RUT 2:4-7
RUT 2:4-7 Bybel vir almal (ABA)
Boas het dieselfde tyd van Betlehem gekom. Hy het die mense gegroet wat die gars afsny, en hy het gesê: “Ek bid dat die Here by julle sal wees.” En hulle het geantwoord: “Ons bid dat die Here jou sal seën.” Toe vra Boas vir sy slaaf wat moes kyk dat die mense goed werk: “Wie is hierdie jong vrou?” Die slaaf het geantwoord: “Sy is 'n jong Moabitiese vrou. Dit is sy wat saam met Naomi uit die land Moab gekom het. Sy het gevra of sy die are mag optel wat val wanneer die mense die gars afsny. Sy het gekom en sy het van vanoggend tot nou toe gewerk, sy het nie by die huis gaan rus nie.”
RUT 2:4-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Boas het juis van Betlehem af gekom en aan die snyers gesê: Mag die HERE met julle wees! En hulle het hom geantwoord: Mag die HERE u seën! Daarop sê Boas aan sy dienaar, die opsigter oor die snyers: Van wie is hierdie jong vrou? En die dienaar, die opsigter oor die snyers, antwoord en sê: Dit is die jong Moabitiese vrou wat saam met Naómi uit die veld van Moab teruggekom het; en sy het gesê: Kan ek maar are optel en insamel by die gerwe agter die snyers? Sy het toe gekom en gebly van vanmôre af tot nou toe; sy het maar min daar in die huis gesit.
RUT 2:4-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Boas het toe juis self uit Betlehem daar aangekom en hy het vir die snyers gesê: “Mag die Here by julle wees,” en hulle het hom geantwoord: “Mag die Here u seën.” Boas vra toe vir sy voorman: “Wie is daardie meisie?” en hy antwoord: “Sy is 'n Moabitiese meisie wat saam met Naomi van Moab af gekom het. Sy het gevra of sy are agter die snyers mag optel. Sy het toe gekom en is nog al die tyd besig van vanmôre af tot nou toe. Sy rus nou net 'n bietjie.”
RUT 2:4-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Boas het juis van Betlehem af daar aangekom. “Die HERE is met julle!” groet hy toe die snyers. “Die HERE seën u,” antwoord hulle hom. Boas vra toe vir sy werker wat toesig hou oor die snyers: “Aan wie behoort hierdie jong vrou?” Die werker wat toesig hou oor die snyers, antwoord hom: “Sy is 'n jong vrou uit Moab wat saam met Naomi uit die gebied van Moab teruggekom het. Sy het gevra, ‘Kan ek maar are optel en bymekaarmaak by die hopies agter die snyers?’ Sy het gekom en is van vanoggend af tot nou toe op haar voete; hier het sy nog maar min gerus!”
RUT 2:4-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En kyk, Boas het van Betlehem af gekom en aan die maaiers gesê: Mag die HERE met julle wees! En hulle antwoord hom: Mag die HERE jou seën! Toe sê Boas vir sy dienaar wat oor die maaiers aangestel was: Wie se meisie is hierdie? En die dienskneg wat oor die maaiers aangestel was, het geantwoord en gesê: Dit is die Moabitiese meisie wat saam met Naomi uit die land Moab teruggekom het. En sy sê: Laat my tog optel en agter die maaiers bymekaar maak onder die gerwe; en sy het gekom en bly van die môre af tot nou toe dat sy 'n bietjie in die huis vertoef het.
RUT 2:4-7 Die Boodskap (DB)
Intussen het Boas ook uit Betlehem daar aangekom. Hy en sy werkers het mekaar vriendelik gegroet, soos dit die gebruik was. Boas het vir Rut raakgesien en vir sy voorman gevra wie die vreemde vrou is wat op sy land are optel. Hierop het die voorman geantwoord: “Dit is Naomi se skoondogter wat saam met haar uit Moab uit teruggekom het. Sy het vanmôre al gevra of sy are agter die werkers mag optel. Van toe af werk sy nog aanmekaar. Sy rus nou vir die eerste keer ’n bietjie daar in die koelte.”
RUT 2:4-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Boas kom toe juis van Betlehem af en groet sy werknemers: “Die HERE is met julle!” het hy gesê. “Mag die HERE u seën!” antwoord die snyers. Toe vra Boas vir sy voorman: “Wie is daardie jong vrou?” Die voorman antwoord hom: “Sy is die jong vrou uit Moab wat saam met Naomi teruggekom het. Sy het vir my gevra of sy die are agter die snyers mag optel. Sy het nog die hele tyd aanmekaar gewerk, behalwe vir die kort tydjie toe sy daar onder die skuiling gaan rus het.”