ROMEINE 8:1-5
ROMEINE 8:1-5 Bybel vir almal (ABA)
As mense aan Christus Jesus behoort, dan straf God hulle nie. Mense wil altyd graag sonde doen, en sonde laat mense altyd sterf. Maar die Heilige Gees het jou vrygemaak en Hy help jou om altyd te doen wat God wil hê. Ja, die Heilige Gees laat jou waarlik lewe, jy wat aan Christus Jesus behoort. God self het gedoen wat sy wette nie kon doen nie, Hy het ons gered. Die wette kon dit nie doen nie omdat mense swak is. God het sy eie Seun gestuur en God het Hom 'n mens laat word, 'n mens soos die mense wat sonde doen, en God het vir Hóm gestraf. So het God die sonde gestraf wat oor die mense regeer het. Nou kan ons regtig doen wat die wette sê, want ons doen nie die slegte dinge wat mense graag doen nie, ons doen wat die Heilige Gees sê ons moet doen. Die mense wat die dinge doen wat hulle wil doen, dink altyd oor wat húlle wil doen, en wat hulle wil doen, is slegte dinge. Maar die mense wat na die Heilige Gees luister, dink altyd aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen.
ROMEINE 8:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Want God het — wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees — deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.
ROMEINE 8:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees.
ROMEINE 8:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in •Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Dit waartoe die wet, verswak deur ons sondige aard, nie in staat was nie, het God gedoen: Deur sy eie Seun vanweë die sonde in die gestalte van 'n sondige mens te stuur, het Hy die sonde in die mens veroordeel, sodat die vereiste van die wet in ons vervul kon word, ons wat nie volgens ons sondige aard leef nie, maar volgens die Gees. Wie volgens hulle sondige aard leef, bedink immers die dinge van hulle sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees.
ROMEINE 8:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van sonde en dood. Want wat die wet nie kon doen nie, omdat dit deur die vlees swak was, het God sy eie Seun gestuur in die gelykenis van die sondige vlees, en ter wille van sonde die sonde in die vlees veroordeel; Sodat die geregtigheid van die wet vervul kan word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wat na die vlees is, bedink die dinge van die vlees; maar hulle wat na die Gees is, die dinge van die Gees.
ROMEINE 8:1-5 Die Boodskap (DB)
Goeie nuus! God se oordeel is vir altyd verby vir elkeen wat aan Christus Jesus behoort. Dit alles is aan die Heilige Gees te danke. Sy nuwe wet waarborg nou splinternuwe lewe in Christus Jesus vir my. Die Gees maak my vry van die neerdrukkende wet van die sonde en die dood. Hy breek daardie magte se houvas op my lewe vir altyd. Wat die wet nooit kon regkry nie, het God reggekry. Hy het geweet dat die wet nie in staat is om ons te verlos nie. Daarvoor is die mag van die sonde in ons lewens heeltemal te groot. Daarom het God besluit om sy eie Seun na ons toe te stuur. Jesus het toe ’n gewone mens geword en tussen ons in hierdie sondaarsnes kom bly. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God persoonlik met die sonde afgereken. Nou kan ons uiteindelik doen wat die wet van ons vra. Ons lewens word nie langer deur die sonde oorheers nie. Nee, die Heilige Gees staan nou aan die stuur van ons lewens. Mense wat toelaat dat die sonde oor hulle lewens baasspeel, se koppe is heeltyd besig met sonde. Maar mense wat toelaat dat die Gees hulle lewens beheer, se koppe is heeltyd besig met dinge wat vir die Gees belangrik is.
ROMEINE 8:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem. Die lewegewende Gees is so magtig dat Hy jou deur Christus Jesus bevry het van die greep van die sonde wat uitloop op die dood. Die wet van Moses kon ons as gevolg van ons sondige natuur nie verlos nie. Daarom het God sy eie Seun met ’n menslike natuur soos ons sondige menslike natuur na ons toe gestuur om as offer vir ons sonde te dien. Daarmee het Hy afgereken met die sonde in ons menslike bestaan, sodat ons kan voldoen aan die vereiste van die wet – ons wat nou nie meer volgens ons sondige natuur lewe nie, maar volgens die Gees. Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak.