ROMEINE 8:5-7
ROMEINE 8:5-7 Bybel vir almal (ABA)
Die mense wat die dinge doen wat hulle wil doen, dink altyd oor wat húlle wil doen, en wat hulle wil doen, is slegte dinge. Maar die mense wat na die Heilige Gees luister, dink altyd aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. Daar is mense wat altyd dink oor die dinge wat húlle graag wil doen, slegte dinge. God sal hulle vir altyd laat sterf. Maar daar is mense wat altyd dink aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. God sal hulle vir altyd laat lewe en Hy sal vir hulle vrede gee. Mense wat altyd dink aan die dinge wat húlle graag wil doen, is God se vyande. Hulle luister nie na God se wette nie, hulle kan nie.
ROMEINE 8:5-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.
ROMEINE 8:5-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie.
ROMEINE 8:5-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie volgens hulle sondige aard leef, bedink immers die dinge van hulle sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees. Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede. Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.
ROMEINE 8:5-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die wat na die vlees is, bedink die dinge van die vlees; maar hulle wat na die Gees is, die dinge van die Gees. Want om vleeslik gesind te wees, is die dood; maar om geestelik ingestel te wees is lewe en vrede. Want die vleeslike gesindheid is vyandskap teen God, want dit is nie onderworpe aan die wet van God nie, en kan ook nie.
ROMEINE 8:5-7 Die Boodskap (DB)
Mense wat toelaat dat die sonde oor hulle lewens baasspeel, se koppe is heeltyd besig met sonde. Maar mense wat toelaat dat die Gees hulle lewens beheer, se koppe is heeltyd besig met dinge wat vir die Gees belangrik is. Mense wie se denke en dade in die greep van die sonde vasgevang is, leef in die dood. Maar mense wie se denke en dade in die greep van die Heilige Gees vasgevang is, ken ware lewe en vrede. Mense wat heeltyd op die sonde ingestel is, is vyande van God. Hulle steur hulle nie aan wat Hy in die wet sê nie. Trouens, hulle verroer nie eens ’n vinger om dit te probeer gehoorsaam nie.
ROMEINE 8:5-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak. As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede. Want die sondige natuur is altyd vyandig ingestel teenoor God. Dit rebelleer teen God se wet, want dit is in sy aard.