ROMEINE 8:1-8

ROMEINE 8:1-8 Bybel vir almal (ABA)

As mense aan Christus Jesus behoort, dan straf God hulle nie. Mense wil altyd graag sonde doen, en sonde laat mense altyd sterf. Maar die Heilige Gees het jou vrygemaak en Hy help jou om altyd te doen wat God wil hê. Ja, die Heilige Gees laat jou waarlik lewe, jy wat aan Christus Jesus behoort. God self het gedoen wat sy wette nie kon doen nie, Hy het ons gered. Die wette kon dit nie doen nie omdat mense swak is. God het sy eie Seun gestuur en God het Hom 'n mens laat word, 'n mens soos die mense wat sonde doen, en God het vir Hóm gestraf. So het God die sonde gestraf wat oor die mense regeer het. Nou kan ons regtig doen wat die wette sê, want ons doen nie die slegte dinge wat mense graag doen nie, ons doen wat die Heilige Gees sê ons moet doen. Die mense wat die dinge doen wat hulle wil doen, dink altyd oor wat húlle wil doen, en wat hulle wil doen, is slegte dinge. Maar die mense wat na die Heilige Gees luister, dink altyd aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. Daar is mense wat altyd dink oor die dinge wat húlle graag wil doen, slegte dinge. God sal hulle vir altyd laat sterf. Maar daar is mense wat altyd dink aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. God sal hulle vir altyd laat lewe en Hy sal vir hulle vrede gee. Mense wat altyd dink aan die dinge wat húlle graag wil doen, is God se vyande. Hulle luister nie na God se wette nie, hulle kan nie. Die mense wat altyd doen wat húlle graag wil doen, kan nie doen wat God wil hê nie.

ROMEINE 8:1-8 Die Boodskap (DB)

Goeie nuus! God se oordeel is vir altyd verby vir elkeen wat aan Christus Jesus behoort. Dit alles is aan die Heilige Gees te danke. Sy nuwe wet waarborg nou splinternuwe lewe in Christus Jesus vir my. Die Gees maak my vry van die neerdrukkende wet van die sonde en die dood. Hy breek daardie magte se houvas op my lewe vir altyd. Wat die wet nooit kon regkry nie, het God reggekry. Hy het geweet dat die wet nie in staat is om ons te verlos nie. Daarvoor is die mag van die sonde in ons lewens heeltemal te groot. Daarom het God besluit om sy eie Seun na ons toe te stuur. Jesus het toe ’n gewone mens geword en tussen ons in hierdie sondaarsnes kom bly. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God persoonlik met die sonde afgereken. Nou kan ons uiteindelik doen wat die wet van ons vra. Ons lewens word nie langer deur die sonde oorheers nie. Nee, die Heilige Gees staan nou aan die stuur van ons lewens. Mense wat toelaat dat die sonde oor hulle lewens baasspeel, se koppe is heeltyd besig met sonde. Maar mense wat toelaat dat die Gees hulle lewens beheer, se koppe is heeltyd besig met dinge wat vir die Gees belangrik is. Mense wie se denke en dade in die greep van die sonde vasgevang is, leef in die dood. Maar mense wie se denke en dade in die greep van die Heilige Gees vasgevang is, ken ware lewe en vrede. Mense wat heeltyd op die sonde ingestel is, is vyande van God. Hulle steur hulle nie aan wat Hy in die wet sê nie. Trouens, hulle verroer nie eens ’n vinger om dit te probeer gehoorsaam nie. Omdat die sonde oor hulle heers, kan hulle glad nie doen wat God vra nie.

ROMEINE 8:1-8

ROMEINE 8:1-8 AFR83ROMEINE 8:1-8 AFR83ROMEINE 8:1-8 AFR83