ROMEINE 6:14-17
ROMEINE 6:14-17 Bybel vir almal (ABA)
Die sonde sal nie oor julle regeer nie, want dit is nie die wette wat oor julle regeer nie, dit is die genade van God wat oor julle regeer. Ja, die wette regeer nie oor ons nie, die genade van God regeer oor ons. Kan ons nou sê ons mag aanhou sonde doen? Nee, nooit nie! Julle moet dit weet: Wanneer julle doen wat ander mense vir julle sê, dan is julle soos slawe. Maar wanneer julle doen wat die sonde sê, dan is julle slawe van die sonde, en dan sal God julle vir altyd laat sterf. Wanneer julle doen wat God vir julle sê, dan is julle slawe van God, en dan sal God julle vryspreek. Ek sê vir God dankie, want julle was voorheen slawe van die sonde, maar nou is dit vir julle lekker om die dinge te doen wat julle geleer het.
ROMEINE 6:14-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie — òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is
ROMEINE 6:14-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade. Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het.
ROMEINE 6:14-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? Sal ons sonde doen omdat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade? Hoegenaamd nie! Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid. Aan God die dank dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van leer waaraan julle onderwerp is
ROMEINE 6:14-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die sonde sal oor julle nie heers nie, want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? sal ons sondig, omdat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade? Die Here behoed. Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte stel om gehoorsaam te wees, julle diensknegte van hom is aan wie julle gehoorsaam is nie; hetsy van sonde tot die dood, of van gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar God word gedank dat julle dienaars van die sonde was, maar van harte gehoorsaam was aan die vorm van leer wat aan julle oorgelewer is.
ROMEINE 6:14-17 Die Boodskap (DB)
Julle staan nie meer onder die loodsware las van die sonde nie. Daardie mag is vir altyd gebreek. Julle hoef ook glad nie meer al die reëls van die wet na te kom om God se guns te probeer wen nie. Julle leef nou net uit sy goedheid. Beteken dit nou dat ons maar kan sondig omdat ons nie meer die wet hoef te gehoorsaam nie? Kan ons leef soos ons wil omdat God ons uit genade red? Nee, natuurlik nie. Julle weet mos hoe dit gaan: jy dien die een in wie se diens jy staan. Wat ek bedoel, is dit: as jy in die mag van die sonde is, sal jy aanhou sonde doen. Dan is die dood jou voorland. Maar aan die ander kant, as jy God dien, sal jy doen wat Hy sê. Dan wag die ewige lewe op jou. Ek sê vir God dankie dat Hy julle, wat julle hele lewe lank vir die sonde gewerk het, heeltemal vrygemaak het. Dit is hoekom julle nou luister na alles wat Hy deur die apostels en sy ander dienaars vir julle leer.
ROMEINE 6:14-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die sonde mag hoegenaamd nie oor julle heerskappy voer nie. Julle leef immers nie meer onder die verslawende mag van die wet nie, maar onder die bevrydende mag van die genade. Aangesien God se genade ons vrygemaak het van die wet, beteken dit dat ons nou maar kan voortgaan met sonde doen? Hoegenaamd nie! Besef julle nie dat dít waarvoor ’n mens jou as slaaf beskikbaar stel, jou baas word nie? Jy kan die sonde kies en daarmee saam die dood, of jy kan kies om God te gehoorsaam en volgens sy wil te lewe. Julle moet vir God dankie sê dat julle wat voorheen slawe van die sonde was, nou met julle hele hart gehoorsaam geword het aan die ware evangelie wat aan julle oorgelewer is.