ESEGIËL 39
39
Slagting van Gog se soldate
1“Mensekind, profeteer teen Gog. Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Ek is jou vyand, Gog, grootkoning van Mesek en Tubal. 2Ek draai teen jou en dryf jou na die berge van Israel. Ek bring jou uit die verre noorde, na die berge van Israel. 3Ek slaan jou boog uit jou linkerhand en jou pyle uit jou regterhand. 4Jy en jou baie soldate sal op die berge doodgemaak word. Ek maak julle kos vir die aasvoëls en wilde diere. 5Jy sal op die oop veld val, sê die oppermagtige Here. 6Ek gooi vuur op Magog en al sy bondgenote wat veilig langs die kus bly. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.
7“So sal die mense van Israel My leer ken as die Heilige. Ek sal nie dat hulle My verder ontheilig nie. En die nasies sal ook besef dat Ek die Here is, die Heilige van Israel. 8Die oordeelsdag kom nader, sê die oppermagtige Here. Dit sal gebeur net soos Ek gesê het.
9“Dan sal die mense van die dorpe van Israel uitgaan en met jou soldate se wapens vuur maak – met groot en klein skilde, boë en pyle, steekspiese en werpspiese. Hulle sal sewe jaar lank daarmee kan vuur maak. 10Dit sal nie nodig wees om in die veld hout bymekaar te maak of in die bos te kap nie. Hulle sal met jou wapens vuur maak. Hulle sal dié plunder wat hulle geplunder het en buit vat van dié wat by hulle buit wou vat, sê die oppermagtige Here.
11“Ek maak ’n begraafplaas vir Gog in Israel, in Reisigersvallei, oos van die Dooie See#39:11 Grondteks see.. Die begraafplaas sal reisigers se pad versper. Hulle sal die plek Vallei van Gog se menigtes noem.
12“Die mense van Israel sal sewe maande nodig hê om die land van al die lyke skoon te maak. 13Elkeen in Israel sal help. Dit gaan ’n wonderlike oorwinning vir Israel wees daardie dag wanneer Ek vereer word, sê die oppermagtige Here.
14“Aan die einde van sewe maande sal mense aangestel word om die land te deursoek vir lyke en om hulle te begrawe sodat die land skoongemaak kan word. 15Waar geraamtes gekry word, sal hulle ’n teken oprig sodat die ondernemers dit kan sien en die lyke in die Vallei van Gog se menigtes kan begrawe. 16(Daar sal selfs ’n stad wees met die naam ‘Menigtes’.) So sal die land uiteindelik skoongemaak word.
17“Mensekind, roep nou al die voëls en wilde diere, sê die oppermagtige Here. Sê vir hulle: Kom bymekaar vir die groot offerfees! Kom van ver en naby na die berge van Israel, kom eet die vleis en drink die bloed! 18Eet die vleis van magtige mense en drink die bloed van prinse asof hulle ramme en lammers, bokke en bulle is, almal vetgevoerde diere van Basan! 19Eet vet vleis tot julle oorversadig is, drink bloed tot julle dronk is. Ek het die offerfees vir julle reggemaak. 20Eet julle versadig aan perde en ruiters, magtige mense en soldate, sê die oppermagtige Here.
21“So sal Ek Myself onder die nasies vereer. En hulle sal sien hoe Ek hulle straf as Ek my hand op hulle lê. 22Van daardie dag af sal die mense van Israel besef dat Ek, die Here, hulle God is. 23Die nasies sal ook weet hoekom Ek Israel in ballingskap weggestuur het. Dit was as straf vir hulle sondes, want hulle was ontrou aan My. Daarom het Ek my rug op hulle gedraai en toegelaat dat hulle vyande hulle vernietig. 24Ek het my gesig weggedraai en hulle gestraf vir hulle besoedelde leefwyse en oortredings.”
Die herstel van God se volk
25“So sê die oppermagtige Here: Ek sal Jakob terugbring uit ballingskap en My ontferm oor die mense van Israel, want Ek gaan die eer van my Naam beskerm. 26Die dag as hulle veilig in hulle land bly en vir niemand hoef bang te wees nie, sal hulle die skande en die ontrouheid vergeet waarmee hulle My behandel het. 27Wanneer Ek hulle huis toe bring uit die lande van hulle vyand, sal Ek vir die nasies wys dat Ek heilig is. 28Dan sal my volk besef dat Ek, die Here, hulle God is. Dis Ek wat hulle in ballingskap weggestuur het en dis Ek wat hulle huis toe bring. Ek laat nie een agterbly nie. 29En Ek sal nooit weer my rug op hulle draai nie, want Ek sal my Gees oor die mense van Israel uitgiet, sê die oppermagtige Here.”
Currently Selected:
ESEGIËL 39: NLV
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011