ROMEINE 8:5-10
ROMEINE 8:5-10 Bybel vir almal (ABA)
Die mense wat die dinge doen wat hulle wil doen, dink altyd oor wat húlle wil doen, en wat hulle wil doen, is slegte dinge. Maar die mense wat na die Heilige Gees luister, dink altyd aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. Daar is mense wat altyd dink oor die dinge wat húlle graag wil doen, slegte dinge. God sal hulle vir altyd laat sterf. Maar daar is mense wat altyd dink aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. God sal hulle vir altyd laat lewe en Hy sal vir hulle vrede gee. Mense wat altyd dink aan die dinge wat húlle graag wil doen, is God se vyande. Hulle luister nie na God se wette nie, hulle kan nie. Die mense wat altyd doen wat húlle graag wil doen, kan nie doen wat God wil hê nie. Maar julle doen nie wat julle self wil doen nie, want die Heilige Gees is in julle harte en julle luister na die Heilige Gees, die Gees van God. Mense wat nie die Heilige Gees, die Gees van Christus, in hulle harte het nie, behoort nie aan Christus nie. Julle liggame sal sterf omdat die sonde in die wêreld gekom het. Maar nou is Christus in julle, God het julle vrygespreek en die Heilige Gees laat julle waarlik lewe.
ROMEINE 8:5-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid.
ROMEINE 8:5-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde.
ROMEINE 8:5-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie volgens hulle sondige aard leef, bedink immers die dinge van hulle sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees. Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede. Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. Wie in hulle sondige aard bly, kan God nie tevrede stel nie. Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe.
ROMEINE 8:5-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die wat na die vlees is, bedink die dinge van die vlees; maar hulle wat na die Gees is, die dinge van die Gees. Want om vleeslik gesind te wees, is die dood; maar om geestelik ingestel te wees is lewe en vrede. Want die vleeslike gesindheid is vyandskap teen God, want dit is nie onderworpe aan die wet van God nie, en kan ook nie. Dan kan die wat in die vlees is, God nie behaag nie. Maar julle is nie in die vlees nie, maar in die Gees, as die Gees van God in julle woon. En as iemand nie die Gees van Christus het nie, is hy nie een van syne nie. En as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde; maar die Gees is lewe vanweë die geregtigheid.
ROMEINE 8:5-10 Die Boodskap (DB)
Mense wat toelaat dat die sonde oor hulle lewens baasspeel, se koppe is heeltyd besig met sonde. Maar mense wat toelaat dat die Gees hulle lewens beheer, se koppe is heeltyd besig met dinge wat vir die Gees belangrik is. Mense wie se denke en dade in die greep van die sonde vasgevang is, leef in die dood. Maar mense wie se denke en dade in die greep van die Heilige Gees vasgevang is, ken ware lewe en vrede. Mense wat heeltyd op die sonde ingestel is, is vyande van God. Hulle steur hulle nie aan wat Hy in die wet sê nie. Trouens, hulle verroer nie eens ’n vinger om dit te probeer gehoorsaam nie. Omdat die sonde oor hulle heers, kan hulle glad nie doen wat God vra nie. Julle is egter nie meer in die greep van die sonde nie. Nee, julle lewens staan nou onder die beheer van die Gees wat in julle bly. As die Gees van Christus nie in iemand se lewe aanwesig is nie, behoort hy glad nie aan Hom nie - so eenvoudig is dit. Christus is ook nou by julle. Daarom sal die Heilige Gees sorg dat julle vir altyd lewe. Selfs al moet julle liggame doodgaan - dit is immers die prys wat ons almal vir die sonde moet betaal - sal die Gees julle op ’n splinternuwe manier laat leef. Hy sal dit doen omdat julle deur God vrygespreek is.
ROMEINE 8:5-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak. As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede. Want die sondige natuur is altyd vyandig ingestel teenoor God. Dit rebelleer teen God se wet, want dit is in sy aard. Dit is waarom die mense wat deur hulle sondige natuur beheer word, God nooit gelukkig kan maak nie. Maar julle word nie deur julle sondige natuur beheer nie. Julle word beheer deur die Gees omdat die Gees van God in julle woon. Onthou, iemand wat nie die Gees van Christus het nie, is nie een van sy mense nie! As Christus in julle lewe, is julle liggame wel nog as gevolg van die sonde aan die dood onderhewig, maar julle gees leef omdat julle saak met God reggemaak is.