ROMEINE 5:12-21

ROMEINE 5:12-21 Bybel vir almal (ABA)

Daarom, een mens, Adam, het eerste sonde gedoen, en hy moes sterf. Van toe af doen al die mense sonde, en hulle moet almal sterf. Die mense het sonde gedoen voordat God vir hulle sy wette gegee het, maar hulle was nie skuldig nie, want hulle het nog nie die wette gehad nie. Hulle was nie skuldig nie, maar hulle het gesterf, van die tyd toe Adam gelewe het tot die tyd toe Moses die wette van God vir die Israeliete gegee het. Die dood het oor al die mense regeer. Die mense wat nie dieselfde sondes gedoen het wat Adam gedoen het nie, het ook gesterf. Ja, Adam het sonde gedoen en gesterf, en dit het gewys wat Christus moes kom doen, Christus, die Een wat later gekom het. God se genade is anders as die sonde en dit is sterker as die sonde. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en daarom het baie mense gesterf. Maar God se genade is baie beter. Ja, God is baie goed, Hy het Een Mens, Jesus Christus, gegee, en dit is hoe God genadig was vir baie meer mense. God se genade is nie soos Adam se sonde nie. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en God het gesê Adam het verkeerd gedoen, daarom sal God hom straf. Maar God se genade is anders. Die mense het baie sondes gedoen, maar toe het God se genade gekom, God was goed vir die mense en Hy het hulle vrygespreek. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en van toe af het die mense gesterf. Die dood het oor hulle regeer. Maar God se genade is baie beter, Hy is baie goed vir mense en Hy spreek hulle vry. Hulle sal vir altyd lewe en regeer, want Een Mens, Jesus Christus, het hulle gered. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en daarom moes God al die mense straf. Maar dit was ook Een Mens, Christus, wat gedoen het wat God wil hê, en daarom spreek God al die mense vry en laat Hy hulle lewe. Een mens, Adam, was ongehoorsaam, en toe het baie mense sondaars geword. Maar dit was ook Een Mens, Christus, wat gehoorsaam was, en daarom sal God baie mense vryspreek. Die wette het gekom sodat die sondes meer kan word. Maar toe die sondes meer geword het, het God se genade ook baie meer geword. Die sonde het oor die mense regeer, dit het hulle laat sterf. Maar nou regeer God se genade oor ons. Jesus Christus ons Here red ons, en daarom spreek God ons vry en gee Hy vir ons die ewige lewe.

ROMEINE 5:12-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAROM, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het — want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie. Tog het die dood geheers van Adam af tot op Moses, ook oor hulle wat nie gesondig het in die gelykheid van die oortreding van Adam nie, wat 'n voorbeeld is van Hom wat sou kom. Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword. En nie soos deur één wat gesondig het, is die gawe nie; want die oordeel was uit één tot veroordeling, maar die genadegawe is uit baie misdade tot vryspraak. Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus. Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word. Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.

ROMEINE 5:12-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie 'n wet is nie. Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.

ROMEINE 5:12-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Vóór die wet was daar reeds sonde in die wêreld, maar as daar nie 'n wet is nie, word sonde nie toegereken nie. Nietemin het die dood van Adam af tot by Moses geheers, ook oor dié mense wat nie gesondig het op dieselfde wyse as wat Adam oortree het nie. Adam is 'n voorbeeld wat heenwys na Hom wat sou kom. Maar die genadegawe is nie soos die oortreding nie. Want as deur die oortreding van een mens baie gesterf het, het die genade van God, ja, die genadegawe wat deur die een mens, Jesus •Christus, gekom het, vir baie mense nog soveel oorvloediger geword. En die gawe is nie soos die gevolg van een mens se sonde nie; want die oordeel oor een mens se oortreding het tot veroordeling gelei, maar die genadegawe het tot •vryspraak van baie oortredings gelei. Want as deur die oortreding van die een mens die dood deur daardie een mens begin heers het, sal hulle wat die oorvloed van God se genade ontvang, ja, die gawe van sy regverdiging, nog soveel eerder deur die een mens, Jesus Christus, in die lewe regeer. Daarom dan, soos daar deur die oortreding van een mens veroordeling oor alle mense gekom het, so het daar ook deur die een mens se gehoorsame optrede vir alle mense regverdiging tot die lewe gekom. Want soos deur die ongehoorsaamheid van een mens baie mense tot sondaars gemaak is, so ook sal deur die gehoorsaamheid van die Een baie mense geregverdig word. Die wet het daarby gekom, met die gevolg dat die oortreding toegeneem het; maar namate die sonde toegeneem het, het die genade nog soveel oorvloediger geword. Dus: Net soos die sonde deur die dood geheers het, sal ook die genade deur die regverdiging heers en tot die ewige lewe lei deur Jesus Christus, ons Here.

ROMEINE 5:12-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood; en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. (Want tot die wet was daar sonde in die wêreld, maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie. Nietemin het die dood geheers van Adam af tot by Moses, selfs oor hulle wat nie gesondig het nie, na die gelykenis van Adam se oortreding, wat die figuur is van Hom wat sou kom. Maar nie soos die oortreding nie, so is ook die vrye gawe. Want as baie deur die oortreding van een gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe uit genade wat deur een mens, Jesus Christus is, vir baie oorvloedig geword. En nie soos dit was deur een wat gesondig het nie, so is die gawe; want die oordeel was deur een tot veroordeling, maar die vrye gawe is van baie misdade tot regverdigmaking. Want as deur een se oortreding die dood deur een geheers het; veel meer sal hulle wat oorvloed van genade en van die gawe van geregtigheid ontvang, in die lewe regeer deur een, Jesus Christus.) Daarom, soos deur die oortreding van een oordeel oor alle mense tot veroordeling gekom het; net so het deur die geregtigheid van een die vrye gawe oor alle mense gekom tot regverdigmaking van die lewe. Want soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens tot sondaars gestel is, so sal baie deur die gehoorsaamheid van een regverdig gemaak word. Verder het die wet ingekom, sodat die oortreding meer kon word. Maar waar die sonde oorvloedig was, het genade baie meer oorvloedig geword: Sodat soos die sonde geheers het tot die dood, so kan ook die genade deur geregtigheid heers tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.

ROMEINE 5:12-21 Die Boodskap (DB)

Dit is net een mens se skuld dat hierdie wêreld in so ’n groot gemors is: Adam. Dit is hy wat die sonde en die dood in die wêreld ingebring het. Omdat hy nie na God wou luister nie, het hy die hele wêreld saam met hom in die sonde en die dood ingesleep. Daarom is ons almal nou sondaars. Nog voordat God sy wet aan Moses gegee het, was daar al sonde in die wêreld. Dit was nog net nie so duidelik uitgespel nie. Tog heers die dood van Adam se tyd af oor alles en almal. Al die mense wat ná Adam geleef het, het ook doodgegaan, al het hulle nie presies dieselfde sondes as hy gedoen nie. Maar Adam wys ook vooruit na die Een wat ons uit die greep van sonde kom bevry het. Tog kan Adam se sonde en Christus se verlossing nie in dieselfde asem genoem word nie. As slegs een persoon se sonde in staat was om miljoene mense in die dood te dompel, dink net wat God kan regkry deur een Man, Jesus Christus. Omdat God so baie vir ons omgee, het Hy hierdie Man na ons toe gestuur om ons vry te kom maak. Jesus Christus is die sigbare bewys van God se ongelooflike goedheid. Daar is eintlik geen vergelyking tussen Adam se doodsonde en God se splinternuwe geskenk aan ons nie. Want God se reaksie op Adam se sonde was kort en kragtig: ’n doodsvonnis vir die ganse wêreld. Maar toe volg daar ’n wonderwerk. In reaksie op ons derduisende oortredings het Hy ons heeltemal verniet kom vryspreek van ons sondes. As dit waar is dat die dood oor die hele wêreld geheers het deur een man se sonde, dink dan net wat een Man se offer tot gevolg sal hê: ’n splinternuwe lewe! Elkeen wat God se oorvloedige goedheid en sy vryspraak deur Jesus Christus ontvang, sal soos ’n koning saam met Hom heers. Een man se sonde het gemaak dat almal skuldig staan voor God se regbank. Maar een daad van gehoorsaamheid van ’n ander Man het gemaak dat almal nou onskuldig by God se hofsaal kan uitstap. Sy gehoorsaamheid bring ware lewe vir ons almal. Anders gesê: een man se ongehoorsaamheid aan God het ons status in ’n oogwink tot dié van sondaars verlaag. Maar ’n ander Man se gehoorsaamheid aan God verander ons status in ’n oogwink tot dié van vrygespreektes. Die wet van Moses het natuurlik ook intussen op die toneel verskyn. Mense kan daarom nie langer loskom met die verskoning dat hulle nie geweet het wat reg en wat verkeerd is nie. Die wet ontmasker nou al hulle sondes omdat dit name daaraan gee. Maar gelukkig het God se genade ook nog baie meer geword. Trouens, daar is geen vergelyking tussen mense se sondes en God se genade nie. Die sonde is soos ’n wrede baas wat oor ons heers en ons uiteindelik doodmaak. Maar God se wonderlike goedheid heers oor ons elkeen wat deur Hom vrygespreek is. Dit is natuurlik net te danke aan Jesus Christus dat ons vir altyd sal lewe. Hy is nou die Here oor ons hele lewe.

ROMEINE 5:12-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Adam gesondig het, het sonde in die wêreld ingekom en deur Adam se sonde ook die dood. En so het die dood tot alle mense deurgedring, want almal het gesondig. Reeds voordat die wet gegee is, het mense gesondig, alhoewel sonde nog nie so spesifiek toegereken kan word as daar geen wet is nie. Die mense tussen Adam en Moses het in elk geval almal gesterf, al was hulle nie soos Adam ongehoorsaam aan ’n uitdruklike opdrag van God nie. Adam was in ’n sekere sin ’n heenwysing na Hom wat sou kom. Tog is daar ’n ernstige verskil tussen ons sonde en God se genadegeskenk van vergifnis. Want die oortreding van hierdie een mens, Adam, het die dood van baie veroorsaak, maar die ander mens, Jesus Christus, het soveel meer gedoen: die genade van God, ja, sy genadegeskenk wat Hy deur Jesus Christus aan baie mense gee, oortref alles! En die resultaat van God se genadegeskenk verskil radikaal van die resultaat van die een mens, Adam, se sonde. Want hierdie een mens se sonde het gelei tot veroordeling, maar ons ontvang die genadegeskenk van God se vryspraak, al staan ons skuldig aan ’n menigte oortredings. Die oortreding van hierdie een mens, Adam, het veroorsaak dat die dood oor ons regeer, maar deur die een mens, Jesus Christus, word vir ons nog veel meer gegee: Almal wat God se oorvloedige genadegeskenk van vryspraak ontvang, sal koninklik oor die sonde en die dood triomfeer. Ja, Adam se een oortreding het God se veroordeling oor almal gebring, maar net so het Christus se een daad van gehoorsaamheid vryspraak en lewe vir almal gebring. Omdat een persoon aan God ongehoorsaam was, het baie mense sondaars geword. Net so sal baie deur die gehoorsaamheid van hierdie één, ánder Mens tot regverdiges verklaar word. God se wet is gegee sodat alle mense kon sien hoe groot en baie hulle oortredings is. Maar hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword. Die gevolg hiervan is dat net soos die sonde oor almal regeer het en die dood oor hulle gebring het, God se genade nou regeer. Dit laat ons nou as regverdiges voor God staan, en loop uit op die ewige lewe wat ons deur Jesus Christus ons Here sal ontvang.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid