YouVersion Logo
Search Icon

JOSUA 13

13
Land wat nog ingeneem moes word
1Josua het oud geword. Die Here het vir hom gesê: “Jy het aangestap in jare en baie van die land is nog oor om in besit geneem te word. 2Die deel van die land wat oorbly, is al die gebiede van die Filistyne en van Gesur. 3Die gebied van die spruit van Sigor af teen die grens met Egipte tot by die Ekrongebied in die noorde is Kanaänitiese gebied. Dit is die gebiede van die vyf Filistynse regeerders van Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron. Daar is nog die gebied van die Awwiete in die suide.
4“In die noorde is daar die hele Kanaänitiese gebied van Teman af, Meara, wat aan die Sidoniërs behoort, noord tot by Afek aan die Amoritiese grens. 5Dan is daar die Gebalgebied en die hele Libanongebergte na die oostekant, van Baäl-Gad suid van Hermonberg af tot by Lebo-Hamat. 6Al die bewoners van die Libanonberg af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs, sal Ek tussen die Israeliete uit verdryf. Sorg dat hierdie gebiede as erfgrond na Israel toe kom, soos Ek jou beveel het. 7Verdeel nou hierdie grond tussen die nege stamme en die halwe Manassestam.”
Die dele oos van die Jordaan
8Ruben en Gad se stamme het reeds saam met die ander helfte van die Manassestam hulle grond gekry. Dit het gebeur toe Moses dit vir hulle gegee het terwyl hulle aan die oorkant, oos van die Jordaan, was. Moses, die dienaar van die Here, het die volgende gebiede vir hulle gegee: 9Van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, die stad teen die rivier, die hele vlakte van Madeba tot by Dibon, 10al die stede van die Amoritiese koning Sihon wat vanuit Gesbon regeer het, tot teen die Ammonitiese grens, 11Gilead met die gebiede van Gesur en Maäka, die hele Hermonberg en die hele Basan tot by Salka 12en die hele koninkryk van Og in Basan wat vanuit Astarot en Edreï regeer het. Og was een van die laaste Refaïete. Moses het hulle verslaan en uitgedryf. 13Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka uitgedryf nie. Hulle bly nou nog saam met die Israeliete.
14Aan die stam van Levi het Moses nie hulle eie grond gegee nie. Hulle erfenis is die offers wat vir die Here, die God van Israel, gebring word. Dit is soos Hy hulle beloof het.
Ruben se grond
15Moses het vir die stam van Ruben die volgende gebiede gegee: 16Van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, van die stad teen die rivier, die hele vlakte tot by Madeba, 17en tot by Gesbon met al sy ander stede op die plato: Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon, 18Jahas, Kedemot, Mefaät, 19Kirjatajim, Sibma, Seret-Sagar op die berg bo die plato, 20Bet-Peor, Asdot-Pisga#13:20 Of teen die hange van die Pisga. en Bet-Jesimot, 21al die stede op die plato, die hele koninkryk van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon regeer het. Moses het vir Sihon verslaan en ook sy bondgenote, die Midianitiese leiers Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, wat saam met hom in die land gewoon het. 22Die Israeliete het ook die waarsêer Bileam, die seun van Beor, doodgemaak. 23Die grond van die stam Ruben het aan die Jordaan gegrens. Hierdie dorpe en hulle buiteposte is vir die afstammelinge van Ruben gegee as hulle erfgrond.
Gad se grond
24Vir die afstammelinge van die stam Gad het Moses die volgende gebiede toegeken: 25Die gebied van Jaser, al die dorpe in Gilead, die helfte van die Ammoniete se gebied tot by Aroër net wes van Rabba, 26van Gesbon af tot by Ramat-Mispe en Betonim, en van Maganajim af tot by Lo-Dabar, 27Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safon in die vallei, die oorblywende deel van die koninkryk van koning Sihon van Gesbon, die Jordaanstreek tot so ver noord as die See van Galilea#13:27 Of Gennesaretmeer., oos van die Jordaan. 28Saam met die stede en hulle dorpies was dit dan die erfgrond van die families van die stam Gad.
Grond van die halwe Manassestam
29Aan die nageslag van die halwe Manassestam het Moses die volgende gebiede gegee: 30Van Maganajim af die hele Basan, die hele koninkryk van koning Og van Basan, al 60 die tentdorpe van Jaïr in Basan, 31die helfte van Gilead, en Astarot en Edreï, die koningstede van Og in Basan. Dit is die dele wat die nakomelinge van Makir, die een seun van Manasse, ontvang het.
32Dit is dan die gebiede wat Moses toegeken het toe hulle in die Moabsvlakte aan die oorkant van die Jordaan, oos van Jerigo, was.
Levi se erfenis
33Aan die stam Levi het Moses nie enige grond toegeken nie. Die Here, die God van Israel, was hulle erfdeel, soos Hy vir hulle beloof het.

Currently Selected:

JOSUA 13: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy