TITUS 1:1-2
TITUS 1:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van Paulus, 'n dienaar van God en 'n apostel van Jesus Christus. Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe.
TITUS 1:1-2 Bybel vir almal (ABA)
Ek, Paulus, is 'n dienaar van God en 'n apostel van Jesus Christus. God het mense gekies om aan Hom te behoort en Hy het my gestuur om daardie mense te help sodat hulle geloof meer kan word, sodat hulle kan weet wat die waarheid is en sodat hulle vir God reg kan dien. Ek is 'n apostel sodat hulle seker kan weet dat God die ewige lewe vir hulle sal gee. God het dit belowe voordat die tyd begin het, en Hy lieg nie.
TITUS 1:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
PAULUS, 'n dienskneg van God en 'n apostel van Jesus Christus, volgens die geloof van die uitverkorenes van God en die kennis van die waarheid wat na die godsaligheid is, in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het
TITUS 1:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Paulus, 'n dienskneg van God en •apostel van Jesus •Christus, ter bevordering van die geloof van die uitverkorenes van God, en hulle kennis van die waarheid, wat ooreenstem met godvresendheid, in die hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, reeds voor alle tye beloof het
TITUS 1:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Paulus, 'n dienskneg van God en 'n apostel van Jesus Christus, volgens die geloof van die uitverkorenes van God en die erkenning van die waarheid wat na die godsaligheid is; In die hoop op die ewige lewe, wat God, wat nie kan lieg nie, beloof het voordat die wêreld begin het
TITUS 1:1-2 Die Boodskap (DB)
Van Paulus. Ek is ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus. God het my aangestel om vir almal wat Hy uitgekies het om sy kinders te wees te vertel hoe om te glo. Ek moet die regte kennis oor die waarheid met hulle deel. Hierdie waarheid verander elkeen wat dit glo in ’n dienaar van God. Dit bring groot sekerheid in hulle harte dat die ewige lewe op hulle wag. Nog lank voordat die wêreld daar was, het God al beloof dat Hy vir almal wat in Hom glo, ’n groot geskenk het: die ewige lewe!
TITUS 1:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierdie brief kom van Paulus, ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus. Ek is gestuur om dié wat God gekies het, tot geloof te lei en om hulle die waarheid te leer wat hulle wys hoe om godvrugtig te lewe. Hierdie waarheid gee aan hulle die vooruitsig op die ewige lewe wat God aan hulle beloof het nog voor die wêreld geskep is – en Hy kan nie lieg nie.