ROMEINE 8:30-32
ROMEINE 8:30-32 Bybel vir almal (ABA)
Ja, God het besluit hulle moet sy kinders wees. God het ook vir hulle gesê hulle behoort aan Hom, Hy het hulle ook vrygespreek, Hy het hulle ook baie belangrik gemaak. Ons weet dit nou alles. Ons weet dat God by ons is, daarom is ons vir niemand bang nie. God het nie gekeer toe sy eie Seun swaargekry het nie, God het sy Seun gegee en Hy het sy Seun laat sterf om ons almal te red. Daarom weet ons dat God baie goed is vir ons en dat Hy nog baie ander goeie dinge vir ons sal gee.
ROMEINE 8:30-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
ROMEINE 8:30-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?
ROMEINE 8:30-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook •vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?
ROMEINE 8:30-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles verniet gee nie?
ROMEINE 8:30-32 Die Boodskap (DB)
Toe God besluit het wie almal aan sy familie sal behoort, het Hy hulle persoonlik op hulle naam geroep. So het hulle sy kinders geword. Verder het Hy almal wat Hy geroep het, ook vrygespreek van hulle sondes. Toe het God almal wat Hy vrygespreek het, met sy heerlikheid en goedheid oorlaai. Wat is ons gevolgtrekking oor alles wat ons tot nou toe gesê het? Dít: God is aan ons kant. Wie sou dit dan nog waag om teen ons te wees? God gee so baie vir ons om dat Hy nie eens sy eie Seun se lewe gespaar het nie. God het Hom in ons plek laat doodgaan. As Hy bereid was om so ver vir ons te gaan, sal Hy mos enigiets vir ons doen.
ROMEINE 8:30-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dié wat Hy vooruit aangewys het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, aan hulle het Hy heerlikheid gegee. Wat sal ons dan van al hierdie wonderlike dinge sê? As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees? As God nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgegee het, sal Hy nie saam met Hom ook alle ander dinge aan ons skenk nie?