ROMEINE 7:15-18
ROMEINE 7:15-18 Bybel vir almal (ABA)
Ek verstaan nie wat ek doen nie. Ek wil goeie dinge doen, maar dan doen ek dit nie. Ek doen slegte dinge, dinge wat ek haat. En wanneer ek dinge doen wat ek nie wil doen nie, dan besef ek dat die wette goed is. Want dit is nie ék wat die slegte dinge doen nie, dit is die sónde wat in my is. Ek weet daar is niks in my wat goed is nie. Ek wil graag goeie dinge doen, maar ek doen dit nie.
ROMEINE 7:15-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.
ROMEINE 7:15-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie.
ROMEINE 7:15-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek verstaan my eie optrede nie: Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek. En as ek dit doen wat ek nie wil nie, gee ek toe dat die wet goed is. Nou is dit egter nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, dit wil sê, nie in my sondige aard nie. Die wil bestaan wel by my, maar die doen van die goeie nie.
ROMEINE 7:15-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want wat ek doen, laat ek nie toe nie; want wat ek wil, dit doen ek nie; maar wat ek haat, dit doen ek. As ek dan doen wat ek nie wil nie, stem ek in met die wet dat dit goed is. Nou dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Want ek weet dat in my (dit is in my vlees) geen goeie ding woon nie; want om te wil is by my teenwoordig; maar hoe om te doen wat goed is, vind ek nie.
ROMEINE 7:15-18 Die Boodskap (DB)
Ek kan nie verklaar hoekom ek sonde doen nie. Want ek wil dit nie doen nie. Tog doen ek dinge wat ek met my hele wese haat. Juis om hierdie rede is die wet nodig en goed. Dit wys immers vir my dat die lelike dinge wat ek doen, verkeerd is. Dis teen God se wil. Ek is nie meer in beheer van my eie lewe nie. Sonde speel oor my lewe baas. Ek weet alte goed dat ek ’n sondaar is. Nêrens in my liggaam skuil daar ’n enkele stukkie goed nie. Want ek wil bitter graag doen wat reg is. Maar ek kry dit eenvoudig nie reg nie.
ROMEINE 7:15-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek verstaan my eie doen en late glad nie. Wat ek graag wil doen, laat ek na, maar wat ek verafsku, juis dit doen ek. As ek doen wat ek nie wil doen nie en my gewete kla my daaroor aan, erken ek self dat die wet goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat die verkeerde doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Ek weet dat ek – ten minste wat my ou, sondige natuur betref – nie oor die vermoë beskik om die goeie te doen nie. Want die begeerte tot die goeie is daar, maar ek kry dit nie uitgevoer nie.