ROMEINE 5:20-21
ROMEINE 5:20-21 Bybel vir almal (ABA)
Die wette het gekom sodat die sondes meer kan word. Maar toe die sondes meer geword het, het God se genade ook baie meer geword. Die sonde het oor die mense regeer, dit het hulle laat sterf. Maar nou regeer God se genade oor ons. Jesus Christus ons Here red ons, en daarom spreek God ons vry en gee Hy vir ons die ewige lewe.
ROMEINE 5:20-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.
ROMEINE 5:20-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.
ROMEINE 5:20-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die wet het daarby gekom, met die gevolg dat die oortreding toegeneem het; maar namate die sonde toegeneem het, het die genade nog soveel oorvloediger geword. Dus: Net soos die sonde deur die dood geheers het, sal ook die genade deur die regverdiging heers en tot die ewige lewe lei deur Jesus Christus, ons Here.
ROMEINE 5:20-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Verder het die wet ingekom, sodat die oortreding meer kon word. Maar waar die sonde oorvloedig was, het genade baie meer oorvloedig geword: Sodat soos die sonde geheers het tot die dood, so kan ook die genade deur geregtigheid heers tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.
ROMEINE 5:20-21 Die Boodskap (DB)
Die wet van Moses het natuurlik ook intussen op die toneel verskyn. Mense kan daarom nie langer loskom met die verskoning dat hulle nie geweet het wat reg en wat verkeerd is nie. Die wet ontmasker nou al hulle sondes omdat dit name daaraan gee. Maar gelukkig het God se genade ook nog baie meer geword. Trouens, daar is geen vergelyking tussen mense se sondes en God se genade nie. Die sonde is soos ’n wrede baas wat oor ons heers en ons uiteindelik doodmaak. Maar God se wonderlike goedheid heers oor ons elkeen wat deur Hom vrygespreek is. Dit is natuurlik net te danke aan Jesus Christus dat ons vir altyd sal lewe. Hy is nou die Here oor ons hele lewe.
ROMEINE 5:20-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God se wet is gegee sodat alle mense kon sien hoe groot en baie hulle oortredings is. Maar hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword. Die gevolg hiervan is dat net soos die sonde oor almal regeer het en die dood oor hulle gebring het, God se genade nou regeer. Dit laat ons nou as regverdiges voor God staan, en loop uit op die ewige lewe wat ons deur Jesus Christus ons Here sal ontvang.