YouVersion Logo
Search Icon

LEVITIKUS 13

13
Aansteeklike velsiektes
1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“As iemand ’n swelsel, ’n uitslag of ’n seerplek op sy vel het wat ontwikkel in ’n aansteeklike velsiekte, moet hy na die priester Aäron of een van sy seuns gebring word. 3Die priester sal dan die aangetaste deel van die vel van die persoon ondersoek. As die hare op die aangetaste deel wit geword het en dit lyk na iets dieper as die vel, dan is dit ’n aansteeklike velsiekte en moet die priester die persoon onrein verklaar.
4“As die aangetaste deel van die vel wit is, maar dit lyk nie na iets dieper as die vel nie, en as die hare op die plek nie wit geword het nie, sal die priester die aangetaste persoon vir sewe dae onder kwarantyn plaas. 5Op die sewende dag sal die priester weer ’n ondersoek doen. As die aangetaste deel nie verander of verder versprei het nie, sal die priester die persoon vir nog sewe dae onder kwarantyn plaas. 6Die priester sal die vel dan weer op die sewende dag ondersoek. As die aangetaste deel beter geword en nie versprei het nie, sal die priester die persoon rein verklaar. Dit was dan net ’n tydelike uitslag. As die persoon sy klere gewas het, sal hy gereken word as vry van enige siekte. 7As die uitslag aanhou versprei ná die ondersoek van die priester, moet die besmette persoon terugkeer om weer ondersoek te word. 8As die priester opmerk dat die uitslag versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar, want dan is dit ’n aansteeklike velsiekte.
9“Enigiemand wat ’n aansteeklike velsiekte ontwikkel, moet na die priester toe gaan vir ’n ondersoek. 10As die priester sien dat iemand se hare wit word en ’n rou seer ontwikkel in die aangetaste deel, 11is dit duidelik ’n aansteeklike velsiekte en moet die priester so ’n persoon onrein verklaar. In sulke gevalle hoef die persoon nie onder kwarantyn geplaas te word vir verdere observasie nie, want dit is duidelik dat die vel onrein is as gevolg van die siekte.
12“In gevalle waar die priester, na ’n ondersoek, ontdek dat ’n uitslag oor iemand se hele lyf versprei het en sy liggaam van kop tot tone bedek, 13moet die priester so iemand rein verklaar omdat die vel heeltemal wit geword het. 14Wanneer daar rou sere verskyn, moet die besmette persoon onrein verklaar word. 15Die priester moet die verklaring maak sodra hy ’n rou seer sien, want rou sere is ’n aanduiding van ’n aansteeklike velsiekte. 16As die rou sere gesond word en wit word soos die res van die vel, moet die persoon teruggaan na die priester toe. 17As dit na nog ’n ondersoek blyk dat die aangetaste gedeeltes inderdaad heeltemal wit geword het, sal die priester die persoon rein verklaar.
18“As iemand ’n sweer aan sy vel het wat gesond begin word, 19maar daar bly ’n wit swelsel of ’n rooierige wit kol oor, moet die persoon na die priester gaan om ondersoek te word. 20As die priester bevind dat die siekte meer as net veldiep is, en as die hare op die aangetaste deel wit geword het, moet die priester so ’n persoon onrein verklaar. Dit is dan ’n aansteeklike velsiekte wat ontstaan het uit die sweer. 21As die priester sien daar is geen wit hare op die aangetaste deel nie, en as dit nie lyk na iets meer as net veldiep nie en dat die ontsteking aan die opklaar is, moet die priester die persoon vir sewe dae onder kwarantyn sit. 22As die aangetaste deel gedurende daardie tyd verder op die vel versprei, moet die priester die persoon onrein verklaar, want dan is dit ’n aansteeklike velsiekte. 23As die plek nie erger word en nie versprei nie, is dit net die litteken van die sweer en sal die priester die persoon rein verklaar.
24“As iemand ’n brandwond het en die rou area verander van kleur deur óf rooi-wit óf wit te word, 25moet die priester dit ondersoek. As die hare op die aangetaste deel wit word en die probleem lyk na meer as net veldiep, het daar ’n aansteeklike velsiekte ontstaan in die brandwond. Die priester moet dan die persoon onrein verklaar, want dit is duidelik ’n aansteeklike velsiekte. 26As die priester ontdek daar is geen wit hare op die aangetaste deel nie, die seer niks meer as net veldiep is nie, en dat dit besig is om op te klaar, moet die priester die besmette persoon vir sewe dae onder kwarantyn sit. 27As hy hom na sewe dae weer ondersoek en dit blyk dat die aangetaste deel aan die einde van die periode verder op die vel versprei het, moet die priester die persoon onrein verklaar, want dit is duidelik ’n aansteeklike velsiekte. 28As die aangetaste deel nie verander of verder op die vel versprei het nie en aan die opklaar is, is dit net ’n litteken van die brand. Die priester moet so ’n persoon rein verklaar.
29“As enigiemand, of dit nou ’n man of vrou is, ’n seerplek aan die kop of ken het, 30moet die priester die ontsteking ondersoek. As dit lyk na iets meer as net veldiep, en fyn, geel hare word op die aangetaste deel gevind, moet die priester so ’n persoon onrein verklaar. Die ontsteking is ’n aansteeklike velsiekte van die kop of ken. 31As die priester se ondersoek egter wys dat die ontsteking net veldiep is sonder enige swart hare op die aangetaste deel, moet so ’n persoon onder kwarantyn geplaas word vir sewe dae. 32As die aangetaste deel nie versprei het nie, daar nie geel hare verskyn het nie, en as die infeksie nie lyk na iets meer as net veldiep nie, 33moet die besmette persoon alle hare afskeer, behalwe die hare op die aangetaste gedeeltes. Die priester moet dan die persoon vir nog sewe dae onder kwarantyn plaas. 34Hy moet dan die infeksie weer op die sewende dag ondersoek. As dit nie versprei het nie en dit lyk nie na iets meer as net veldiep nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Nadat sy klere gewas is, sal hy rein wees. 35As die infeksie begin versprei nadat die persoon rein verklaar is, 36moet die priester nog ’n ondersoek doen. As die infeksie versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar, selfs sonder om te kyk of daar geel hare is. 37As dit lyk of die infeksie nie meer versprei nie en swart hare begin groei op die aangetaste deel, het die infeksie gesond geword. Die priester sal dan die besmette persoon rein verklaar.
38“As enigiemand, ’n man of vrou, wit vlekke op die vel het, 39moet die priester die aangetaste deel ondersoek. As die plek net bleek-wit lyk, is dit ’n skadelose veluitslag en is die persoon rein.
40“As ’n man sy hare verloor en hy word bles, is hy nog steeds rein. 41As hy sy hare op sy voorkop verloor, het hy net ’n bles voorkop, maar is hy steeds rein. 42As daar egter ’n rooi-wit ontsteking op die voor- of agterkop ontstaan, is dit ’n aansteeklike velsiekte. 43Die priester moet hom ondersoek en as hy ’n swelsel ontdek rondom die rooi-wit seer, 44het die man ’n aansteeklike velsiekte en is hy onrein. Die priester moet hom dan as gevolg van die ontsteking onrein verklaar.
45“Mense wat aan enige aansteeklike velsiekte ly, moet hulle klere skeur en hulle hare laat los hang. Soos wat hulle van plek tot plek gaan, moet hulle hulle monde bedek en uitroep: ‘Onrein! Onrein!’ 46So lank as wat die siekte aanhou, is hulle onrein en moet hulle buite die kamp in afsondering leef.”
Die behandeling van besmette klere
47“As ’n skimmel op ’n kledingstuk verskyn, 48of op wol- of linnemateriaal, of op die vel van ’n dier of enigiets wat van leer gemaak is, 49en die skimmel het ’n groenerige en rooierige kleur aan die klere, of die dierevel, of die materiaal of die leer, is dit besmet met ’n aansteeklike soort skimmel. Dit moet na die priester toe geneem word om ondersoek te word. 50Ná die ondersoek van die priester moet hy dit vir sewe dae lank eenkant wegbêre. 51Op die sewende dag moet die priester dit weer ondersoek. As die besmette deel verder versprei het, is die materiaal duidelik besmet met ’n aansteeklike skimmel en is dit onrein. 52Die priester moet die linne of wolklere of die stuk leer verbrand, want dit is besmet met ’n aansteeklike skimmel. Dit moet heeltemal verbrand word.
53“As die priester dit egter weer ondersoek en die besmette deel het nie versprei in die klere, die materiaal of die leer nie, 54sal die priester aanbeveel dat dit gewas moet word en vir nog sewe dae eenkant gehou moet word. 55Dan moet die priester dit weer ondersoek. As hy sien dat die besmette deel nie verander het nadat dit gewas is nie, selfs al het dit nie verander nie, is dit nog onrein. Dit moet heeltemal verbrand word of dit nou aan die binne- of aan die buitekant besmet is. 56As die priester sien dat die besmette deel ná die was verbleik het, moet hy die kol van die klere, die materiaal of die leer uitsny. 57As die kol weer na ’n ruk verskyn, is die skimmel duidelik aan die versprei en moet die besmette artikel verbrand word. 58As die kol verdwyn nadat dit gewas is, moet dit weer gewas word en dan sal dit rein wees.
59“Dit is die instruksie wat geld vir wol- of linneklere of materiaal of iets wat met leer gemaak is en wat met aansteeklike skimmel besmet is. Dit is hoe die priester sal bepaal of hierdie dinge rein of onrein is.”

Currently Selected:

LEVITIKUS 13: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy