SAGARIA 13:7-9
SAGARIA 13:7-9 Bybel vir almal (ABA)
Die Here wat oor alles regeer, sê: “Swaard, jy moet kom, jy moet die skaapwagter doodsteek wat naby My is. Jy moet die skaapwagter doodsteek, dan sal die skape weghardloop van mekaar. Dan sal Ek die lammers ook doodmaak. Die skape is my volk. Twee derdes van die mense in die hele land sal sterf, maar een derde van hulle sal oorbly. En Ek sal hierdie een derde wat oorbly, skoonmaak soos 'n mens silwer en goud in vuur smelt en skoonmaak. Dan sal my volk tot My bid, en Ek sal luister na hulle gebed. Ek sal sê: ‘Hulle is my volk,’ en hulle sal sê: ‘Die Here is ons God.’ ”
SAGARIA 13:7-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ontwaak, o swaard, teen my herder, en teen die man wat my metgesel is! spreek die HERE van die leërskare. Slaan die herder, sodat die skape verstrooi word; en Ek sal my hand weer uitstrek oor die geringes. En in die ganse land, spreek die HERE — twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos 'n mens silwer smelt en hulle toets soos 'n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God!
SAGARIA 13:7-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Kom, swaard, tref die herder in my diens, sê die Here die Almagtige, tref die man wat so na aan My is. Maak dood die herder, dat die skape uitmekaargejaag kan word. Ek sal self optree, ook teen die kleinstes onder hulle. Dwarsoor die land, sê die Here, sal twee derdes van hulle uitgeroei word en omkom. Daar sal net 'n derde van hulle oorbly in die land, en dié derde sal Ek met vuur louter soos silwer gelouter word. Ek sal hulle suiwer soos goud gesuiwer word. Hulle sal My aanroep, en Ek sal hulle gebede verhoor. Ek sal sê: “Hulle is my volk.” En hulle sal sê: “Die Here is ons God.”
SAGARIA 13:7-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Swaard, word wakker teen my herder, en teen die man uit my gemeenskap,” is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. “Vel die herder neer, sodat die kleinvee uitmekaar gejaag word. Ek sal selfs my hand teen die geringes draai. In die hele land sal dit gebeur,” is die uitspraak van die HERE, “twee-derdes sal uitgeroei word, omkom, en 'n derde sal oorbly. En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos 'n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, ‘Hulle is my volk,’ en hulle sal sê, ‘Die HERE is ons God.’ ”
SAGARIA 13:7-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ontwaak, o swaard, teen my herder en teen die man wat my metgesel is, spreek die HERE van die leërskare: slaan die herder, en die skape sal verstrooi word, en Ek sal my hand teen die kleintjies draai. En dit sal gebeur dat in die hele land, spreek die HERE, twee dele daarin uitgeroei sal word en sterwe; maar die derde moet daarin oorbly. En Ek sal die derde deel deur die vuur bring en hulle smelt soos silwer gelouter word, en Ek sal hulle toets soos goud beproef word: hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal na hulle luister: Ek sal sê: Dit is my volk: en hulle sal sê: Die HERE is my God.
SAGARIA 13:7-9 Die Boodskap (DB)
Die Here is magtiger en sterker as alles en almal. Hy sê dat die man wat vir Hom werk en sy volk oppas soos ’n herder skape oppas, met ’n swaard doodgemaak sal word. As hy dood is, sal die skape in verskillende rigtings uitmekaarspat. Die Here sal ook nie die gewone mense spaar nie. Twee derdes van die mense sal uit die land weggeneem word en hulle sal doodgaan. Die ander derde sal in die land agterbly. Die Here sê: “Ek sal hierdie derde van die mense wat in die land agterbly, suiwer maak. Ek sal dit doen soos daar gewoonlik met goud gemaak word. Die goud word in vuur gesmelt en suiwer gemaak. My volk sal deur moeilike omstandighede gaan, maar hulle sal beter mense anderkant uitkom. Hulle sal in gebed met My praat en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê: ‘Hulle is my eie mense, hulle behoort aan My.’ Op hulle beurt sal die mense sê: ‘God is ons Here.’”
SAGARIA 13:7-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Swaard, word wakker teen my skaapwagter, teen die man wat so naby aan My is, sê die HERE, die Almagtige. Tref die skaapwagter sodat die skape verstrooi kan word en Ek teen die lammers kan optree. Twee derdes van die inwoners van die land sal afgesny word en omkom, sê die HERE. Een derde sal oorbly in die land. Ek sal daardie groep deur vuur laat gaan en hulle suiwer, net soos silwer en goud deur vuur gesuiwer word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê: ‘Hulle is my volk,’ en hulle sal sê: ‘Die HERE is ons God.’”