YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 7

7
Die inwyding van die tempel
1Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander offers verbrand. Die heerlikheid van die Here het die tempel gevul. 2Die priesters kon nie die tempel van die Here binnegaan nie as gevolg van die glansryke teenwoordigheid van die Here. 3Toe die hele volk van Israel sien hoe die vuur en die heerlikheid van die Here op die tempel neerdaal, het hulle met die gesig op die grond neergeval en die Here aanbid en geprys:
“Hy is goed!
Sy goedheid duur vir altyd!”
4Die koning en al die mense het toe offerandes aan die Here geoffer. 5Koning Salomo het ’n offerande van 22 000 beeste en 120 000 skape geoffer. So het die koning en die hele volk die tempel van God ingewy. 6Die priesters het hulle aangewese plekke ingeneem, en so ook die Leviete wat gesing het: “Sy goedheid duur vir altyd!” Hulle het die sang begelei met musikale instrumente wat Dawid gemaak het om die Here te prys. Regoor die Leviete het die priesters trompette geblaas terwyl die hele Israel toegekyk het.
7Daarna het Salomo die sentrale deel van die buitenste voorhof voor die Here se tempel gewy sodat hulle brandoffers en die vet van die maaltydoffer daar kon offer. Op die bronsaltaar wat hy gebou het, was daar nie plek vir die brandoffers, graanoffers en offervet nie.
8Sewe dae lank het hulle by daardie geleentheid feesgevier. Daar was groot skares uit al die stamme van Israel. Hulle was van so ver as Lebo-Hamat in die noorde tot by die Egiptespruit in die suide. 9Op die agtste dag het hulle ’n feestelike byeenkoms gereël, want hulle het die wyding van die altaar sewe dae lank gevier. Daarna het hulle vir nog sewe dae die Huttefees gevier. 10Teen die einde van die feesvierings het Salomo die mense huis toe gestuur, op die drie-en-twintigste dag van die sewende maand. Hulle was almal bly en vol vreugde omdat die Here so goed was vir Dawid, Salomo en sy volk Israel.
Die Here antwoord Salomo
11So het Salomo die tempel van die Here, asook die koninklike paleis, voltooi. Hy het alles wat hy beplan het om te doen, suksesvol afgehandel. 12Een nag het die Here aan Salomo verskyn en gesê: “Ek het jou gebed verhoor en het hierdie tempel vir Myself gekies as die plek waar daar offers vir My gebring moet word. 13Soms sal Ek die hemele toesluit sodat daar geen reën val nie, of Ek kan bepaal dat sprinkane julle oeste opvreet, of Ek kan dalk plae onder julle stuur. 14Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land gesond maak. 15Ek sal ’n oog hou oor hierdie plek en luister na elke gebed wat hier opgestuur word, 16want Ek het hierdie tempel gekies en dit afgesonder om vir altyd my woning te wees. My oë en my hart sal altyd daar wees.
17“Wat jou betref: As jy My volg soos jou pa Dawid, doen wat Ek beveel het en al my voorskrifte, gebooie en bepalings gehoorsaam, 18sal Ek toesien dat niemand jou koninklike troon wegneem nie. Dit is dieselfde belofte wat Ek vir jou pa Dawid gegee het toe Ek gesê het: ‘Jy sal nooit sonder ’n opvolger wees wat oor Israel regeer nie.’
19“Maar as julle My verlaat en ongehoorsaam is aan my gebooie en die voorskrifte wat Ek vir julle gegee het, en as julle ander gode dien en hulle aanbid, 20dan sal Ek die volk Israel ontwortel uit hierdie land van My wat Ek vir hulle gegee het. Ek sal hierdie tempel verwerp wat Ek afgesonder het om my Naam te eer. Ek sal dit tot bespotting en minagting onder die volke maak. 21En hoewel hierdie tempel nou indrukwekkend is, sal almal wat verbykom, verskrik wees. Hulle sal vra: ‘Hoekom het die Here sulke verskriklike dinge aan hierdie land en hierdie tempel gedoen?’ 22En die antwoord sal wees: ‘Omdat sy volk die Here, die God van hulle voorouers wat hulle uit Egipte gebring het, laat vaar het en eerder ander gode aangehang, voor hulle gebuig en hulle gedien het. Dit is waarom Hy al hierdie rampe oor hulle gebring het.’”

Currently Selected:

2 KRONIEKE 7: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy