ROMEINE 6:22-23
ROMEINE 6:22-23 Die Boodskap (DB)
Gelukkig het God julle hier kom uithaal. Julle is nou voltyds in sy diens. Hy verander julle lewens nou al hoe meer tot sy eer. Boonop wag daar ’n wonderlike toekoms op julle. Die dood is nie meer julle voorland nie. Nee, julle gaan vir altyd in God se splinternuwe wêreld bly. Ek sê weer: as ’n mens jou hele lewe lank vir die sonde werk, is die dood jou beloning. So eenvoudig is dit. God gee egter aan ons die ewige lewe verniet. Dit is sy geskenk aan ons wanneer ons in Christus Jesus as ons Here glo.
ROMEINE 6:22-23 Bybel vir almal (ABA)
Maar nou het God julle vrygemaak van die sonde, en julle is God se slawe. Julle dien nou vir God en julle sal iets kry wat goed is: God sal julle heeltemal aan Hom wy en Hy sal vir julle die ewige lewe gee. As mense slawe van die sonde is, dan sal God hulle vir altyd laat sterf. Maar God is goed vir ons, Hy sal vir ons die ewige lewe gee, vir ons wat behoort aan Christus Jesus, ons Here.
ROMEINE 6:22-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
ROMEINE 6:22-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.
ROMEINE 6:22-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar, noudat julle van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer julle die vrug van heiligmaking, en die uiteinde hiervan is die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in •Christus Jesus ons Here.
ROMEINE 6:22-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar noudat julle vrygemaak is van sonde en dienaars van God geword het, het julle jul vrug tot heiligheid en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood; maar die gawe van God is die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.
ROMEINE 6:22-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar noudat julle vrygemaak is van die sonde en volledig in God se diens staan, is die resultaat daarvan ’n lewe van toewyding aan God en die eindresultaat – die ewige lewe! Want wat die sonde uitbetaal, is die dood. Maar God se genadegeskenk is die ewige lewe wat ons deel word deur Christus Jesus ons Here!