ROMEINE 9:30-33
ROMEINE 9:30-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat sal ons dan sê? Dat die heidene die •geregtigheid wat hulle nie nagejaag het nie, verkry het, naamlik die regverdiging deur die geloof, terwyl Israel, wat geregtigheid deur die wet nagejaag het, die eis van die wet nie kon nakom nie? Waarom nie? Omdat hulle dit nie op grond van geloof wou verkry nie, maar op grond van hulle dade. Hulle het oor die struikelblok gestruikel, soos daar geskryf staan: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer waaroor 'n mens kan struikel, ja, 'n rots wat jou kan laat val; maar wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.”
ROMEINE 9:30-33 Bybel vir almal (ABA)
Daarom sê ek: Dit was vir die heidene nie belangrik dat God hulle moet vryspreek nie. Maar God hét hulle vrygespreek omdat hulle in Christus glo. Die Israeliete het probeer doen wat die wette sê sodat God hulle moet vryspreek. Maar hulle het nie regtig gedoen wat die wette sê nie. Hoekom nie? Hulle wou graag hê dat God hulle moet vryspreek, maar hulle wou nie in Christus gló nie, hulle het net gedoen wat die wette sê. Hulle was soos mense wat teen 'n klip gestamp het en geval het. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Ek sit in Sion 'n klip waarteen mense sal stamp, 'n rots waaroor hulle sal val. Daar is ook geskryf: Maar die mense wat in Hom glo, sal wen, Hy sal hulle nie alleen los nie.
ROMEINE 9:30-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is; terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion 'n steen van aanstoot en 'n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
ROMEINE 9:30-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat is nou ons gevolgtrekking? Dít: heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry – die vryspraak deur die geloof. Israel, daarenteen, het 'n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so 'n wet het hulle nie uitgekom nie. Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies. Hulle het oor die struikelblok gestruikel waarvan daar geskrywe staan
ROMEINE 9:30-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid bereik het, ja, die geregtigheid wat uit die geloof is. Maar Israel, wat die wet van geregtigheid nagejaag het, het die wet van geregtigheid nie bereik nie. Waarom? Omdat hulle dit nie uit die geloof gesoek het nie, maar as 't ware uit die werke van die wet. Want hulle het by daardie struikelblok gestruikel; Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion 'n steen van aanstoot en 'n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.
ROMEINE 9:30-33 Die Boodskap (DB)
Wat is ons gevolgtrekking oor dit wat ons gesê het? Dít: mense uit ander volke wat nie eens probeer het om in die regte verhouding met God te kom nie, leef nou in vrede met Hom. God het hulle van hulle sondes vrygespreek omdat hulle in Hom glo. Aan die ander kant het Israel, wat van vroeg tot laat die wet probeer hou het sodat hulle in die regte verhouding met God kon wees, dit nie reggekry nie. Hoekom? Wel, omdat hulle die wet heeltemal verkeerd gehou het. Hulle het gedink dat God hulle moes beloon vir al hulle goeie dade. Hulle het nie eens die Messias herken toe Hy voor hulle in die pad kom staan het nie. Daarom het hulle oor Christus gestruikel. Dit is waar wat Jesaja oor hulle geskryf het: “Oppas! Ek het ’n groot rots daar op die berg Sion, die plek van verlossing, neergesit. As jy nie mooi kyk nie, gaan jy daaroor val. Hy is ’n rots wat vir baie mense aanstoot gee. Elkeen wat in Hom glo, sal nooit oor Hom struikel of val nie.”
ROMEINE 9:30-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As ons hieroor nadink, wat is ons slotsom? Dit is dat nie-Joodse nasies die vryspraak deur die geloof verkry het, al het hulle hulle nie daarvoor beywer nie. Terselfdertyd het Israel, wat so hard probeer het om deur nakoming van die wet God se goedkeuring te verkry, nie daarin geslaag nie. Hoekom nie? Juis omdat hulle dit op grond van hulle werke probeer verkry het en nie deur die geloof nie. Dit was die klip waaroor hulle gestruikel het. God het hulle in die Skrif juis hierteen gewaarsku met die woorde: “Let goed op! Ek sit in Jerusalem ’n klip waaroor mense kan struikel, ’n rots wat hulle kan laat val. Maar enigeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.”