ROMEINE 7:1-13
ROMEINE 7:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle weet, broers – en ek praat met mense wat op hoogte is van die wet van Moses – dat die wet gesag het oor 'n mens so lank as hy lewe. Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind so lank as hy lewe. As haar man te sterwe kom, is sy onthef van die wet wat haar aan haar man gebind het. Maar as sy 'n ander man se vrou word so lank as haar man lewe, sal sy as 'n egbreekster beskou word. As haar man gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie 'n egbreekster as sy 'n ander man se vrou word nie. Dit is ook die geval met julle, my broers. Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou 'n vrugbare lewe lei in diens van God. Toe ons nog 'n sondige lewensbestaan gevoer het, was die sondige hartstogte wat deur die wet wakker gemaak is, in elke deel van ons liggame werksaam en het ons vrugte gedra in diens van die dood. Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie. Wat is dan ons gevolgtrekking? Dat die wet van Moses sonde is? Beslis nie. Inteendeel, ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” Maar deur hierdie gebod het die sonde 'n vastrapplek gekry en elke soort begeerte in my aan die gang gesit, want sonder die wet is die sonde dood. Voorheen, toe die wet nie daar was nie, het ek gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde begin lewe, en ek het gesterwe. Dit het geblyk dat die gebod wat bedoel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken. Die sonde wat deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het my deur die gebod mislei en my doodgemaak. Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed. Beteken dit dat iets wat goed is, vir my die dood gebring het? Beslis nie. Inteendeel, die sonde het vir my die dood gebring. Dit het die sonde gedoen deur iets wat goed is, sodat die sonde in sy ware aard as sonde bekend sou word en dit deur die gebod sou blyk hoe skrikwekkend die sonde werklik is.
ROMEINE 7:1-13 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ek weet julle ken God se wette. Julle weet dat die wette oor 'n mens regeer terwyl hy lewe. Die wette sê dat 'n vrou wat getroud is, net haar eie man se vrou is terwyl hy lewe. Maar wanneer haar man gesterf het, dan is sy vry, dit sê die wette. Die wette sê sy pleeg egbreuk wanneer sy 'n ander man se vrou word terwyl haar man lewe. Maar wanneer haar man dood is, dan is sy vry, die wet regeer nie meer oor haar nie. As sy daarna 'n ander man se vrou word, dan pleeg sy nie egbreuk nie. My vriende, dit is dieselfde met julle: Christus het gesterf, en julle het saam met Hom gesterf. Daarom regeer die wette nie oor julle nie. Julle behoort nou aan Iemand Anders, julle behoort aan Christus. Christus was dood, maar God het Hom weer laat lewe. Daarom kan ons nou almal lewe soos God wil hê. Voorheen het ons gelewe soos mense graag lewe. Ons het God se wette geken, en daarom het ons lus geword om sonde te doen. Ons het ons liggame gebruik om dinge te doen wat ons laat sterf. Die wette het ons vasgehou, maar nou is ons soos mense wat dood is, ons hoor nie wat die wette sê nie. Ons dien nou vir God soos die Heilige Gees vir ons sê om te doen, nie soos ons voorheen gedoen het nie, want die wette regeer nie meer oor ons nie. Is dit reg wanneer ons sê God se wette is sonde? Nee, nooit nie! Ek ken God se wette, en daarom weet ek wat sonde is. God se wette sê: “ Jy mag nie iemand anders se goed vir jouself wil hê nie,” en daarom weet ek dat ek dit nie mag doen nie. Maar die sonde gebruik daardie wet en maak my dan baie lus om ander mense se goed te hê. As daar nie wette was nie, dan kon die sonde my nie lus maak om slegte dinge te doen nie. Voorheen, toe ek nie God se wette geken het nie, het ek gelewe, maar toe ek die wette leer ken het, het die sonde in my begin lewe, en ek was soos 'n mens wat gesterf het. God het die wette gegee om my te laat lewe, maar ek het uitgevind daardie wette maak my dood. Want die sonde het God se wette gebruik en dit het my iets laat glo wat nie waar is nie. Ja, die sonde het die wette gebruik om my dood te maak. Daarom, die wette is God se wette. God gee elke wet, en elke wet is reg en goed. Mag ons dan sê die wette wat goed is, het my doodgemaak? Nee, nooit nie! Dit is die sonde wat my doodgemaak het. Die sonde gebruik God se goeie wette om my dood te maak sodat almal kan weet wat die sonde is. Ja, die sonde gebruik die wette, en so word die sonde altyd meer.
ROMEINE 7:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
OF weet julle nie, broeders — want ek spreek met mense wat die wet ken — dat die wet oor die mens heers so lank as hy lewe nie? Want die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man. Daarom dan, as sy 'n ander man s'n word terwyl haar man lewe, sal sy 'n egbreekster genoem word; maar as die man sterwe, is sy vry van die wet, sodat sy nie 'n egbreekster is as sy 'n ander man s'n word nie. So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan 'n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra. Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra. Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie. Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood. En sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe en ek het gesterwe. En die gebod wat die lewe moes wees, dié het vir my geblyk die dood te wees. Want die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en my verlei en daardeur gedood. Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed. Het die goeie dan vir my die dood geword? Nee, stellig nie! Maar wel die sonde, dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit deur die goeie vir my die dood bewerk, sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word.
ROMEINE 7:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Of weet julle dan nie, broers – ek praat immers met mense wat die wet ken – dat die wet seggenskap het oor die mens vir so lank as wat hy leef nie? Volgens die wet is die getroude vrou tog aan haar man verbonde terwyl hy nog leef; maar as die man sterf, is sy onthef van die wet ten opsigte van haar man. Gevolglik sal sy as 'n egbreekster beskou word as sy 'n ander man se vrou word terwyl haar man nog leef; maar as haar man sterf, is sy vrygestel van die wet; en as sy 'n ander man se vrou word, is sy nie 'n egbreekster nie. Net so, my broers, het ook julle deur julle verbintenis met die liggaam van •Christus, wat die wet betref, gesterf om aan iemand anders te behoort, naamlik aan die Een wat uit die dood opgewek is, om vir God vrug te kan dra. Toe ons nog in ons sondige aard vasgevang was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons ledemate gewerk om vrug te dra vir die dood. Maar aangesien ons gesterf het, is ons nou vrygestel van die wet waarin ons vasgevang was, sodat ons diensbaar kan wees in die nuwe bedeling van die Gees, en nie in die ou bedeling van die letter van die wet nie. Wat sal ons dan sê? Dat die wet sonde is? Hoegenaamd nie! Trouens, ek sou nie die sonde geken het as dit nie deur die wet was nie. Ek sou immers nie geweet het wat begeerte is as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” Nadat die sonde deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het dit allerlei begeertes in my gewek, want sonder die wet is die sonde dood. Destyds, sonder die wet, was ék lewendig; maar toe die gebod gekom het, het die sonde lewe gekry, en ek het gesterf en gevind dat die gebod wat na die lewe moes lei, na die dood gelei het. Die sonde wat deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het my mislei en my deur die gebod doodgemaak. So is die wet dan heilig; en ook die gebod is heilig en regverdig en goed. Het dit wat goed is, dan vir my die dood gebring? Hoegenaamd nie! Trouens, dit was die sonde – sodat dit sou blyk dat dit werklik sonde is – wat deur die goeie vir my die dood bewerk het. So het die sonde deur die gebod as uitermate sondig na vore getree.
ROMEINE 7:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Weet julle nie, broeders, (want ek spreek met die wat die wet ken), dat die wet oor 'n mens heers so lank as hy lewe nie? Want die vrou wat 'n man het, is deur die wet aan haar man gebonde solank hy lewe; maar as die man dood is, is sy verlos van die wet van haar man. As sy dan, terwyl haar man lewe, met 'n ander man getroud is, sal sy 'n egbreekster genoem word; maar as haar man dood is, is sy vry van daardie wet; sodat sy geen egbreekster is nie, al is sy met 'n ander man getroud. Daarom, my broeders, het julle ook vir die wet dood geword deur die liggaam van Christus; dat julle met 'n ander getroud moet wees, naamlik met Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons vir God vrug kan dra. Want toe ons in die vlees was, het die bewegings van sondes wat deur die wet was, in ons lede gewerk om vrug te dra tot die dood. Maar nou is ons verlos van die wet, omdat ons dood was waarin ons aangehou was; dat ons dien in 'n nuwe gees en nie in die oudheid van die letter nie. Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Die Here behoed. Nee, ek het die sonde nie geken nie, maar deur die wet; want ek het nie begeerlikheid geken nie, tensy die wet gesê het: Jy mag nie begeer nie. Maar die sonde het deur die gebod aanleiding gegee en in my allerhande begeerlikheid bewerk. Want sonder die wet was die sonde dood. Want ek het een keer sonder die wet gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde herleef en ek het gesterwe. En die gebod wat tot lewe bestem was, het ek gevind dat dit tot die dood was. Want sonde het deur die gebod aanleiding gegee, my bedrieg en my daardeur gedood. Daarom is die wet heilig en die gebod heilig en regverdig en goed. Is dit wat goed is dan vir my die dood? Die Here behoed. Maar die sonde, dat dit sonde kan blyk, wat die dood in my bewerk deur wat goed is; sodat sonde deur die gebod uitermate sondig kan word.
ROMEINE 7:1-13 Die Boodskap (DB)
Julle weet mos hoe die wet werk. Dit geld net solank jy leef, of hoe? Kom ek verduidelik dit met die beeld van ’n huwelik. ’n Getroude vrou is wettig aan haar man verbind solank hy leef. Maar as haar man dood is, is sy vry om weer te trou. As sy egter by ’n ander man gaan bly terwyl haar man nog leef, pleeg sy egbreuk. Maar as haar man dood is, staan dit haar vry om weer te trou. Dan tree sy glad nie verkeerd op nie. My broers en susters in die Here, dieselfde geld ook vir die wet. Julle is soos mense wat nou dood is vir die wet. Daarom hoef julle nie meer die wet te hou om by God uit te kom nie. Toe Christus aan die kruis dood is, het julle mos saam met Hom doodgegaan. Julle behoort nou aan Hom wat uit die dood opgestaan het. Ons is nie meer met die wet “getroud” nie, maar met Christus. Ons kan nou regtig tot eer van God leef. Voordat ons gelowiges was, het ons al die sondes gedoen waarteen die wet ons waarsku. In plaas daarvan dat die wet die mag van die sonde in ons lewens onder beheer gebring het, het dit ons aangevuur om die vieslikste dinge aan te vang. Ons was in die voorportaal van die doderyk omdat ons daardie dinge gedoen het wat die wet verbied. Maar nou is die doodsgreep van die wet op ons lewens vir altyd gebreek. Nou hoef ons ons nie meer aan allerhande reëls op papier te hou om by God uit te kom nie. Ons het nou deel aan die nuwe lewe wat die Gees bring. “Is dit dan ’n sonde om die wet te hou?” hoor ek een van julle vra. Nee, glad nie. Die wet sê juis vir ons wat sonde is. Ek sou mos nie geweet het dat ek nie mag begeer nie as die wet nie gesê het nie: “Jy mag nie begeer nie.” Tog help hierdie kennis nie veel nie, want die wet maak dat die sonde ’n vastrapplek in my lewe kry. In plaas daarvan dat die wet my keer om te sondig, maak dit my net bewus van my slegte begeertes - en laat my ook alles begeer wat deur die wet verbied word. As die wet nie daar was nie, sou sonde glad nie ’n probleem gewees het nie. Voordat daar ’n wet was, het ek nie mooi geweet wat reg en wat verkeerd is nie. Maar vandat God se wet op skrif gestel is, is daar geen verskoning meer nie. Toe het sondes skielik name gekry. Nou weet ek baie goed wat sonde is. Die wet het my egter nie by die ware lewe uitgebring nie. Inteendeel, dit het my net nog dieper in die doderyk ingesleep, want die sonde het sy aaklige kloue ook in die wet ingeslaan. Daarom kon die wet nie keer dat ek sonde doen nie. Dit het my eintlik ’n rat voor die oë gedraai. Want kort voor lank was ek in die doderyk, met die wet en al. Natuurlik is die wet heilig. Dit kom immers van God af. En natuurlik is alles wat in die wet geskryf staan ook heilig en goed. Dit sê vir ons wat God van ons vra. Hoe is dit dan moontlik dat iets wat so goed is vir my die dood bring? Is dit die wet se skuld dat ek in die mag van die dood is? Natuurlik nie. Dit is die sonde se skuld. Sonde het ook die goeie wet in sy slegte kloue beetgekry. Daarom sit ek nou in hierdie gemors. Die wet maak net van my ’n nog groter sondaar omdat ek dit nie kan gehoorsaam nie. Die wet sê vir my wat sonde is, maar keer my glad nie om dit te doen nie. Hoe tragies dat juis die wet moet wys hoe groot die mag van die sonde regtig is.
ROMEINE 7:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En nou, broers en susters – ek praat immers met mense wat die wet ken – julle weet tog dat die wet net van toepassing is op mense solank hulle lewe. Byvoorbeeld: As ’n vrou met ’n man trou, bind die wet haar aan haar eggenoot vir so lank as wat hy lewe. Maar as hy te sterwe kom, is die huwelikswet nie meer op haar van toepassing nie. As sy dus, terwyl haar man nog lewe, met ’n ander man trou, pleeg sy egbreuk. Maar as haar man te sterwe kom, is sy vrygestel van die huwelikswet en pleeg sy nie egbreuk as sy hertrou nie. My punt, my broers en susters, is die volgende: Julle staan ook nie langer onder die mag van die wet nie. Die wet het tog beheer oor julle verloor toe julle saam met Christus gesterf het. En nou behoort julle aan Iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is sodat julle goeie vrug vir God kan voortbring. Toe ons nog in die mag van ons sondige natuur was, was die sondige drifte wat deur die wet aangewakker is, oral in ons liggame werksaam en die resultaat daarvan was die dood. Maar nou is ons vrygestel van die binding van die wet omdat ons saam met Christus gesterf het. Daarom kan ons God nou dien met die nuutheid wat die Gees bring, nie op die ou manier van gehoorsaamheid aan die letter van die wet nie. Suggereer ek daarmee dat die wet van Moses sondig is? Hoegenaamd nie! Inteendeel, dit was juis die wet wat my van sonde bewus gemaak het. Ek sou byvoorbeeld nooit besef het wat sondige begeerte is as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” Sonde is deur hierdie gebod gestimuleer en het allerlei sondige begeertes in my aan die gang gesit. Sonder die wet sou die sonde nie daardie vermoë gehad het nie. Ek het destyds heel goed gevoel toe ek nog nie verstaan het wat die wet van my verwag nie. Maar toe die betekenis van die gebod tot my deurdring, het die sonde vir my ’n lewende werklikheid geword, en ek self het die doodsvonnis ontvang. Dit het geblyk dat juis die gebod wat veronderstel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken. Want die sonde wat deur die gebod aangewakker is, het my verlei en so my doodsvonnis meegebring. Nietemin, die wet op sigself is heilig en sy inhoud is heilig en reg en goed. Hoe is dit dan nou moontlik? Het dit wat goed is, naamlik die wet van Moses, dan vir my die dood gebring? Glad nie! Dis die sónde wat dit gedoen het, met die gevolg dat sy ware aard duidelik geword het. Sonde het dit wat goed is, misbruik om my dood te bewerk. So het die gebod nog soveel duideliker gemaak hoe verskriklik die sonde werklik is.