YouVersion Logo
Search Icon

HABAKUK 2

2
1Ek gaan in my uitkyktoring staan,
my plek inneem
op my wagpos in die muur.
Ek wag om te sien
wat die Here vir my gaan sê,
wat sy antwoord
op my klagte sal wees.
Die Here antwoord ’n tweede keer
2Toe het die Here geantwoord:
“Skryf my antwoord, die visioen,
in groot, duidelike letters
op kleitablette
sodat iemand wat verbyhardloop
dit kan lees.
3Die dinge wat Ek beplan,
gaan nie nou dadelik gebeur nie.
Stadig maar seker breek die tyd aan
wanneer die visioen waar sal word.
Wag geduldig,
al voel dit of dit stadig gaan.
Wees seker dit gaan gebeur,
dit sal nie onnodig talm nie.
4“Kyk na die hoogmoediges!
Hulle vertrou op hulleself
en hulle lewe is boos.
Die regverdiges, daarenteen,
sal deur hulle geloof lewe.
5Voorspoed verlei mense,
en hoogmoedige mense
kom nooit tot rus nie.
Hulle is magshonger
met monde wat groot oop is
soos die dood.
Tog stel niks hulle ooit tevrede nie.
In hulle gulsigheid
versamel hulle baie nasies en volke
as gevangenes.
6“Die tyd kom
wanneer hulle krygsgevangenes
hulle sal koggel en verneder
deur te sê:
‘Diewe! Einde ten laaste
het die gereg julle ingehaal!
Nou sal julle kry wat julle verdien
vir julle verdrukking en uitbuiting!’
7Julle skuldeisers
sal skielik in woede reageer.
Hulle sal op julle toesak
terwyl julle bewend en hulpeloos is.
Hulle sal alles buit wat julle besit.
8Julle het baie nasies beroof,
nou sal hulle julle beroof.
Julle moordenaars!
Julle het baie landelike gebiede
en ook die stede
met geweld geteister.
9“Wee julle wat deur onreg ryk word!
Julle dink dat rykdom
vir julle sekuriteit sal waarborg,
dat julle families
buite bereik van gevaar sal wees.
10Julle het julleself
in skande gebring
deur die moorde
wat julle gepleeg het.
Daardeur het julle
julle eie lewens prysgegee.
11Die stene in die mure van julle huise
skree uit oor wat julle gedoen het.
Die klag teen julle weerklink
teen die balke in die plafon.
12“Wee julle wat stede bou
met geld wat julle bekom het
deur moord en onreg!
13Het die Here, die Almagtige,
nie beloof
dat die nasies se rykdom
tot as sal verbrand nie?
Hulle werk so hard,
maar dit is alles tevergeefs!
14Die tyd sal aanbreek
dat die hele aarde vol sal word
met die kennis van die Here
se magtige teenwoordigheid
net soos water die see oordek.
15“Wee julle wat julle bure
dronk maak!
Julle meng drank en maak hulle dronk
om na hulle naaktheid te kyk.
16Binnekort sal dit julle beurt wees
om in skande te kom!
Kom, drink en word ontbloot!
Drink uit die beker van oordeel.
So sal julle eer in skande verander.
17Julle kap die bome van Libanon af,
nou sal julle afgekap word!
Julle verskrik die wilde diere
deur hulle in strikke te vang.
Nou sal verskrikking julle tref
omdat julle oral in die stede
moord en geweld gepleeg het!
18“Wat is die nut
om mensgemaakte afgode
te aanbid?
Dit is dwaas om julle vertroue te stel
op iets wat julle met julle eie hande
gemaak het.
Dit is ’n afgod wat nie kan praat nie.
Julle is dwase om dié leuens te glo!
19Wee julle wat vir ’n stuk hout sê:
‘Word wakker! Kom red ons!’
Kan julle by ’n lewelose klip iets leer?
Kan ’n stom klip sê
wat om te doen?
Al is dit oorgetrek met goud en silwer
is dit heeltemal sonder lewe.
20Die Here is in sy heilige tempel;
laat almal op aarde
stil wees in sy teenwoordigheid!”

Currently Selected:

HABAKUK 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy