ROMEINE 5:1-21

ROMEINE 5:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

OMDAT ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God. En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe — vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe — maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het. DAAROM, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het — want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie. Tog het die dood geheers van Adam af tot op Moses, ook oor hulle wat nie gesondig het in die gelykheid van die oortreding van Adam nie, wat 'n voorbeeld is van Hom wat sou kom. Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword. En nie soos deur één wat gesondig het, is die gawe nie; want die oordeel was uit één tot veroordeling, maar die genadegawe is uit baie misdade tot vryspraak. Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus. Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word. Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.

ROMEINE 5:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus •Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God. Maar dis nie al nie: Ons beroem ons ook op ons verdrukking, omdat ons weet verdrukking bewerkstellig volharding, en volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid tot hoop. En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. Toe ons nog magteloos was, het Christus immers op die regte tyd vir goddeloses gesterf. 'n Mens sal nie maklik vir 'n •regverdige persoon sterf nie, al sou 'n mens dalk nog die moed hê om vir so 'n goeie persoon te sterf. God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Hoeveel te meer sal ons dan deur Hom van die oordeel gered word, noudat ons deur sy bloed geregverdig is! As ons, toe ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy lewe verlos word noudat ons met Hom versoen is! Maar dis nie al nie; ons vind ons roem ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het. Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Vóór die wet was daar reeds sonde in die wêreld, maar as daar nie 'n wet is nie, word sonde nie toegereken nie. Nietemin het die dood van Adam af tot by Moses geheers, ook oor dié mense wat nie gesondig het op dieselfde wyse as wat Adam oortree het nie. Adam is 'n voorbeeld wat heenwys na Hom wat sou kom. Maar die genadegawe is nie soos die oortreding nie. Want as deur die oortreding van een mens baie gesterf het, het die genade van God, ja, die genadegawe wat deur die een mens, Jesus •Christus, gekom het, vir baie mense nog soveel oorvloediger geword. En die gawe is nie soos die gevolg van een mens se sonde nie; want die oordeel oor een mens se oortreding het tot veroordeling gelei, maar die genadegawe het tot •vryspraak van baie oortredings gelei. Want as deur die oortreding van die een mens die dood deur daardie een mens begin heers het, sal hulle wat die oorvloed van God se genade ontvang, ja, die gawe van sy regverdiging, nog soveel eerder deur die een mens, Jesus Christus, in die lewe regeer. Daarom dan, soos daar deur die oortreding van een mens veroordeling oor alle mense gekom het, so het daar ook deur die een mens se gehoorsame optrede vir alle mense regverdiging tot die lewe gekom. Want soos deur die ongehoorsaamheid van een mens baie mense tot sondaars gemaak is, so ook sal deur die gehoorsaamheid van die Een baie mense geregverdig word. Die wet het daarby gekom, met die gevolg dat die oortreding toegeneem het; maar namate die sonde toegeneem het, het die genade nog soveel oorvloediger geword. Dus: Net soos die sonde deur die dood geheers het, sal ook die genade deur die regverdiging heers en tot die ewige lewe lei deur Jesus Christus, ons Here.

ROMEINE 5:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, het ons nou vrede met God op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het. Deur Jesus Christus het ons, deurdat ons glo, toegang verkry tot hierdie heerlike posisie van genade waarin ons ons nou bevind, en ons jubel vol verwagting oor die heerlikheid wat God aan ons gaan gee. Dis egter nie al nie – ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Ja, juis toe ons nog totaal hulpeloos was, het Christus vir ons, die goddeloses, kom sterf. ’n Persoon sal kwalik bereid wees om vir ’n regverdige mens te sterf. Miskien sal iemand nog kans sien om vir ’n besonder goeie mens te sterf. God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was. Ons is nou vrygespreek deur Jesus se dood. Hoeveel te meer sal Hy ons nie, deur Jesus, verlos van die toekomstige oordeel nie! Want as God ons, terwyl ons nog sy vyande was, deur die dood van sy Seun tot sy vriende gemaak het, hoeveel te meer sal Hy ons nie noudat ons sy vriende is, deur Hom, die lewende Jesus, van die oordeel red nie! Bo alles kan ons nou ook jubel in God omdat Jesus Christus ons Here ons bevoorreg het om nou God se vriende te wees. Toe Adam gesondig het, het sonde in die wêreld ingekom en deur Adam se sonde ook die dood. En so het die dood tot alle mense deurgedring, want almal het gesondig. Reeds voordat die wet gegee is, het mense gesondig, alhoewel sonde nog nie so spesifiek toegereken kan word as daar geen wet is nie. Die mense tussen Adam en Moses het in elk geval almal gesterf, al was hulle nie soos Adam ongehoorsaam aan ’n uitdruklike opdrag van God nie. Adam was in ’n sekere sin ’n heenwysing na Hom wat sou kom. Tog is daar ’n ernstige verskil tussen ons sonde en God se genadegeskenk van vergifnis. Want die oortreding van hierdie een mens, Adam, het die dood van baie veroorsaak, maar die ander mens, Jesus Christus, het soveel meer gedoen: die genade van God, ja, sy genadegeskenk wat Hy deur Jesus Christus aan baie mense gee, oortref alles! En die resultaat van God se genadegeskenk verskil radikaal van die resultaat van die een mens, Adam, se sonde. Want hierdie een mens se sonde het gelei tot veroordeling, maar ons ontvang die genadegeskenk van God se vryspraak, al staan ons skuldig aan ’n menigte oortredings. Die oortreding van hierdie een mens, Adam, het veroorsaak dat die dood oor ons regeer, maar deur die een mens, Jesus Christus, word vir ons nog veel meer gegee: Almal wat God se oorvloedige genadegeskenk van vryspraak ontvang, sal koninklik oor die sonde en die dood triomfeer. Ja, Adam se een oortreding het God se veroordeling oor almal gebring, maar net so het Christus se een daad van gehoorsaamheid vryspraak en lewe vir almal gebring. Omdat een persoon aan God ongehoorsaam was, het baie mense sondaars geword. Net so sal baie deur die gehoorsaamheid van hierdie één, ánder Mens tot regverdiges verklaar word. God se wet is gegee sodat alle mense kon sien hoe groot en baie hulle oortredings is. Maar hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword. Die gevolg hiervan is dat net soos die sonde oor almal regeer het en die dood oor hulle gebring het, God se genade nou regeer. Dit laat ons nou as regverdiges voor God staan, en loop uit op die ewige lewe wat ons deur Jesus Christus ons Here sal ontvang.

ROMEINE 5:1-21 Bybel vir almal (ABA)

God het ons vrygespreek omdat ons in Christus glo. Nou is daar vrede tussen ons en God, want ons Here Jesus Christus het vrede gemaak tussen ons en God. En Christus help vir ons wat glo, sodat ons elke dag kan weet dat God baie goed is vir ons. En ons is trots, want ons hoop en weet dat ons eendag by God, ons Koning, sal wees. Ons is ook trots wanneer ons swaarkry, want ons weet dat wanneer ons swaarkry, dan leer ons om geduldig te wees. En wanneer ons geduldig is, dan wys dit dat ons is soos God wil hê, en wanneer ons is soos God wil hê, dan hoop en weet ons dat God ons sal red. Ons weet ons sal kry wat ons hoop, want God het die Heilige Gees vir ons gegee, en die Heilige Gees maak ons harte vol met God se liefde. Christus het gesterf toe ons nog swak was. Ja, Hy het op die regte tyd gesterf om die sondaars te red. Niemand sal lus wees om te sterf om 'n ander mens te red nie, ook nie as daardie ander mens reg lewe nie. Ja, miskien sal daar iemand wees wat dapper is en lus is om te sterf om 'n goeie mens te red. Maar Christus het gesterf om ons te red toe ons sondaars was. Daarom weet ons dat God baie lief is vir ons. Christus het gesterf, en daarom het God ons vrygespreek. En daarom kan ons baie meer seker wees dat Christus ons ook sal red sodat God ons nie sal straf nie. Ons was voorheen God se vyande, maar God se Seun het gesterf sodat alles reg kan wees tussen ons en God. God het vir Christus weer laat lewe. Nou is alles reg tussen God en ons, daarom kan ons baie meer seker wees dat Christus ons sal red. Ons weet dat Christus ons sal red en ons is ook baie trots, want ons Here Jesus Christus het gesterf sodat alles reg kan wees tussen God en ons en sodat ons aan God kan behoort. Daarom, een mens, Adam, het eerste sonde gedoen, en hy moes sterf. Van toe af doen al die mense sonde, en hulle moet almal sterf. Die mense het sonde gedoen voordat God vir hulle sy wette gegee het, maar hulle was nie skuldig nie, want hulle het nog nie die wette gehad nie. Hulle was nie skuldig nie, maar hulle het gesterf, van die tyd toe Adam gelewe het tot die tyd toe Moses die wette van God vir die Israeliete gegee het. Die dood het oor al die mense regeer. Die mense wat nie dieselfde sondes gedoen het wat Adam gedoen het nie, het ook gesterf. Ja, Adam het sonde gedoen en gesterf, en dit het gewys wat Christus moes kom doen, Christus, die Een wat later gekom het. God se genade is anders as die sonde en dit is sterker as die sonde. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en daarom het baie mense gesterf. Maar God se genade is baie beter. Ja, God is baie goed, Hy het Een Mens, Jesus Christus, gegee, en dit is hoe God genadig was vir baie meer mense. God se genade is nie soos Adam se sonde nie. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en God het gesê Adam het verkeerd gedoen, daarom sal God hom straf. Maar God se genade is anders. Die mense het baie sondes gedoen, maar toe het God se genade gekom, God was goed vir die mense en Hy het hulle vrygespreek. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en van toe af het die mense gesterf. Die dood het oor hulle regeer. Maar God se genade is baie beter, Hy is baie goed vir mense en Hy spreek hulle vry. Hulle sal vir altyd lewe en regeer, want Een Mens, Jesus Christus, het hulle gered. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en daarom moes God al die mense straf. Maar dit was ook Een Mens, Christus, wat gedoen het wat God wil hê, en daarom spreek God al die mense vry en laat Hy hulle lewe. Een mens, Adam, was ongehoorsaam, en toe het baie mense sondaars geword. Maar dit was ook Een Mens, Christus, wat gehoorsaam was, en daarom sal God baie mense vryspreek. Die wette het gekom sodat die sondes meer kan word. Maar toe die sondes meer geword het, het God se genade ook baie meer geword. Die sonde het oor die mense regeer, dit het hulle laat sterf. Maar nou regeer God se genade oor ons. Jesus Christus ons Here red ons, en daarom spreek God ons vry en gee Hy vir ons die ewige lewe.

ROMEINE 5:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 'n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir 'n regverdige nie. Ja tog, vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het. Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie 'n wet is nie. Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.

ROMEINE 5:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus: Deur wie ons ook deur die geloof toegang het tot hierdie genade waarin ons staan en ons verheug in die hoop op die heerlikheid van God. En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in verdrukkinge, omdat ons weet dat verdrukking lydsaamheid bewerk; En geduld, ondervinding; en ondervinding, hoop: En die hoop beskaam nie; want die liefde van God word in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. Want toe ons nog kragteloos was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterf. Want beswaarlik sal iemand vir 'n regverdige sterwe, maar miskien sal sommige vir 'n goeie man dit selfs waag om te sterf. Maar God betuig sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan, omdat ons nou deur sy bloed geregverdig is, sal ons deur Hom van die toorn gered word. Want as ons, toe ons vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons, as ons versoen is, deur sy lewe gered word. En nie alleen dit nie, maar ons verheug ons ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het. Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood; en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. (Want tot die wet was daar sonde in die wêreld, maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie. Nietemin het die dood geheers van Adam af tot by Moses, selfs oor hulle wat nie gesondig het nie, na die gelykenis van Adam se oortreding, wat die figuur is van Hom wat sou kom. Maar nie soos die oortreding nie, so is ook die vrye gawe. Want as baie deur die oortreding van een gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe uit genade wat deur een mens, Jesus Christus is, vir baie oorvloedig geword. En nie soos dit was deur een wat gesondig het nie, so is die gawe; want die oordeel was deur een tot veroordeling, maar die vrye gawe is van baie misdade tot regverdigmaking. Want as deur een se oortreding die dood deur een geheers het; veel meer sal hulle wat oorvloed van genade en van die gawe van geregtigheid ontvang, in die lewe regeer deur een, Jesus Christus.) Daarom, soos deur die oortreding van een oordeel oor alle mense tot veroordeling gekom het; net so het deur die geregtigheid van een die vrye gawe oor alle mense gekom tot regverdigmaking van die lewe. Want soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens tot sondaars gestel is, so sal baie deur die gehoorsaamheid van een regverdig gemaak word. Verder het die wet ingekom, sodat die oortreding meer kon word. Maar waar die sonde oorvloedig was, het genade baie meer oorvloedig geword: Sodat soos die sonde geheers het tot die dood, so kan ook die genade deur geregtigheid heers tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.

ROMEINE 5:1-21 Die Boodskap (DB)

Omdat ons glo, is daar nou vrede tussen God en ons. En dit alles is aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur ons geloof het Hy gesorg dat ons nou in ’n splinternuwe verhouding met God staan. Ons leef nou dag vir dag net uit sy goedheid. Daarom is ons baie bly en opgewonde. Want ons weet dat God se nuwe wêreld op ons wag. Daar sal ons sy heerlikheid sien. Al kry ons nou baie swaar, vat dit glad nie ons blydskap weg nie. Allesbehalwe. Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm. En ’n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag. Wanneer ons al ons hoop op God stel, sal ons nooit teleurgesteld wees nie. Want Hy vul ons lewens elke dag met sy liefde. Dit doen Hy deur die Heilige Gees wat by ons bly. Christus het op presies die regte tydstip vir ons gesterf. Hy het sy lewe vir ons opgeoffer toe ons nog in die sonde rondgelê het. Dit is totaal ondenkbaar dat Christus bereid was om so iets vir ons te doen. Nie een van ons sal ooit ons lewe vir iemand anders prysgee nie. Ja, miskien nog vir ’n baie goeie vriend of vir die een of ander goeie mens. Maar God is heeltemal anders as ons. Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek doodgegaan het toe ons almal nog ’n spul sondaars was. As God so ongelooflik goed vir ons is deur ons van ons sondes vry te spreek omdat Christus se bloed in ons plek gevloei het, hoef ons nie meer vir sy oordeel bang te wees nie. Dan sal Jesus ons ook mos help wanneer ons voor God se oordeelstroon moet gaan staan. Sy dood het ons in die regte verhouding met God gebring toe ons nog aartsvyande van Hom was. Hoeveel te meer sal ons dan nie deur die lewende Jesus van die oordeel van God gered word nie? Daar is selfs nog meer rede om fees te vier: ons kan nou al dag vir dag in blydskap voor God leef. Dit is net aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur sy dood het Hy gesorg dat ons saak met God reg is. Dit is net een mens se skuld dat hierdie wêreld in so ’n groot gemors is: Adam. Dit is hy wat die sonde en die dood in die wêreld ingebring het. Omdat hy nie na God wou luister nie, het hy die hele wêreld saam met hom in die sonde en die dood ingesleep. Daarom is ons almal nou sondaars. Nog voordat God sy wet aan Moses gegee het, was daar al sonde in die wêreld. Dit was nog net nie so duidelik uitgespel nie. Tog heers die dood van Adam se tyd af oor alles en almal. Al die mense wat ná Adam geleef het, het ook doodgegaan, al het hulle nie presies dieselfde sondes as hy gedoen nie. Maar Adam wys ook vooruit na die Een wat ons uit die greep van sonde kom bevry het. Tog kan Adam se sonde en Christus se verlossing nie in dieselfde asem genoem word nie. As slegs een persoon se sonde in staat was om miljoene mense in die dood te dompel, dink net wat God kan regkry deur een Man, Jesus Christus. Omdat God so baie vir ons omgee, het Hy hierdie Man na ons toe gestuur om ons vry te kom maak. Jesus Christus is die sigbare bewys van God se ongelooflike goedheid. Daar is eintlik geen vergelyking tussen Adam se doodsonde en God se splinternuwe geskenk aan ons nie. Want God se reaksie op Adam se sonde was kort en kragtig: ’n doodsvonnis vir die ganse wêreld. Maar toe volg daar ’n wonderwerk. In reaksie op ons derduisende oortredings het Hy ons heeltemal verniet kom vryspreek van ons sondes. As dit waar is dat die dood oor die hele wêreld geheers het deur een man se sonde, dink dan net wat een Man se offer tot gevolg sal hê: ’n splinternuwe lewe! Elkeen wat God se oorvloedige goedheid en sy vryspraak deur Jesus Christus ontvang, sal soos ’n koning saam met Hom heers. Een man se sonde het gemaak dat almal skuldig staan voor God se regbank. Maar een daad van gehoorsaamheid van ’n ander Man het gemaak dat almal nou onskuldig by God se hofsaal kan uitstap. Sy gehoorsaamheid bring ware lewe vir ons almal. Anders gesê: een man se ongehoorsaamheid aan God het ons status in ’n oogwink tot dié van sondaars verlaag. Maar ’n ander Man se gehoorsaamheid aan God verander ons status in ’n oogwink tot dié van vrygespreektes. Die wet van Moses het natuurlik ook intussen op die toneel verskyn. Mense kan daarom nie langer loskom met die verskoning dat hulle nie geweet het wat reg en wat verkeerd is nie. Die wet ontmasker nou al hulle sondes omdat dit name daaraan gee. Maar gelukkig het God se genade ook nog baie meer geword. Trouens, daar is geen vergelyking tussen mense se sondes en God se genade nie. Die sonde is soos ’n wrede baas wat oor ons heers en ons uiteindelik doodmaak. Maar God se wonderlike goedheid heers oor ons elkeen wat deur Hom vrygespreek is. Dit is natuurlik net te danke aan Jesus Christus dat ons vir altyd sal lewe. Hy is nou die Here oor ons hele lewe.

ROMEINE 5:1-21

ROMEINE 5:1-21 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid