YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 9

9
Die besoek van die koningin van Skeba
1Toe die koningin van Skeba van Salomo se aansien hoor, het sy Jerusalem toe gekom om hom met moeilike vrae te toets. Sy het gekom met ’n groot gevolg en kamele gelaai met speserye, baie goud en kosbare juwele. Toe sy Salomo ontmoet, het hulle oor alles gepraat wat sy op die hart gehad het. 2Salomo het al haar vrae beantwoord en daar was niks vir hom te moeilik om vir haar te verduidelik nie. 3Toe die koningin van Skeba besef hoe wys Salomo was, en toe sy die tempel sien wat hy gebou het, 4was sy uit die veld geslaan. Sy was ook verbaas oor die kos op sy tafels, die bediening en kleredrag van sy amptenare, die skinkers en hulle kleredrag, en die brandoffers wat Salomo by die tempel van die Here gebring het.
5Sy sê toe vir Salomo: “Alles wat ek in my land van jou prestasies en wysheid gehoor het, is waar! 6Ek kon dit nie glo totdat ek hier aangekom het en dit met my eie oë gesien het nie. Trouens, die helfte daarvan is my nie vertel nie. Jou wysheid is baie meer as wat aan my meegedeel is. 7Hoe bevoorreg is jou mense! Wat ’n voorreg vir jou amptenare om dag na dag hier te wees om te luister na jou wysheid! 8Mag die Here jou God geloof word! Hy verbly Hom in jou en het jou op die troon gesit om namens Hom te regeer. Dis omdat jou God vir Israel so liefhet en wil hê dat hierdie koninkryk vir altyd bestaan dat Hy jou koning gemaak het oor hulle sodat jy met reg en geregtigheid kan regeer.”
9Toe gee sy vir die koning ’n geskenk van meer as vier ton goud en baie kosbare speserye, asook waardevolle juwele. Nooit vantevore was daar speserye van hierdie gehalte soos dié wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie.
10(Toe die bemanning van Hiram en Salomo goud uit Ofir gebring het, het hulle ook ryk vragte van jenewerhout en kosbare juwele saamgebring. 11Die koning het die jenewerhout gebruik om trappe vir die tempel van die Here en die koninklike paleis te maak, en ook om harpe en liere vir die musikante te maak. Daar was nooit vantevore sulke pragtige musiekinstrumente in Juda nie.)
12Koning Salomo het vir die koningin van Skeba gegee wat sy ook al gevra het. Dit was geskenke van groter waarde as wat sy vir hom gebring het. Daarna het sy en haar volgelinge na hulle eie land toe vertrek.
Salomo se rykdom en prag
13Salomo se jaarlikse inkomste was omtrent 23 ton goud. 14Dit het nie die addisionele inkomste ingesluit wat hy van reisigers en handelaars ontvang het nie. Al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs het ook goud en silwer aan Salomo betaal. 15Koning Salomo het 200 groot skilde van bladgoud gemaak. Hy het ongeveer sewe kilogram goud vir elkeen gebruik. 16Hy het ook 300 kleiner skilde van bladgoud gemaak en het ongeveer drie en ’n half kilogram goud vir elkeen gebruik. Die koning het hierdie skilde in die Libanonsbosgebou uitgestal.
17Die koning het ook ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. 18Die troon het ses trappe gehad en die voetbank van goud was aan die troon vasgeheg. Aan albei kante van die troon was daar armleunings met ’n beeld van ’n leeu wat langsaan staan. 19Twaalf beelde van leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.
20Al koning Salomo se drinkbekers was van goud. So ook al die gebruiksartikels in die Libanonsbosgebou. Niks is van silwer gemaak nie omdat dit in Salomo se tyd geen waarde gehad het nie.
21Die koning het ’n handelsvloot gehad wat beman is met matrose wat Hiram gestuur het. Elke drie jaar het hierdie Tarsisvloot teruggekeer, belaai met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane.
22Koning Salomo het al die konings op aarde oortref in rykdom en wysheid. 23Al die konings van die aarde wou hom besoek om die wysheid te hoor wat God vir hom gegee het. 24Jaar na jaar het elkeen wat hom besoek het vir hom geskenke van silwer en goud, klere, wapens, speserye, perde en muile gebring.
25Salomo het 4 000 stalle vir perde en strydwaens gehad en 12 000 perderuiters. Hy het hulle in die strydwadorpe aangehou en ook by die koning in Jerusalem. 26Hy het oor al die konings geheers, vanaf die Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne en die grens van Egipte. 27Silwer was so volop soos klippe in Jerusalem en seders so algemeen soos wildevyebome in die Laeveld. 28Sy perde het hy uit Egipte en baie ander lande ingevoer.
Samevatting van Salomo se bewind
29Die res van die gebeurtenisse tydens Salomo se bewind, van die begin tot die einde, is opgeteken in Die vertellings van die profeet Natan, in Die profesieë van Agija van Silo, en in Die visioene van die siener Jedi oor Jerobeam seun van Nebat. 30Salomo het 40 jaar in Jerusalem oor die hele Israel geheers. 31Toe hy sterf, is hy begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Rehabeam het in sy plek koning geword.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 9: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in