ROMEINE 8:31-37
ROMEINE 8:31-37 Bybel vir almal (ABA)
Ons weet dit nou alles. Ons weet dat God by ons is, daarom is ons vir niemand bang nie. God het nie gekeer toe sy eie Seun swaargekry het nie, God het sy Seun gegee en Hy het sy Seun laat sterf om ons almal te red. Daarom weet ons dat God baie goed is vir ons en dat Hy nog baie ander goeie dinge vir ons sal gee. God het ons gekies om aan Hom te behoort. Nou kan niemand sê dat ons skuldig is nie, want God het ons vrygespreek. Niemand kan sê God moet ons straf nie, want Christus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe, en nou sit Hy op die belangrikste plek langs God in die hemel en Hy vra vir God om ons sonde te vergewe. Kan iemand keer dat Christus lief is vir ons? Nee, nooit nie! Niemand kan dit keer nie, nie wanneer ons swaarkry nie, nie wanneer ons bang is nie, nie wanneer mense ons verdruk nie, nie wanneer ons honger is nie, nie wanneer ons niks klere het nie, nie wanneer ons vyande het nie, nie wanneer mense ons wil doodmaak nie. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Mense hou aan om ons dood te maak omdat ons aan U behoort. Hulle maak of ons slagskape is. God is lief vir ons, daarom wen ons altyd wanneer al hierdie slegte dinge met ons gebeur.
ROMEINE 8:31-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
ROMEINE 8:31-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.
ROMEINE 8:31-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie? Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat •vryspreek! Wie sal ons veroordeel? Dit is •Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree. Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Soos daar geskryf staan: “Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer, word ons as slagskape beskou.” Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het.
ROMEINE 8:31-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles verniet gee nie? Wie sal God se uitverkorenes enigiets beskuldig? Dit is God wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Dit is Christus wat gesterf het, ja liewer, wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wie sal ons skei van die liefde van Christus? sal verdrukking of benoudheid of vervolging of hongersnood of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om u ontwil word ons die hele dag doodgemaak; ons word gereken as slagskape. Nee, in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
ROMEINE 8:31-37 Die Boodskap (DB)
Wat is ons gevolgtrekking oor alles wat ons tot nou toe gesê het? Dít: God is aan ons kant. Wie sou dit dan nog waag om teen ons te wees? God gee so baie vir ons om dat Hy nie eens sy eie Seun se lewe gespaar het nie. God het Hom in ons plek laat doodgaan. As Hy bereid was om so ver vir ons te gaan, sal Hy mos enigiets vir ons doen. Wie kan dit nou nog waag om ’n aanklag teen ons in te bring? Niemand nie! Ons is immers deur God self as sy kinders uitgekies. Boonop het Hy ons van al ons sondes vrygespreek. Wie kan dit nou nog waag om ons te veroordeel? Christus Jesus is mos aan ons kant. Hy is in ons plek dood. God het Hom ook weer lewendig gemaak. Christus het nou die heel belangrikste posisie in die hemel. Daarom kan Hy nou ons saak by God suksesvol verdedig. Wat kan ons nou nog skei van Christus se liefde vir ons? Swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, ’n tekort aan klere, gevare, of dalk geweld? Nie een van hierdie dinge nie! Nie eens die grootste probleme waarvan daar in die Bybel gepraat word, kan ons ooit van Christus skei nie. Daar staan juis in een van die psalms: “Here, ter wille van U word ons heeltyd doodgemaak. Ons is soos ’n klomp slagskape wat reg staan om geslag te word.” Al gebeur hierdie verskriklike dinge met ons, is ons nogtans oorwinnaars. Ons deel in Christus se reuse-oorwinning omdat Hy ons baie liefhet.
ROMEINE 8:31-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wat sal ons dan van al hierdie wonderlike dinge sê? As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees? As God nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgegee het, sal Hy nie saam met Hom ook alle ander dinge aan ons skenk nie? Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het? God is immers die Een wat ons vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het, wat boonop ook opgestaan het, wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit. Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei? Sal dinge soos lyding of benoudheid of vervolging, honger of koue, of gevaar of doodsdreiging dit regkry? Selfs die Skrif verklaar tog: “Om u ontwil bedreig die dood ons die hele dag en word ons as slagskape beskou.” Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ’n klinkende oorwinning te behaal – deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het.