YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 24

24
Joas herstel die tempel
1Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het en hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja uit Berseba. 2So lank as wat Jojada die priester geleef het, het Joas gedoen wat reg was vir die Here. 3Jojada het twee vroue vir Joas gekies. Hy het seuns en dogters gehad.
4Met verloop van tyd het Joas besluit om die tempel van die Here te herstel. 5Hy het die priesters en Leviete opgeroep en die volgende opdrag gegee: “Gaan dadelik na al die dorpe van Juda en samel die vereiste jaarlikse bydrae van die hele Israel in sodat ons die tempel van julle God kan herstel. Moenie versuim nie!” Die Leviete het egter nie dadelik gegaan nie.
6Die koning roep toe vir Jojada die hoëpriester en vra hom: “Hoekom het jy nie geëis dat die Leviete uitgaan en die tempelbelasting in die dorpe van Juda en Jerusalem insamel nie? Moses, die dienaar van die Here, het hierdie belasting gehef op die gemeente van Israel om die tent van die getuienis te onderhou.”
7Die volgelinge van die goddelose Atalia het destyds by die tempel van God ingebreek. Hulle het al die gewyde voorwerpe in die tempel van die Here vir die Baäldiens gebruik. 8Joas het nou opdrag gegee dat ’n kis gemaak word en by die ingang na die tempel van die Here gesit moet word. 9Hy het toe ’n bevel deur die hele Juda en Jerusalem gestuur dat die volk die belasting moes bring wat Moses, dienaar van God, in die woestyn van die Israeliete vereis het. 10Dit het byval gevind by die leiers en die volk. Hulle het met blydskap die geld gebring en die kis daarmee vol gemaak.
11Telkens wanneer die kis vol was, het die Leviete dit na die koning se amptenare gebring. Dan het die hofsekretaris en ’n amptenaar van die hoëpriester die geld getel en die kis weer na die tempel toe teruggebring. Dit het dag na dag gebeur sodat ’n groot bedrag geld op dié wyse ingesamel is.
12Die koning en Jojada het die geld aan die toesighouers oor die konstruksiewerk van die tempel van die Here gegee. Húlle het weer messelaars en skrynwerkers gekry om die tempel van die Here te herstel. Hulle het ook metaalwerkers gehuur. Hulle het voorwerpe van yster en brons gemaak vir die herstelwerk van die tempel van die Here.
13Die manne in bevel van die opknapping het hard gewerk en geleidelik vordering gemaak. Hulle het die tempel van God volgens die oorspronklike planne gerestoureer en dit versterk. 14Toe al die herstelwerk afgehandel was, het hulle die oorblywende bedrag geld teruggebring na die koning en na Jojada. Dit is gebruik om gereedskap vir die tempel van die Here te maak. Dit was werktuie vir die brandoffers, insluitend die bakke en ook goue en silwer gereedskap. So lank as wat Jojada die priester gelewe het, is die brandoffers voortdurend in die tempel van die Here gebring.
15Jojada het tot ’n baie rype ouderdom geleef en het gesterf toe hy 130 jaar oud was. 16Hy is begrawe by die konings in die Dawidstad, want hy het baie goeie dinge in Israel gedoen, vir God en sy tempel.
Jojada se hervormings word omgekeer
17Na Jojada se dood het die leiers van Juda gekom, voor koning Joas gebuig en hom oorreed om na hulle raad te luister. 18Hulle het toe besluit om die tempel van die Here, die God van hulle voorouers, te verlaat. Hulle het eerder die Asjerapale en afgode aanbid. Die toorn van God het weens hierdie sonde teen Juda en Jerusalem ontbrand. 19Die Here het profete gestuur om hulle na Hom terug te bring. Die profete het die mense gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie.
20Toe het die Gees van God op Sagaria seun van Jojada die priester gekom. Hy het voor die volk gesê: “Dit is wat God sê: Hoekom oortree julle die gebooie van die Here? Julle sal nie voorspoedig wees nie. Julle het die Here verlaat, en nou het Hy julle verlaat!”
21Toe het die leiers saamgesweer om Sagaria dood te maak. Op bevel van koning Joas het hulle hom in die voorhof van die tempel gestenig. 22Koning Joas het nie gedink aan die goedheid wat Jojada aan hom bewys het nie, maar sy seun doodgemaak. Sagaria se laaste woorde toe hy sterf, was: “Mag die Here sien wat julle doen en julle straf!”
Die einde van Joas se regering
23Met die wisseling van die jaar het die Aramese leër teen Joas opgetrek. Hulle het Juda en Jerusalem binnegeval en al die leiers van die volk doodgemaak. Daarna het hulle al die buit na hulle koning in Damaskus gestuur. 24Hoewel die Arameërs met min soldate opgetrek het, het die Here hulle gehelp om die baie groter leër van Juda te verslaan. Die volk het die Here die God van hulle voorouers verlaat. Daarom is die oordeel oor Joas voltrek.
25Die Arameërs het teruggetrek en Joas ernstig gewond agtergelaat. Sy eie offisiere het teen hom saamgesweer en hom in sy bed vermoor. Dit was omdat hy die seun van Jojada die priester laat doodmaak het. Hy is begrawe in die Dawidstad, maar nie in die koninklike begraafplaas nie. 26Die moordenaars was Sabad seun van ’n Ammonitiese vrou met die naam Simat, en Josabad, seun van ’n Moabitiese vrou met die naam Somer.
27Die volledige vertelling oor die seuns van Joas, die profesieë oor hom, en die verslag oor die herstel van die tempel van God is geskryf in die Kommentaar op die boek Konings. Toe hy sterf, het sy seun Amasia hom opgevolg.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 24: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in