ROMEINE 6:4-5
ROMEINE 6:4-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só 'n nuwe lewe kan lei. As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in 'n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in 'n opstanding soos syne.
ROMEINE 6:4-5 Bybel vir almal (ABA)
Ja, ons is gedoop, en daarom kan ons sê ons het saam met Christus gesterf en ons was saam met Hom in die graf. God, die Vader en Koning, het vir Christus weer laat lewe. So laat God ons ook lewe, ons is soos mense wat 'n nuwe lewe gekry het. Christus het gesterf, en ons het soos Hy gesterf, want Hy en ons het een geword. En God het vir Christus weer laat lewe. Christus en ons het een geword, en daarom weet ons dat God vir ons ook weer saam met Christus sal laat lewe.
ROMEINE 6:4-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding
ROMEINE 6:4-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.
ROMEINE 6:4-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só 'n nuwe lewe kan lei. As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in 'n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in 'n opstanding soos syne.
ROMEINE 6:4-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom is ons saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel. Want as ons saam geplant is in die gelykenis van sy dood, sal ons ook in die gelykenis van sy opstanding wees.
ROMEINE 6:4-5 Die Boodskap (DB)
As dit dan waar is dat ons saam met Jesus die dood binnegestap het, is dit net so waar dat ons saam met Hom lewend anderkant uitgekom het toe God Hom met sy groot krag en heerlikheid uit die dood laat opstaan het. Daarom kan ons ook nou op ’n nuwe manier leef. Omdat ons saam met Jesus aan die kruis doodgegaan het, sal ons beslis saam met Hom oor die dood triomfeer.
ROMEINE 6:4-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ’n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ’n totaal nuwe lewe leef. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ’n nuwe lewe.