YouVersion Logo
Search Icon

OPENBARING 2

2
Aan die gemeente in Efese wat sy eerste liefde versaak het
1Skryf aan die voorganger#2:1, 8, 12, 18 Of boodskapper. Grondteks engel. van die gemeente in Efese: Só sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe kandelare rondstap:
2Ek ken jou handel en wandel. Ek het ook jou harde werk en volharding raakgesien, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie. Jy het ook navraag gedoen oor dié wat sê dat hulle apostels is, maar dit nie is nie. Jy het toe uitgevind dat hulle eintlik leuenaars is. 3Verder volhard jy en het jy ter wille van My baie verdra sonder om moeg te word.
4Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak#2:4 Of dat jy jou liefde, die belangrikste saak, laat ophou het. het.
5Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het en kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het. Anders kom Ek na jou toe en sal Ek jou kandelaar van sy staanplek af verwyder, as jy nie tot inkeer kom nie.
6Maar daar is tog iets wat jy bly handhaaf het: Jy haat wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook haat.
7Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.
Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek laat eet van die boom van die lewe wat in die paradys van God staan.
Aan die gemeente in Smirna wat steeds geestelik ryk is
8Skryf aan die voorganger#2:1, 8, 12, 18 Of boodskapper. Grondteks engel. van die gemeente in Smirna: Só sê Hy wat die Eerste en die Laaste is, wat dood was, en weer lewe:
9Ek ken jou swaarkry en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die leuentaal van dié wat sê dat hulle Jode is en dit nie regtig is nie, maar eintlik deel is van die sinagoge van Satan.
10Hou op om bang te wees vir wat jy nog gaan ly. Kyk, die duiwel gaan sommige uit julle geledere in die tronk sit om julle regtig te toets. Julle sal ook swaarkry, vir tien dae lank. Wees net getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die kroon van die lewe gee.
11Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.
Elkeen wat aanhou oorwin, sal nié deur die tweede dood getref word nie.
Aan die gemeente in Pergamum wat steeds lojaal en getrou bly
12Skryf aan die voorganger#2:1, 8, 12, 18 Of boodskapper. Grondteks engel. van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het:
13Ek weet goed waar jy woon, waar die troon van Satan is. Tog het jy lojaal aan My gebly en nie die vertroue in My afgesweer nie, veral gedurende die tyd toe Antipas, my betroubare getuie, daar by julle waar Satan woon, doodgemaak is.
14Maar Ek het ’n paar klagtes teen jou: Jy verdra mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Dit is hy wat Balak beïnvloed het om ’n struikelblok in die pad van die Israeliete te plaas, naamlik om te eet van die afgodsoffervleis en om seksuele sondes te pleeg. 15Net so is daar in jou geledere ook aanhangers van die leer van die Nikolaïete wat ook só optree. 16Kom dan tot inkeer; anders kom Ek baie gou na jou toe en sal Ek teen hulle oorlog maak met die skerp swaard van my mond.
17Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.
Aan elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek van die weggesteekte manna gee, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe naam op gegraveer wat niemand anders ken nie behalwe die een wat dit ontvang het.
Aan die gemeente in Tiatira wat moet vashou aan Christus totdat Hy kom
18Skryf aan die voorganger#2:1, 8, 12, 18 Of boodskapper. Grondteks engel. van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God; Hy het oë soos ’n vuurvlam en sy voete is net soos gepoleerde koper:
19Ek ken jou handel en wandel, ook jou liefde, vertroue, bediening en volharding. Ek weet ook dat jou handel en wandel nou selfs nog beter is as voorheen.
20Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy die vrou Isebel laat begaan. Sy noem haarself ’n profetes. Sy onderrig en verlei my diensknegte om seksuele sondes te doen en om afgodsoffervleis te eet. 21Ek het haar ’n bepaalde tyd gegun om tot inkeer te kom, maar sy weier om haar te bekeer van haar seksuele sondes.
22Kyk, Ek pen haar op ’n siekbed vas, en die mense wat saam met haar aan seksuele wanpraktyke deelneem, gee Ek oor aan hewige swaarkry as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23Ek sal haar kinders doodmaak en al die gemeentes sal kennis neem dat dit Ek is wat gedagtes en bedoelings deursoek. Ek sal ook aan julle elkeen gee wat julle volgens julle handel en wandel verdien.
24Vir julle ander in Tiatira wat nie deel het aan daardie leer nie en nie van die diepere dinge van Satan, soos hulle dit noem, ’n studie gemaak het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verantwoordelikheid nie, 25behalwe om vas te hou aan wat julle het totdat Ek kom.
26Aan die een wat aanhou oorwin en enduit my werke praktyk maak,
sal Ek bevoegdheid gee oor die nasies.
27Hy sal die nasies met ’n ysterstaf beheer
en hulle soos kleipotte
stukkend breek.
28Net soos Ek dit van my Vader ontvang het, sal Ek vir hom die môrester gee.
29Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Currently Selected:

OPENBARING 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in