PSALMS 40:1-13
Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm. Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op 'n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê, 'n loflied vir ons God. Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou! Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel en hom nie wend tot duister magte en tot mense wat hulle met skyngode ophou nie. Here my God, U het baie wonderlike dinge gedoen; U dink altyd aan ons; daar is niemand soos U nie. Ek sou daarvan wou vertel en daaroor praat, maar dit is te veel om op te noem. Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê. Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is. Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.” Met blydskap het ek aan die gemeente vertel U het my verlos. Ek het nie stilgebly nie, Here, U weet dit! Dat U verlos, het ek nie vir myself gehou nie, ek het gepraat oor u trou en u hulp. Oor u goedheid en u trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie. Moet my tog nie uitsluit van u ontferming nie, Here, laat u liefde en trou my voortdurend bewaak, want ramp op ramp het my oorval, my ongeregtighede het my ingehaal; ek weet nie meer waarheen nie. Hulle is meer as die hare op my kop; ek is moedeloos.
PSALMS 40:1-13