ROMEINE 6:15-18
ROMEINE 6:15-18 Bybel vir almal (ABA)
Ja, die wette regeer nie oor ons nie, die genade van God regeer oor ons. Kan ons nou sê ons mag aanhou sonde doen? Nee, nooit nie! Julle moet dit weet: Wanneer julle doen wat ander mense vir julle sê, dan is julle soos slawe. Maar wanneer julle doen wat die sonde sê, dan is julle slawe van die sonde, en dan sal God julle vir altyd laat sterf. Wanneer julle doen wat God vir julle sê, dan is julle slawe van God, en dan sal God julle vryspreek. Ek sê vir God dankie, want julle was voorheen slawe van die sonde, maar nou is dit vir julle lekker om die dinge te doen wat julle geleer het. Die sonde regeer nie oor julle nie, God het julle vrygemaak van die sonde, en nou is julle God se slawe en julle doen nou wat reg is.
ROMEINE 6:15-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie — òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is, en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid.
ROMEINE 6:15-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.
ROMEINE 6:15-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat dan? Sal ons sonde doen omdat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade? Hoegenaamd nie! Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid. Aan God die dank dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van leer waaraan julle onderwerp is; vrygemaak van die sonde, het julle slawe van die geregtigheid geword
ROMEINE 6:15-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wat dan? sal ons sondig, omdat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade? Die Here behoed. Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte stel om gehoorsaam te wees, julle diensknegte van hom is aan wie julle gehoorsaam is nie; hetsy van sonde tot die dood, of van gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar God word gedank dat julle dienaars van die sonde was, maar van harte gehoorsaam was aan die vorm van leer wat aan julle oorgelewer is. Toe julle vrygemaak is van sonde, het julle dienaars van geregtigheid geword.
ROMEINE 6:15-18 Die Boodskap (DB)
Beteken dit nou dat ons maar kan sondig omdat ons nie meer die wet hoef te gehoorsaam nie? Kan ons leef soos ons wil omdat God ons uit genade red? Nee, natuurlik nie. Julle weet mos hoe dit gaan: jy dien die een in wie se diens jy staan. Wat ek bedoel, is dit: as jy in die mag van die sonde is, sal jy aanhou sonde doen. Dan is die dood jou voorland. Maar aan die ander kant, as jy God dien, sal jy doen wat Hy sê. Dan wag die ewige lewe op jou. Ek sê vir God dankie dat Hy julle, wat julle hele lewe lank vir die sonde gewerk het, heeltemal vrygemaak het. Dit is hoekom julle nou luister na alles wat Hy deur die apostels en sy ander dienaars vir julle leer. Julle is nie meer slawe van die sonde nie. Nee, julle is nou God se slawe. Nou kan julle leef soos Hy dit wil hê.
ROMEINE 6:15-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Aangesien God se genade ons vrygemaak het van die wet, beteken dit dat ons nou maar kan voortgaan met sonde doen? Hoegenaamd nie! Besef julle nie dat dít waarvoor ’n mens jou as slaaf beskikbaar stel, jou baas word nie? Jy kan die sonde kies en daarmee saam die dood, of jy kan kies om God te gehoorsaam en volgens sy wil te lewe. Julle moet vir God dankie sê dat julle wat voorheen slawe van die sonde was, nou met julle hele hart gehoorsaam geword het aan die ware evangelie wat aan julle oorgelewer is. Verlos van die sonde het julle nou slawe geword van dit wat reg is voor God.