ROMEINE 8:18-28

ROMEINE 8:18-28 Bybel vir almal (ABA)

Ons kry nou baie swaar, maar ek weet God sal eendag vir ons iets gee wat baie beter is. Hy sal vir ons iets gee wat baie wonderlik is, en ons sal dit sien. Want God het alles gemaak, en alles wag en hoop dat die dag sal kom wanneer God vir almal sal wys wie sy kinders is. God het alles gemaak, maar alles wat Hy gemaak het, is nou swak en sleg. Dit het nie self so geword nie, God het gesê dit moet so word. Maar alles wag om weer vry te word van alles wat dit swak en sleg laat word het. God sal alles verander wat Hy gemaak het, en dit sal so vry en belangrik wees soos die kinders van God. God het alles gemaak, en ons weet dat alles wat Hy gemaak het, nou swaarkry en sug soos 'n vrou wanneer sy 'n kind kry. Maar dit is nie net dit wat gebeur nie, ons self sug ook, ons wat die Heilige Gees het wat God vir ons gegee het sodat ons kan weet dat God vir ons alles sal gee wat Hy belowe het. Ja, ons wag en hoop dat God ons sal aanneem om sy kinders te wees, ons hoop dat Hy ons heeltemal vry sal maak. God het ons gered, daarom hoop ons dat iets met ons sal gebeur. Dit het nog nie gebeur nie. Wanneer iets met mense gebeur het, dan hoop hulle nie dat dit sal gebeur nie, want dit het klaar gebeur. Maar ons hoop dat daar iets met ons sal gebeur, iets wat nog nie gebeur het nie. Daarom hoop ons en hou ons aan om daarvoor te wag. Die Heilige Gees help ons ook wanneer ons bid. Ons kan nie bid soos God wil hê ons moet bid nie, want ons is swak, maar wanneer die Gees by God kla en sug, dan sê Hy vir God dinge wat mense nie self kan sê nie. God weet alles wat mense dink en Hy weet ook wat die Heilige Gees dink. God weet die Gees doen wat God wil hê, en die Gees sê vir God wat die mense bid, die mense wat aan God behoort. Ons weet dat wanneer mense lief is vir God, dan is alles wat met hulle gebeur, goed vir hulle. God laat dit so gebeur, want Hy het lank gelede besluit om hulle te kies om aan Hom te behoort.

ROMEINE 8:18-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

ROMEINE 8:18-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie. Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word. Want die skepping is onderwerp aan 'n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God. Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame. Ons is immers verlos in hoop. Maar die hoop wat gesien kan word, dit is nie regtig hoop nie; want wie hoop nog op wat 'n mens reeds kan sien? Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die •heiliges intree. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is

ROMEINE 8:18-28 Die Boodskap (DB)

Ek is van een saak oortuig: al ons swaarkry weeg glad nie op teen die wonderlike lewe wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Die res van God se skepping sien ook baie uit na daardie groot dag wanneer Hy voor almal sal sê dat ons sy kinders is. Want tot nou toe kry die skepping baie swaar. Die skepping het nie self gekies om so te ly nie. Nee, dit is die gevolg van God se straf op die sonde. Tog is daar hoop. Die skepping weet dat God dit ook eendag sal bevry van hierdie verskriklike lyding. Op daardie dag wanneer God al sy kinders eens en vir altyd kom verlos, sal die skepping ook vrygemaak word. Dan sal die skepping God se heerlikheid op die regte manier weerkaats. Vir altyd. Intussen steun en kreun die ganse skepping tot vandag toe soos ’n vrou wat op die punt staan om geboorte te gee. Maar dit is nie net die skepping wat swaarkry nie. Ons kry ook swaar. Al het ons die Heilige Gees as ’n offer uit God se hand ontvang om ons te verseker dat God se nuwe wêreld op ons wag, sug en kla ons ook. Ons sien uit daarna dat God ons van hierdie sterflike bestaan sal kom verlos. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy terugkom en voor almal kom sê dat ons aan Hom behoort. Omdat ons klaar deur God gered is, wéét ons dat ons ’n plek sal hê in sy nuwe wêreld. As ons nou al hierdie nuwe wêreld kon sien, sou ons mos nie heeltyd daarop gewag het nie. ’n Mens sien tog nie uit na iets wat jy reeds het nie, of hoe? Maar nou weet ons dat ’n nuwe lewe by God op ons wag, ook al kan ons dit nog nie sien nie. Daarom wag ons geduldig totdat dit aanbreek. Intussen het God sy Gees aan ons gegee om ons in ons swakhede te help. Ons grootste swakheid is dat ons nie aldag weet wat ons moet bid nie. Maar in sulke tye bid die Gees self vir ons. Hy vertaal al ons swaarkry in hemelse taal. Hy gaan sug en kla namens ons daar by God. En omdat God die Heilige Gees deur en deur ken, weet Hy presies hoekom sy Gees so ernstig vir ons bid. En God weet ook dat die Gees altyd volgens sy wil vir al die gelowiges bid. Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewens gebeur om sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit.

ROMEINE 8:18-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie. Die skepping smag na daardie dag wanneer God sy kinders openlik bekend sal stel. Want teen sy wil is die ganse skepping in ’n sinnelose kringloop van aftakeling vasgevang as gevolg van God se straf op die eerste mense se ongehoorsaamheid. Die ganse skepping sien uit na die dag wanneer dit ook self van die slawediens aan hierdie verganklikheid bevry sal word en deel sal kry aan die heerlike vryheid van God se kinders. Ons weet immers dat die ganse skepping nog steeds aan die kreun is soos iemand met geboortepyne. Wat meer is, ons wat die Gees as voorsmaak en waarborg van ons toekomstige heerlikheid ontvang het, kreun ook in ons binneste in ons smagting om van ons verganklike liggame verlos te word. Noudat ons verlos is, sien ons uit na ons toekomstige heerlikheid. Want as jy iets reeds het, hoef jy nie meer daarna uit te sien nie. Maar as jy dit nog nie het nie, sien jy gretig en volhardend daarna uit. Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree. En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

ROMEINE 8:18-28

ROMEINE 8:18-28 AFR83ROMEINE 8:18-28 AFR83ROMEINE 8:18-28 AFR83ROMEINE 8:18-28 AFR83