YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 4

4
Toebehore vir die tempel
1Salomo het ook ’n bronsaltaar gemaak. Dit was tien meter lank, tien meter breed, en vyf meter hoog. 2Toe het hy ’n groot waterbak gegiet. Dit was vyf meter in deursnee, twee en ’n half meter hoog, met ’n omtrek van vyftien meter. 3Onderom die rand was daar twee rye beeste in reliëf, twintig beeste per meter. Dit is saam met die waterbak gegiet.
4Die waterbak het gerus op ’n basis van twaalf beelde van beeste wat almal buitentoe kyk. Drie het noord gekyk, drie wes, drie suid en drie oos. Die waterbak het bo-op hulle gerus, met hulle agterkante onder die bak. 5Die rand van die waterbak was ongeveer ’n handbreedte dik en die rand is gevorm soos ’n beker of die kelk van ’n lelie. Dit kon 66 kiloliter water bevat.
6Hy het ook tien waskomme gemaak waarin die offergereedskap gewas kon word, vyf was aan die suidekant en vyf aan die noordekant. Die priesters het hulleself in die waterbak gewas.
7Daarna het Salomo tien goue kandelare gegiet volgens die voorskrifte wat reeds gegee is, en dit in die tempel gesit. Vyf van hulle is teen die suidelike muur neergesit, en vyf teen die noordelike muur.
8Hy het ook tien tafels gemaak en dit in die tempel neergesit. Vyf was teen die suidelike muur en vyf teen die noordelike muur. Daarna het hy 100 goue komme gemaak.
9Salomo het ook ’n binnehof vir die priesters gebou, asook die groot voorhof. Verder het hy deure vir die ingange tot die binneste voorhof gemaak en dit met brons gedek. 10Die waterbak is aan die suidekant naby die suidoostelike hoek van die tempel neergesit.
11Huram het ook die nodige potte, skoppe en komme gemaak.
Eindelik het Huram alles voltooi wat koning Salomo aan hom opgedra het om vir die tempel van God te maak: 12twee pilare, met die komvormige pilaarkrone bo-op die pilare, twee kettings soos ’n krans waarmee die bopunte van die pilare verfraai is, 13400 granate wat aan die kettings aan die kapitele gehang is (twee rye granate vir elke ketting wat om die kapitele en bo-op die pilare gehang is), 14die waentjies vir die waskomme, 15die waterbak en die beeste daaronder, 16die potte, skoppe en vurke, en al die tempelgereedskap. Hiram het al hierdie voorwerpe vir die tempel van die Here van gepoleerde brons gemaak net soos koning Salomo gevra het. 17Die koning het dit in kleivorms in die Jordaanvallei tussen Sukkot en Saretan gegiet. 18Daar is so baie brons gebruik vir die toebehore wat Salomo gemaak het dat die gewig daarvan nie bereken kon word nie.
19So het Salomo al die toebehore vir die tempel van God gemaak: die goue altaar, die tafels vir die offerbrood, 20die kandelare met hulle lampe van suiwer goud wat voor die binneste heiligdom aan die brand gehou moet word, 21die blomkelke, lampe en pithouers, alles van suiwer goud, 22die snuiters, komme vir besprinkeling, skottels en vuurpanne, alles van suiwer goud, die deure vir die toegang tot die binnedeure na die heiligdom en die Allerheiligste en die deure na die voorste heiligdom, alles met goud oorgetrek.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 4: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy