sal sê. 3Jy moet in hierdie land woon en 'n vreemdeling wees. Ek sal by jou wees en Ek sal jou seën. Ek sal die hele land vir jou en jou nageslag gee. Ek sal doen wat Ek vir jou pa Abraham belowe het. 4Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sterre in die lug, en Ek sal vir jou nageslag hierdie hele land gee. Al die volke van die aarde sal My vra om hulle ook te seën soos Ek jou nageslag sal seën. 5Ek sal dit doen omdat Abraham na My geluister het en gedoen het wat Ek gesê het. Hy was gehoorsaam aan My.”
Isak en Abimelek
6Isak het toe in die land Gerar gebly. 7Die mans van daardie plek het vrae gevra oor sy vrou Rebekka, en hy het gesê: “Sy is my suster.”
Hy wou nie sê dat Rebekka sy vrou is nie. Hy was bang dat hulle hom sal doodmaak en dat hulle sy vrou sal vat, want sy was baie mooi. 8Isak het lank daar gewoon. Toe koning Abimelek eendag by die venster uitkyk, sien hy hoe Isak sy vrou Rebekka in sy arms vashou en soen.
9Toe roep Abimelek vir Isak en hy sê vir hom: “Ek sien Rebekka is jou vrou. Hoekom het jy gesê sy is jou suster?”
Isak het vir hom gesê: “Ek het gedink julle sal my doodmaak as ek sê sy is my vrou.”
10Abimelek sê toe: “Wat het jy aan ons gedoen? As een van ons mans by jou vrou geslaap het, dan het ons sonde gedoen, en dan was dit jou skuld.”
11Abimelek het vir al sy mense gesê: “Julle mag nie aan hierdie man of sy vrou raak nie. Die een wat dit doen, sal sterf. Dit is seker!”
12Isak het koring gesaai in daardie land en hy het daardie jaar 100 maal meer koring gekry as wat hy gesaai het. Die Here het hom geseën, 13en hy het 'n baie ryk man geword. 14Hy het baie skape en bokke gehad, ook baie beeste en baie slawe. Hy het baie goed gehad, en die Filistyne het jaloers geword. 15Die slawe van Isak se pa Abraham het voorheen putte daar gegrawe, en die Filistyne het al die putte vol grond gegooi.
16Abimelek het ook nog vir Isak gesê: “Jy moet weggaan van ons, want jy het baie ryker as ons geword.”
17Isak het toe weggegaan en hy het gaan woon by die Gerar-riviertjie.
18Isak het al die putte oopgemaak wat Abraham gegrawe het en wat die Filistyne toegegooi het. Abraham het name gegee vir die putte, en Isak het weer dieselfde name vir die putte gegee. Abraham was toe al dood.
19Isak se slawe het 'n put gegrawe in 'n vallei en hulle het baie water gekry. 20Die skaapwagters van Gerar het gestry met Isak se skaapwagters. Hulle het gesê: “Dit is ons water!”
Isak noem toe die put “Stryery,” omdat hulle daar met sy skaapwagters gestry het.
21Isak se skaapwagters het nog 'n put gegrawe, maar die skaapwagters van Gerar het nog altyd gekla. Toe noem Isak die put “Klagte.”
22Isak het verder getrek en hy het nog 'n put gegrawe. Die skaapwagters het nie gestry oor hierdie put nie. Hy noem die put toe “Oop Plek,” en hy sê: “Nou het die Here vir ons genoeg plek gegee. Dit sal nou met ons goed gaan in hierdie land.”
23Daarna het Isak na die stad Berseba gegaan. 24Daardie nag het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek sal jou seën en Ek sal jou nageslag baie maak. Ek sal dit doen omdat Ek lief was vir my dienaar Abraham.”
25Isak het daar 'n altaar gebou. Hy het die Here aanbid. Isak het sy tent daar opgeslaan, en sy slawe het 'n put gegrawe.
26Toe kom Abimelek uit Gerar na Isak toe. Abimelek se raadgewer Agussat, en Pikol, die hoof van sy leër, was saam met hom.
27Isak sê toe vir hulle: “Hoekom kom julle na my toe? Ek weet julle haat my. Julle het my weggestuur van julle.”
28Hulle sê toe vir Isak: “Ons het duidelik gesien dat die Here by jou is en dat Hy jou seën. Toe het ons gedink daar moet 'n ooreenkoms wees tussen ons. 29Jy moet belowe dat jy nie slegte dinge sal doen aan ons nie. Ons het ook nie slegte dinge aan jou gedoen nie. Ek was net goed vir jou en ek laat jou in vrede gaan. Almal kan sien dat die Here jou seën.”
30Isak het toe vir hulle 'n groot ete gegee, en hulle het geëet en gedrink. 31Die volgende oggend vroeg het hulle 'n ooreenkoms gemaak. Isak het hulle laat gaan, en hulle het in vrede weggegaan.
32Daardie dag het Isak se slawe na hom toe gekom en hulle het vir hom vertel van nog 'n put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry.”
33Hy het die put toe Berseba genoem. Dit is vandag nog ook die stad se naam.
Esau trou met twee vroue
34Toe Esau 40 jaar oud was, het hy getrou met twee vroue. Die een vrou was Jehudit, die dogter van Beëri, en die ander vrou was Basemat, die dogter van Elon. Altwee vroue was Hetiete. 35Isak en Rebekka was baie ongelukkig oor hierdie twee vroue van Esau.

Currently Selected:

Genesis 26: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy