HOOGLIED 1:1-7
HOOGLIED 1:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Die mooiste lied. Van Salomo. Sy sê: “Hy moet my soen, hy moet aanhou om my te soen! Ja, jy is lief vir my, en dit is lekkerder as wyn. Jy ruik so lekker soos goeie olyf-olie, wanneer ek jou naam hoor, dan is dit soos lekkerruik-olie. Dit is hoekom meisies verlief is op jou. Jy moet my saam met jou neem, ons moet hardloop! Die koning het my na sy kamer gebring. Ons moet juig, ons moet vir almal wys dat ons bly is, ons moet sing daaroor dat jy lief is vir my, dit is lekkerder as wyn.” Sy sê: “Meisies van Jerusalem, ek is bruin gebrand, maar ek is mooi, so mooi soos die tente in die land Kedar, soos die tente van Salomo. Julle kyk na my omdat ek bruin gebrand is, omdat die son my so gebrand het. Julle moenie so na my kyk nie. My broers was kwaad vir my, hulle het gesê ek moet die wingerde oppas, en daarom kon ek nie my vel mooi hou nie.” Sy sê: “Ek is lief vir jou, jy moet vir my vertel waar jy jou skape en bokke laat wei, waar jy hulle laat rus op die warmste tyd van die dag. Ek wil nie my gesig toemaak en jou soek by jou vriende se troppe skape en bokke nie.”
HOOGLIED 1:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE hooglied van Salomo. Laat hy my kus met kusse van sy mond; want u liefde is kosteliker as wyn. U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief. Trek my agter u aan, laat ons gou maak! Die koning het my in sy binnekamers gebring. Ons wil juig en ons in u verheug, ons wil u liefde prys meer as wyn. Met reg het hulle u lief. Ek is bruin gebrand maar lieflik, o dogters van Jerusalem, soos die tente van Kedar, soos die gordyne van Salomo. Moenie na my kyk omdat ek so bruinerig is, omdat die son my verbrand het nie: die seuns van my moeder was toornig op my; hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde; my eie wingerd het ek nie opgepas nie. Vertel my tog, my sielsbeminde, waar laat u wei, waar laat u smiddags die vee lê en rus? Want waarom sou ek wees soos een wat haar met 'n sluier toedraai by die kuddes van u metgeselle?
HOOGLIED 1:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Salomo se mooiste lied. “Soen my, soen my weer en weer! Jou liefkosings is beter as wyn, jou parfuum ruik so lekker, jou naam is suiwer parfuum: daarom het die meisies jou so lief. Vat my saam met jou, kom ons hardloop!” Die koning vat my toe na sy kamer toe. “Kom ons juig, kom ons wees vrolik oor jou!” “Kom ons prys jou liefkosings, dit is beter as wyn! Ek kan verstaan dat die meisies lief is vir jou. “Ek is bruin gebrand maar ek is mooi, vroue van Jerusalem. Ek is so bruin soos die tente van Kedar, soos die tentdoeke van Salomo. Moet my nie so aankyk omdat ek donker is nie, omdat die son my gebrand het nie: my broers het my so bruin laat brand, hulle het my die wingerde laat oppas; ek kon my eie wingerd, myself, nie versorg nie. “Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter 'n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek?”
HOOGLIED 1:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die lied van alle liedere. Van Salomo. Laat hy my met die soene van sy mond soen; ja, jou liefkosings is beter as wyn. Die geur van jou reukolie is heerlik, reukolie wat uitgegiet word, is jou naam – daarom raak die meisies verlief op jou! Neem my saam met jou! Kom ons hardloop! Die koning het my na sy kamer geneem. Ons wil vreugde put uit jou, ons verheug oor jou! Ons wil jou liefkosings meer aanprys as wyn. Hulle is met reg verlief op jou! Ek is donker, meisies van Jerusalem, en pragtig – soos die tente van Kedar, soos Salomo se tentdoeke. Moenie na my staar omdat ek donker is, omdat die son my bruin gebrand het nie. Die seuns van my ma was kwaad vir my: Hulle het my die wingerde laat oppas; my eie wingerd kon ek nie oppas nie. Laat weet my tog, geliefde van my hart, waar laat jy jou kudde wei, waar laat jy hulle in die middag rus? Waarom moet ek gesluierd gaan tussen jou vriende se kuddes?
HOOGLIED 1:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die lied van liedere, wat Salomo s'n is. Laat hy my soen met die soene van sy mond, want u liefde is beter as wyn. Vanweë die geur van u goeie salf is u naam soos salf wat uitgegiet is, daarom het die maagde u lief. Trek my, ons sal agter U aan hardloop: die koning het my in sy kamers gebring; ons sal bly wees en ons in U verheug, ons sal aan u liefde dink meer as wyn; die opregtes het U lief. Ek is swart, maar mooi, o dogters van Jerusalem, soos die tente van Kedar, soos die gordyne van Salomo. Moenie na my kyk nie, want ek is swart, want die son het my aangekyk; my moeder se kinders was kwaad vir my; hulle het my die wagter van die wingerde aangestel; maar my eie wingerd het ek nie bewaar nie. Sê vir my, o jy wat my siel liefhet, waar jy wei, waar laat jy jou kleinvee op die middag rus; want waarom sou ek wees soos een wat wegdraai by die kuddes van jou metgeselle?
HOOGLIED 1:1-7 Die Boodskap (DB)
Hierdie is die liefdesliedere van Salomo. Soen my weer en weer, want jou liefde smaak soeter as wyn. Hoe lekker ruik jou reukmiddel en hoe mooi klink jou naam tog nie. Al wat ’n jongmeisie is, is op jou verlief. Vat my, dan hardloop ons weg. Wees vir my soos ’n koning en neem my na jou kamer toe. Saam sal ons gelukkig wees. Ons sal mekaar geniet en onsself in ons liefde verloor. Ek weet waarom al die jongmeisies so gaande oor jou is. Vroue van Jerusalem, ek is donker, maar ook mooi. Donker soos die tente van Kedar en mooi soos die tentseile van Salma. Moenie sleg dink van my omdat ek so bruin is nie. Dit is die son wat my so bruin gebrand het. My broers was kwaad vir my en het my toe in die wingerd laat werk. Ek moes elke dag in die skerp son werk. Sê my, my liefling, waarheen vat jy vandag jou vee? Waar staan julle teen die middaguur? Kom, sê my, dan hoef ek jou nie tussen die ander herders se kuddes te gaan soek nie.
HOOGLIED 1:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Salomo se heel mooiste lied. “Soen my weer en weer! Jou liefde is soeter as wyn. Jou parfuum ruik heerlik. Jou naam is soos parfuum! Dis waarom meisies so baie van jou hou. Vat my saam met jou! Kom, laat ons hardloop! Laat die koning my na sy kamer toe neem.” “Kom ons juig! Ons is bly oor jou! Ons hou meer van jou liefde as van wyn.” “Geen wonder meisies het jou so lief nie. Ek is donker en ek is pragtig, vroue van Jerusalem. Ek het die kleur van die tente van Kedar en die tentdoeke van Salomo. “Moenie my so staan en bekyk omdat ek donker is nie. Die son het my so gebrand. My broers was kwaad vir my. Daarom het hulle my die wingerde laat oppas. My eie wingerd moes ek verwaarloos. Sê vir my, my liefling, waar laat jy jou kleinvee wei? Waar gaan jy met hulle oorstaan vanmiddag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier versteek om na jou te gaan soek by die veetroppe van jou vriende?”