HOOGLIED 4:1-15

HOOGLIED 4:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Hy sê: “My liefste, jy moet luister, jy is mooi, luister, jy is mooi, jou oë is soos duiwe agter jou sluier, jou hare is soos 'n trop bokke wat afkom teen Gilead-berg. Jou tande is soos 'n trop skaap-ooie, skape wat skoon gewas en geskeer is. Elke ooi het tweeling-lammers, en almal het lammers. Jou lippe is soos bloedrooi lint, jou mond is mooi, jou wange is soos stukke granaat agter jou sluier. Jou nek is soos die toring van Dawid met sy klippe in rye, daar hang 1 000 skilde aan die toring, dit is almal skilde van spesiale manne. Jou twee borste is soos twee jong takbokkies, soos die tweeling-lammers van 'n gasel wat tussen die blomme wei. Ek sal na die mirre-berg gaan, na die wierook-heuwel totdat die aandwind waai en die skaduwees verdwyn. My liefste, alles van jou is mooi, daar is niks foute aan jou nie.” Hy sê: “Bruid, kom saam met my van die Libanon-berg, jy moet saam met my kom van die Libanon-berg, jy moet afkom van bo-op die Amana-berg, van bo-op die Senir-berg en die Hermon-berg, weg van die plekke waar die leeus woon, weg van die berge van die luiperds.” Hy sê: “My suster, my bruid, jy het my opgewonde gemaak, jy het my hart vinnig laat klop toe jy net een maal na my gekyk het, net een stukkie van die ketting om jou nek het my opgewonde gemaak. My suster, my bruid, jou liefde is soet, jou liefde is lekkerder as wyn, jou olie ruik lekkerder as al die kruie. My bruid, jou lippe proe soos stroop, daar is heuning en melk onder jou tong, jou klere ruik na die Libanon-berg.” Hy sê: “'n Tuin wat 'n muur rondom het! My suster, my bruid, is soos 'n tuin wat 'n muur rondom het, 'n fontein wat tóé is. Jou arms is soos 'n tuin vol granaatbome saam met baie kosbare kruie, henna en nardus, nardus en saffraan, kalmoes en kaneel, saam met al die wierook-bome, mirre en aalwyn saam met al die beste kruie. Jy is soos 'n fontein in 'n tuin, 'n put met water wat borrel, en strome water van die Libanon-berg.”

HOOGLIED 4:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

HOE mooi is u tog, my vriendin, hoe mooi is u tog, u oë is soos duiwe deur u sluier heen; u hare is soos 'n kudde bokke wat van die gebergte van Gílead afgolf. U tande is soos 'n kudde pas geskeerde skape wat van die drinkplek opkom, wat almal tweelinge het, en geeneen onder hulle is sonder lam nie. U lippe is soos 'n skarlaken band, en u mond is lieflik. U slape is soos 'n granaatskyf deur u sluier heen. U hals is soos die Dawidstoring, gebou met muurkranse waar die duisend skilde in hang, almal skilde van helde. U twee borste is soos twee lammers, tweelinge van 'n gemsbok, wat onder die lelies wei. Totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug, sal ek gaan na die mirreberg en na die wierookheuwel. Alles is mooi aan u, my vriendin, en daar is geen gebrek aan u nie. Saam met my van die Líbanon af, bruid, saam met my van die Líbanon af, o kom! Trek af van die top van Amána, van die top van Senir en van Hermon, van die lêplekke van die leeus, van die berge van die luiperds. U het my hart gesteel, my susterbruid, u het my hart gesteel met een straal van u oë, met een kettinkie van u halssieraad. Hoe skoon is u liefde, my susterbruid, hoeveel beter is u liefde as wyn en die geur van u salf as al die speserye! Heuningstroop drup van u lippe af, bruid, heuning en melk is onder u tong, en die geur van u klere is soos die geur van die Líbanon. My susterbruid is 'n geslote tuin, 'n geslote bron, 'n verseëlde fontein. U spruite is 'n park van granate met kostelike vrugte, henna-blomme met nardus, nardus en saffraan, kalmoes en kaneel, met allerhande wierookstruike, mirre en alewee, met allerhande kostelike speserye. U is 'n fontein van die tuine, 'n put met lewende water wat van die Líbanon afvloei.

HOOGLIED 4:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Jy is mooi, my liefling, jy is mooi, jou oë is duiwe agter jou sluier. Jou hare is soos 'n trop bokke wat teen die Gileadberge afkom. Jou tande is so wit soos 'n ry pasgeskeerde skape wat nou net skoon gewas is, elkeen met 'n tweeling, nie een sonder 'n lam nie. Jou lippe is soos skarlakenrooi lint, jou mond bekoor my. Die versiersels op jou voorkop is soos granaatpitte agter jou sluier. Dié aan jou nek is soos die Dawidstoring wat uit rye klip gebou is; aan hom hang duisend skilde, al die skilde van die helde. Jou twee borste is soos takboklammers, soos die tweeling van 'n ribbok wat tussen die lelies wei. Wanneer die aandwind begin waai en die skaduwees lank word, wil ek na my mirreberg, my wierookheuwel, toe gaan. Alles aan jou is mooi, my liefling, aan jou is niks verkeerd nie. Kom saam met my van die Libanon af, my bruid, kom saam met my van die Libanon af, kom af hier van die top van Amana, van die top van Senir en Hermon af, weg van die leeus se skuilplekke, weg van die luiperds se hoë lêplekke af. “Jy het my hart gesteel, my beminde bruid, jy het my hart gesteel met een kyk van jou oë, met een skakel in die ketting om jou hals. Ek hou van jou liefkosings, my beminde bruid, jou liefkosings is beter as wyn, jou parfuum ruik lekkerder as al die lekkerruik-kruie. Jou lippe proe soos heuningstroop, my bruid, jou tong soos heuning en dikmelk, en jou klere ruik soos die Libanon. “My beminde bruid is 'n tuin wat toegemaak is, 'n tuin met 'n muur om, 'n fontein wat afgekamp is. Jou liggaam is 'n lushof, granaatbome met keurige vrugte, hennastruike saam met nardus, nardus en saffraan, kalmoes en kaneel saam met elke soort lekkerruik-kruie, mirre en aalwyn saam met al die beste lekkerruik-kruie. Daar is 'n fontein in my tuin, 'n put met borrelende water, strome van die Libanon af.”

HOOGLIED 4:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

O, hoe mooi is jy, my liefling, hoe mooi is jy! Jou oë is duiwe agter jou sluier, jou hare 'n trop bokke wat teen die berge van Gilead afstroom. Jou tande is soos 'n kudde pas geskeerde skape wat van die drinkplek af opkom, almal tweelinge, nie een van hulle op sy eie nie. Soos karmosynrooi lint is jou lippe, jou mond is pragtig. Agter jou sluier is jou slape soos 'n oopgebreekte granaat. Jou nek is soos die Dawidstoring wat in kliplae gebou is, waaraan 'n duisend skilde hang, al die rondeskilde van die krygshelde. Jou borste is soos twee jong bokkies, die tweeling van 'n ribbokooi, wat tussen narsings wei. Totdat die dag begin asemhaal en die skaduwees vlug, gaan ek na die mirreberg, na die wierookheuwel. Alles aan jou is mooi, my liefling, jy is heeltemal vlekkeloos. Kom saam met my van die Libanon af, my bruid, saam met my van die Libanon af. Daal af van die kruin van Amana, van die kruin van Senir, van Hermon, van die lêplekke van die leeus, van die berge waar die luiperds hou. Jy het my hart gesteel, my suster, my bruid, jy het my hart gesteel met een kyk van jou oë, met een kettinkie van jou halssnoer. Hoe verruklik is jou liefkosings, my suster, my bruid. Hoeveel beter is jou liefkosings as wyn, die geur van jou reukolie as al die speserye. Jou lippe drup heuning, my bruid, heuning en melk is onder jou tong, jou klere dra die geur van die Libanon. 'n Toegesluite tuin is my suster, my bruid, 'n toegesluite put, 'n verseëlde fontein. Jou bloeisels is 'n boord granate met heerlike vrugte, henna met nardus, nardus en saffraan, kalmoes en kaneel; met elke soort wierookplant, mirre en adelhout; met al die kosbaarste speserye. Jy is 'n fontein vir tuine, 'n put met vars water wat van die Libanon af vloei.

HOOGLIED 4:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Kyk, jy is mooi, my liefling; kyk, jy is mooi; jy het duiwe-oë binne-in jou lokke; jou hare is soos 'n trop bokke wat van die berg Gílead af verskyn. Jou tande is soos 'n trop skape wat selfs geskeer is, wat uit die was opgekom het; waarvan elkeen 'n tweeling baar, en niemand is onvrugbaar onder hulle nie. Jou lippe is soos 'n skarlakenrooi draad, en jou spraak is mooi; jou slape is soos 'n stukkie granaatjie binne-in jou lokke. Jou nek is soos die toring van Dawid wat gebou is vir 'n wapenrusting, waaraan duisend skilde hang, almal skilde van helde. Jou twee borste is soos twee jong gemsbokke wat tweelinge is wat tussen die lelies wei. Totdat die dag aanbreek en die skaduwees wegvlug, sal ek my bring by die mirreberg en by die wierookheuwel. U is almal mooi, my liefling; daar is geen vlek in jou nie. Kom saam met my van die Líbanon af, my huweliksmaat, saam met my van die Líbanon af: kyk van die top van Amana af, van die top van Senir en Hermon, van die leeukuile, van die berge van die luiperds af. U het my hart verheerlik, my suster, my huweliksmaat; jy het my hart met een van jou oë, met een ketting van jou nek, verheerlik. Hoe mooi is u liefde, my suster, my huweliksmaat! hoeveel beter is u liefde as wyn! en die reuk van jou salf as al die speserye! Jou lippe, o my eggenoot, drup soos 'n heuningkoek; heuning en melk is onder jou tong; en die reuk van u klere is soos die reuk van die Líbanon. 'n Tuin ingesluit is my suster, my eggenoot; 'n fontein toegesluit, 'n fontein verseël. Jou plante is 'n boord van granaatjies, met lieflike vrugte; kamfier, met nardus, nardus en saffraan; kalmoes en kaneel, met al die bome van wierook; mirre en aalwyn, met al die belangrikste speserye; 'n fontein van tuine, 'n put met lewende water en strome van die Líbanon af.

HOOGLIED 4:1-15 Die Boodskap (DB)

Hoe pragtig is jy nie, my liefste. Hoe glinster jou oë nie van liefde agter jou sluier nie. Jou golwende hare laat my dink aan die dartelende bokkies wat teen Gilead se heuwels afhuppel. Jou wit tande is soos ’n kudde pasgebore skape wat skoon gewas is. Elkeen pas bo en onder volmaak op mekaar. Jou lippe is soos ’n purper lint en hoe mooi is jou mond tog nie. Jou wange agter die sluier gloei soos twee granate. Dit is mooi en aanloklik. Jou nek is elegant soos die Dawidstoring en jou halssnoer blink soos 1 000 skilde. Jou twee borste is soos die tweeling van ’n ribbok wat tussen die lelies wei. By mirreberg en wierookberg wil ek vertoef totdat die oggendwind opkom en die nag begin verdwyn. Hoe mooi is jou liggaam nie, my liefste. Alles is so volkome en volmaak. Liefste, laat ons van die baie gevare af wegvlug. Kom saam met my van die Libanonsberge af, van die Amana se top, van die Senir en die Hermonberg waar die leeus en die tiere bly. Jy het my hart gesteel, my lief. Jou oë se sagtheid en die krale om jou nek het my hart van liefde laat klop. My liefste, hoe kosbaar is jou liefde nie vir my nie. Jou liefde is soveel beter as wyn en jou parfuum geuriger as enige spesery. Jou lippe proe heuningsoet, jou tong smaak soos melk en jou klere ruik na die seders van die Libanon. My liefste, jy is soos ’n tuin met ’n hoë muur om. Jy is ’n fontein waarvan net ek kan drink, ’n put wat net aan my behoort. Jy is soos ’n granaattuin wat blom. Jy is ’n lushof met die allermooiste vrugtebome en die allerheerlikste geure. By jou is daar die allerkosbaarste geure van nardus en saffraan, van kalmoes en kaneel, van mirre en al die ander lekkerruikkruie. Jy is ’n fontein in my tuin. ’n Fontein van lewende water en net so vars soos die strome van die Libanonsberge.

HOOGLIED 4:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Jy is mooi, my beminde, so pragtig! Jou oë agter jou sluier is soos die oë van ’n duif. Jou hare golf weg soos bokke wat afstroom teen die Gileadberge. Jou tande is so wit soos skape, so pas geskeer en gewas. Hulle is almal tweelinge en nie een van hulle is alleen nie. Soos rooi, gevlegte lint is jou lippe, pragtig is jou mond. Soos lieflike, geurige granate is jou wange onder jou sluier. Jou nek is so sierlik soos die Dawidstoring wat versier is met duisend skilde van sy helde. Jou twee borste is soos tweeling-takboklammers wat tussen die lelies wei. Wanneer die dag aanbreek en die skaduwees verdwyn, wil ek na die berg van mirre toe gaan, na die heuwel van wierook. My beminde, alles aan jou is mooi. Daar is geen fout aan jou nie. “My bruid, kom saam met my van die Libanonberg af. Kom kyk van die kruin van Amana, van bo van Senir en Hermon af, waar die leeus bly en die luiperds lê. Jy het my opgewonde gemaak, my suster, my liewe bruid. ’n Skalkse kyk van jou oë, een kyk na die halssnoer om jou nek het my in vervoering gebring. Om jou te liefkoos, is wonderlik, my liewe bruid. Dit is soveel beter as wyn. Jou parfuum ruik lekkerder as al die geurige kruie. Jou lippe proe soos heuning, my bruid. As jy praat, is dit so heerlik soos heuning en melk. Jou klere ruik so lekker soos die Libanon. “My suster, my bruid, is ’n tuin wat toegesluit is. Sy is ’n fontein wat toegebou en verseël is. Sy is ’n pragtige boord van granaatbome, met uitsoekvrugte, hennastruike en nardus, nardus en saffraan, kalmoes en kaneel saam met geurige kruie, mirre en aalwyn, saam met al die geurigste kruie. Sy is ’n fontein in my tuin, ’n put met borrelende vars water wat van die Libanon af stroom.”