ROMEINE 6:19-23
ROMEINE 6:19-23 Bybel vir almal (ABA)
Ek weet dit is nie maklik om te verstaan wat ek vir julle sê nie, en daarom gaan ek dit nou vir julle só verduidelik: Voorheen was julle slawe van die sonde, julle het julle liggame gebruik om meer en meer slegte dinge te doen, dinge wat teen God se wette is. Maar God het julle vrygespreek, julle is nou God se slawe. Daarom moet julle nou julle liggame gebruik om die regte dinge te doen. Dan sal julle heeltemal aan God gewy wees. Toe julle slawe van die sonde was, het die sonde oor julle regeer. Julle het nie gedoen wat God wil hê nie. Maar dit was nie goed vir julle nie. Julle het dinge gedoen waaroor julle nou skaam is. As julle aangehou het om daardie dinge te doen, dan sou God julle vir altyd laat sterf het. Maar nou het God julle vrygemaak van die sonde, en julle is God se slawe. Julle dien nou vir God en julle sal iets kry wat goed is: God sal julle heeltemal aan Hom wy en Hy sal vir julle die ewige lewe gee. As mense slawe van die sonde is, dan sal God hulle vir altyd laat sterf. Maar God is goed vir ons, Hy sal vir ons die ewige lewe gee, vir ons wat behoort aan Christus Jesus, ons Here.
ROMEINE 6:19-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking. Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid. Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood. Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
ROMEINE 6:19-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Weens julle beperkte begrip gebruik ek 'n beeld uit die alledaagse lewe: soos julle elke deel van julle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid gestel het en losbandig gelewe het, so moet julle nou elke deel van julle liggame in diens van God stel om heilig te lewe. Toe julle slawe van die sonde was, was julle nie in diens van God nie. Wat was die vrug wat dié dinge waaroor julle nou skaam kry, tóé vir julle opgelewer het? Die uiteinde van dié dinge is die dood. Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.
ROMEINE 6:19-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
– ter wille van julle menslike swakheid praat ek in menslike terme – want soos julle julle ledemate in diens van onreinheid en losbandigheid gestel het om losbandig te leef, stel nou so julle ledemate in diens van die geregtigheid om heilig te leef. Want toe julle nog slawe van die sonde was, was julle nie aan geregtigheid gebonde nie. Watter vrug het julle destyds verkry? Oor daardie dinge skaam julle julle nou, want die uiteinde daarvan is die dood. Maar, noudat julle van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer julle die vrug van heiligmaking, en die uiteinde hiervan is die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in •Christus Jesus ons Here.
ROMEINE 6:19-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek spreek soos mense vanweë die swakheid van julle vlees, want soos julle julle lede diensbaar gestel het aan onreinheid en ongeregtigheid tot ongeregtigheid; So ook nou, stel julle lede diensknegte tot geregtigheid tot heiligmaking. Want toe julle dienaars van die sonde was, was julle vry van geregtigheid. Watter vrug het julle toe gehad in die dinge waaroor julle julle nou skaam? want die einde van daardie dinge is die dood. Maar noudat julle vrygemaak is van sonde en dienaars van God geword het, het julle jul vrug tot heiligheid en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood; maar die gawe van God is die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.
ROMEINE 6:19-23 Die Boodskap (DB)
Verskoon maar dat ek so ’n alledaagse beeld gebruik. Dalk help dit julle om te begryp wat ek sê. Vroeër het julle julle oorgegee aan al wat sonde is. Met groot oorgawe het julle alles gedoen wat boos en sleg is. Nou moet julle met dieselfde oorgawe doen wat reg is. Leef soos mense wat eenkant geplaas is om God voltyds te dien. Vroeër was julle verslaaf aan die sonde. Julle kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. Dink ’n bietjie: Was dit die moeite werd om so in die sonde rond te lê? Wat het dit julle in die sak gebring? Net mooi niks nie! Kry julle nie skaam as julle terugdink aan wat julle alles aangevang het nie? Om in sonde te leef is niks anders as ’n doodloopstraat nie. Gelukkig het God julle hier kom uithaal. Julle is nou voltyds in sy diens. Hy verander julle lewens nou al hoe meer tot sy eer. Boonop wag daar ’n wonderlike toekoms op julle. Die dood is nie meer julle voorland nie. Nee, julle gaan vir altyd in God se splinternuwe wêreld bly. Ek sê weer: as ’n mens jou hele lewe lank vir die sonde werk, is die dood jou beloning. So eenvoudig is dit. God gee egter aan ons die ewige lewe verniet. Dit is sy geskenk aan ons wanneer ons in Christus Jesus as ons Here glo.
ROMEINE 6:19-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek praat op hierdie manier van slawe en base omdat dit makliker is om te verstaan. Voorheen het julle julle liggaamlike vermoëns diensbaar gemaak aan onreinheid en wetteloosheid en ’n wilde lewe gelei; net so moet julle nou al julle liggaamlike vermoëns aan die geregtigheid diensbaar maak en ’n lewe lei wat aan God toegewy is. Destyds toe julle slawe van die sonde was, het julle julle nie gesteur aan wat reg is voor God nie. En wat was die resultaat? Julle skaam julle nou daaroor, want wat julle destyds gedoen het, eindig in die ewige dood. Maar noudat julle vrygemaak is van die sonde en volledig in God se diens staan, is die resultaat daarvan ’n lewe van toewyding aan God en die eindresultaat – die ewige lewe! Want wat die sonde uitbetaal, is die dood. Maar God se genadegeskenk is die ewige lewe wat ons deel word deur Christus Jesus ons Here!