YouVersion Logo
Search Icon

JOB 30

30
Job: Ek ervaar net ellende
1“Maar nou word ek bespot
deur jong manne
wie se pa’s te sleg was
om saam met honde
my skape op te pas.
2Hulle was in elk geval
vir my niks werd nie –
’n klomp nuttelose skurke!
3Uitgeteer van honger
dwaal hulle verlate
in die woestyn en die wildernis.
4Hulle maak blare bymekaar
by die bosse
en eet die wortels van besembosse.
5Hulle is weggejaag
uit die samelewing.
Mense skree op hulle
soos op diewe.
6Daarom leef hulle nou
in skrikwekkende klowe,
in rotsskeure en grotte.
7Hulle klink soos diere
waar hulle
tussen die wilde struike lewe
en saam skuiling soek
tussen die bossies.
8Hulle is naamlose dwase,
uitgeworpenes van die samelewing.
9“Dit is nou hulle
wat my spot
met hulle walglike liedjies!
Hulle tart my!
10Hulle kyk op my neer.
Hulle kom nie naby my nie,
behalwe om in my gesig te spoeg.
11God het my platgeslaan.
Hy het my verneder.
En nou doen mense dieselfde
met my.
12Die spul val my aan.
Hulle loop my voete
onder my uit.
Hulle lê strikke in my pad.
13Hulle versper my pad
en doen alles
om my ellende te vererger
terwyl hulle weet
dat ek niemand het
om my te help nie.
14Hulle storm uit alle rigtings
op my af,
waar ek geval het, storm hulle oor my.
15Ek lewe in angs
en het geen selfrespek oor nie.
My hoop dat ek gered kan word,
het soos mis voor die son
verdwyn.
16“Dit voel of die lewe
uit my loop.
Hartseer oorweldig my elke dag.
17In die nag hou die pyn
my wakker
soos dit vreet aan my bene.
18God het my met geweld
aan my klere gegryp.
Hy gryp my aan my jas se kraag.
19Hy gooi my in die modder.
Ek het soos stof en as geword.
20“Ek roep na U, o God,
maar U antwoord nie.
Ek staan voor U,
maar U sien my
nie raak nie.
21U was genadeloos teenoor my.
U vervolg my
met u groot krag.
22U tel my op
en laat die wind
my wegwaai.
U gooi my rond in die storm.
23Ek weet U stuur my
na die dood,
die bestemming
van alles wat leef.
24“Sekerlik sal niemand
die hand lê
op ’n stukkende mens
wat in sy ellende
om hulp roep nie!
25Het ek nie gehuil
oor mense
wat swaarkry nie?
Was ek nie hartseer
oor arm mense
se lyding nie?
26Daarom het ek medelye
verwag.
Maar in plaas van goed,
het kwaad my getref.
Ek het gewag vir die lig,
maar dit het donker gebly.
27Ek is ontsteld en rusteloos.
My lewe bestaan
uit swaarkry.
28Ek leef in somberheid
waar die son nie meer
vir my skyn nie.
Ek staan op die plein
en roep om hulp.
29Die jakkalse is my broers
en ek lewe saam met
volstruise.
30My vel het swart geword,
ek brand van die koors.
31My harp speel ’n treurlied.
My fluit begelei mense
wat huil.”

Currently Selected:

JOB 30: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy