ROMEINE 7:14-20
ROMEINE 7:14-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die wet is dus goed. Dit het ’n diep geestelike karakter. Die probleem lê nie by die wet nie, maar by myself omdat ek aan my sondige natuur gebind is. Ek is ’n slaaf wat aan die sonde verkoop is. Ek verstaan my eie doen en late glad nie. Wat ek graag wil doen, laat ek na, maar wat ek verafsku, juis dit doen ek. As ek doen wat ek nie wil doen nie en my gewete kla my daaroor aan, erken ek self dat die wet goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat die verkeerde doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Ek weet dat ek – ten minste wat my ou, sondige natuur betref – nie oor die vermoë beskik om die goeie te doen nie. Want die begeerte tot die goeie is daar, maar ek kry dit nie uitgevoer nie. Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen, maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek. As ek dan doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon.
ROMEINE 7:14-20 Bybel vir almal (ABA)
Ons weet dat die Heilige Gees die wette gegee het, maar ek is 'n mens, ek doen slegte dinge, ek is 'n slaaf van die sonde. Ek verstaan nie wat ek doen nie. Ek wil goeie dinge doen, maar dan doen ek dit nie. Ek doen slegte dinge, dinge wat ek haat. En wanneer ek dinge doen wat ek nie wil doen nie, dan besef ek dat die wette goed is. Want dit is nie ék wat die slegte dinge doen nie, dit is die sónde wat in my is. Ek weet daar is niks in my wat goed is nie. Ek wil graag goeie dinge doen, maar ek doen dit nie. Ja, ek doen nie die goeie dinge wat ek graag wil doen nie, maar ek doen die slegte dinge wat ek nie wil doen nie. En wanneer ek die slegte dinge doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie ek wat die slegte dinge doen nie, dit is die sonde wat dit doen, die sonde wat in my is.
ROMEINE 7:14-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon.
ROMEINE 7:14-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos 'n slaaf aan die sonde verkoop. Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.
ROMEINE 7:14-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ons weet wel dat die wet geestelik is, maar ek, in my sondige aard, is uitverkoop aan die sonde. Ek verstaan my eie optrede nie: Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek. En as ek dit doen wat ek nie wil nie, gee ek toe dat die wet goed is. Nou is dit egter nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, dit wil sê, nie in my sondige aard nie. Die wil bestaan wel by my, maar die doen van die goeie nie. Die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon.
ROMEINE 7:14-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, laat ek nie toe nie; want wat ek wil, dit doen ek nie; maar wat ek haat, dit doen ek. As ek dan doen wat ek nie wil nie, stem ek in met die wet dat dit goed is. Nou dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Want ek weet dat in my (dit is in my vlees) geen goeie ding woon nie; want om te wil is by my teenwoordig; maar hoe om te doen wat goed is, vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.
ROMEINE 7:14-20 Die Boodskap (DB)
Die wet kom van God af. Maar ek wat dit moet probeer gehoorsaam, is ’n sondaar. Ek is soos ’n slaaf aan die verskriklike mag van die sonde uitverkoop. Ek kan nie verklaar hoekom ek sonde doen nie. Want ek wil dit nie doen nie. Tog doen ek dinge wat ek met my hele wese haat. Juis om hierdie rede is die wet nodig en goed. Dit wys immers vir my dat die lelike dinge wat ek doen, verkeerd is. Dis teen God se wil. Ek is nie meer in beheer van my eie lewe nie. Sonde speel oor my lewe baas. Ek weet alte goed dat ek ’n sondaar is. Nêrens in my liggaam skuil daar ’n enkele stukkie goed nie. Want ek wil bitter graag doen wat reg is. Maar ek kry dit eenvoudig nie reg nie. Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die lelike dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek. Iets groots is in my lewe verkeerd. Dis nie meer ek wat in beheer van my eie lewe staan nie. Sonde is my baas.