ROMEINE 6:11-18

ROMEINE 6:11-18 Bybel vir almal (ABA)

Dit is dieselfde met julle: Julle moet weet dat die sonde ook nie vir julle kan oorwin nie, want julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Maar nou lewe julle vir God, julle wat aan Christus Jesus behoort. Julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Daarom moet julle nie tevrede wees dat die sonde oor julle liggame regeer nie, dit is liggame wat sal sterf. Ja, julle moenie die slegte dinge doen wat julle wil doen nie. Julle moenie julle liggame gebruik om verkeerde dinge te doen nie, julle moenie die sonde dien nie. Nee, julle moet julle liggame gebruik om God te dien, want julle was dood, maar God het julle weer laat lewe. God het julle vrygespreek, daarom moet julle julle liggame gebruik om te doen wat reg is. Die sonde sal nie oor julle regeer nie, want dit is nie die wette wat oor julle regeer nie, dit is die genade van God wat oor julle regeer. Ja, die wette regeer nie oor ons nie, die genade van God regeer oor ons. Kan ons nou sê ons mag aanhou sonde doen? Nee, nooit nie! Julle moet dit weet: Wanneer julle doen wat ander mense vir julle sê, dan is julle soos slawe. Maar wanneer julle doen wat die sonde sê, dan is julle slawe van die sonde, en dan sal God julle vir altyd laat sterf. Wanneer julle doen wat God vir julle sê, dan is julle slawe van God, en dan sal God julle vryspreek. Ek sê vir God dankie, want julle was voorheen slawe van die sonde, maar nou is dit vir julle lekker om die dinge te doen wat julle geleer het. Die sonde regeer nie oor julle nie, God het julle vrygemaak van die sonde, en nou is julle God se slawe en julle doen nou wat reg is.

ROMEINE 6:11-18 Die Boodskap (DB)

Julle moet net soos Jesus leef: beskou julleself as dood vir die sonde. Leef net vir God! Doen dit in die Naam van Christus Jesus. Moenie toelaat dat die sonde en sondige begeertes ooit weer ’n houvas op julle kry terwyl julle nog hier op aarde leef nie. Moenie dat ’n enkele liggaamsdeel van julle ooit in diens van die sonde staan nie. Nee, gee julle lewens vir God, van kop tot tone. Onthou: Hy het julle saam met Jesus uit die dood laat opstaan. Doen net wat God sê met elke krieseltjie krag in elke liggaamsdeel van julle. Julle staan nie meer onder die loodsware las van die sonde nie. Daardie mag is vir altyd gebreek. Julle hoef ook glad nie meer al die reëls van die wet na te kom om God se guns te probeer wen nie. Julle leef nou net uit sy goedheid. Beteken dit nou dat ons maar kan sondig omdat ons nie meer die wet hoef te gehoorsaam nie? Kan ons leef soos ons wil omdat God ons uit genade red? Nee, natuurlik nie. Julle weet mos hoe dit gaan: jy dien die een in wie se diens jy staan. Wat ek bedoel, is dit: as jy in die mag van die sonde is, sal jy aanhou sonde doen. Dan is die dood jou voorland. Maar aan die ander kant, as jy God dien, sal jy doen wat Hy sê. Dan wag die ewige lewe op jou. Ek sê vir God dankie dat Hy julle, wat julle hele lewe lank vir die sonde gewerk het, heeltemal vrygemaak het. Dit is hoekom julle nou luister na alles wat Hy deur die apostels en sy ander dienaars vir julle leer. Julle is nie meer slawe van die sonde nie. Nee, julle is nou God se slawe. Nou kan julle leef soos Hy dit wil hê.