ROMEINE 6:1-8
ROMEINE 6:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer ons sê ons moet aanhou sonde doen sodat God se genade meer kan word, is ons dan reg? Nee, nooit nie! Die sonde kan ons nie oorwin nie, ons is vir die sonde soos mense wat dood is. Daarom mag ons nie aanhou sonde doen nie. Julle moet dit weet: Ons is almal gedoop en ons behoort nou aan Christus Jesus. Hy het gesterf, en ons het saam met Hom gesterf. Ja, ons is gedoop, en daarom kan ons sê ons het saam met Christus gesterf en ons was saam met Hom in die graf. God, die Vader en Koning, het vir Christus weer laat lewe. So laat God ons ook lewe, ons is soos mense wat 'n nuwe lewe gekry het. Christus het gesterf, en ons het soos Hy gesterf, want Hy en ons het een geword. En God het vir Christus weer laat lewe. Christus en ons het een geword, en daarom weet ons dat God vir ons ook weer saam met Christus sal laat lewe. Ons weet dat ons ook gekruisig is toe Christus gekruisig is. Ons was mense wat graag sonde gedoen het, maar nou is ons nie meer so nie. Ja, ons is nie meer slawe van die sonde nie, want God het almal vrygespreek wat saam met Christus gesterf het. Christus het gesterf, en ons het saam met Hom gesterf. Daarom glo ons dat God vir Christus weer laat lewe het en dat ons ook saam met Christus sal lewe.
ROMEINE 6:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WAT sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe
ROMEINE 6:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.
ROMEINE 6:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem? Hoegenaamd nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef? Of weet julle nie dat ons wat in •Christus Jesus in gedoop is, in sy dood in gedoop is nie? Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só 'n nuwe lewe kan lei. As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in 'n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in 'n opstanding soos syne. Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. Wie gesterf het, is immers vrygemaak van die sonde. As ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef.
ROMEINE 6:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wat sal ons dan sê? Sal ons in sonde bly, sodat die genade oorvloedig kan word? God verbied. Hoe sal ons, wat vir die sonde dood is, nog langer daarin lewe? Weet julle nie dat so baie van ons wat in Jesus Christus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Daarom is ons saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel. Want as ons saam geplant is in die gelykenis van sy dood, sal ons ook in die gelykenis van sy opstanding wees. Om dit te weet, dat ons oue mens saam met Hom gekruisig is, sodat die liggaam van sonde vernietig kan word, sodat ons voortaan nie die sonde sou dien nie. Want hy wat dood is, is van sonde vrygemaak. En as ons saam met Christus dood is, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.
ROMEINE 6:1-8 Die Boodskap (DB)
Moet ons dan aanhou sonde doen sodat God kan aanhou om ons vry te spreek? Nee, hoegenaamd nie! Die sonde het mos nie meer ’n houvas op ons nie. Ons is morsdood daarvoor. Julle onthou wat by die doop gebeur het, of hoe? Toe ons in die Naam van Christus Jesus gedoop is, het ons deel geword van alles wat met Hom by die kruis gebeur het, van sy dood af tot by sy opstanding. As dit dan waar is dat ons saam met Jesus die dood binnegestap het, is dit net so waar dat ons saam met Hom lewend anderkant uitgekom het toe God Hom met sy groot krag en heerlikheid uit die dood laat opstaan het. Daarom kan ons ook nou op ’n nuwe manier leef. Omdat ons saam met Jesus aan die kruis doodgegaan het, sal ons beslis saam met Hom oor die dood triomfeer. Ons weet mos dat daardie sondige mens wat ons eenmaal was, kant en klaar saam met Jesus gekruisig is. Ons ou self, wat van vroeg tot laat agter elke sonde aangeloop het, is nou morsdood en begrawe. Daarom is ons nie meer slawe van die sonde nie. Sonde het mos nie ’n houvas op iemand wat klaar doodgegaan het nie. Ons wat saam met Christus gesterf het, glo dat ons saam met Hom sal leef.
ROMEINE 6:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloediger kan word? Hoegenaamd nie! Ons is immers dood vir die sonde. Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe! Of het julle vergeet dat ons met ons doop een geword het met Christus Jesus en so saam met Hom gesterf het? Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ’n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ’n totaal nuwe lewe leef. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ’n nuwe lewe. Ons weet dat ons ou, sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde. Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan sy lewe.