ROMEINE 4:20-25
ROMEINE 4:20-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.
ROMEINE 4:20-25 Die Boodskap (DB)
Abraham se geloof was die kragbron van sy lewe. Hy het God se hand styf vasgehou en aangehou om Hom te eer. Abraham het geweet dat God die een of ander tyd sou doen wat Hy belowe het. Daarom dat sy geloof hom in die regte verhouding met God laat leef het. Gelukkig is God se vryspraak nie net vir Abraham bedoel nie. Nee, dis ook vir ons bedoel; vir ons almal wat glo in God wat ons Here Jesus uit die dood laat opstaan het. Jesus is in ons plek vir al ons sondes dood, maar God het Hom weer lewendig gemaak. Daarom is ons elkeen wat in Hom glo se saak met God in orde.
ROMEINE 4:20-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het. Inderdaad, God het Abraham regverdig verklaar omdat hy in Hom geglo het! Hierdie wonderlike waarheid – dat God Abraham regverdig verklaar het omdat hy geglo het – staan nie net opgeteken ter wille van Abraham self nie. Dit wil ook vir óns verseker dat ons net so vrygespreek sal word as ons in Hom glo wat Jesus ons Here uit die dood opgewek het. Hierdie Jesus is oorgelewer om ter wille van ons sondes te sterf, en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.
ROMEINE 4:20-25 Bybel vir almal (ABA)
Hy het nie opgehou glo nie. Hy het aangehou glo dat God vir hom sal gee wat Hy belowe het. Sy geloof het sterker geword. Abraham het vir God geprys en hy het baie seker geweet dat God kan doen wat Hy belowe het. Daarom het God vir Abraham vrygespreek. Daar is geskryf dat God hom vrygespreek het, maar dit is nie net vir Abraham geskryf nie, dit is ook vir ons geskryf. God sal vir ons ook vryspreek, vir ons wat glo in God wat vir Jesus, ons Here, weer laat lewe het. God het vir Jesus laat sterf omdat ons sonde gedoen het, en God het vir Jesus weer laat lewe omdat God ons wou vryspreek.
ROMEINE 4:20-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken. Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.
ROMEINE 4:20-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Met die belofte van God in gedagte, het hy nie in ongeloof verval en begin twyfel nie; trouens, hy het sterker geword in die geloof, en het die eer aan God gegee. Hy was vas daarvan oortuig dat God dit wat Hy beloof het, ook kan doen. Daarom “is dit vir hom as regverdiging gereken”. Dat dit vir hom as regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.
ROMEINE 4:20-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God gestruikel nie; maar was sterk in die geloof en het aan God eer gegee; En ten volle oortuig dat hy ook in staat was om te doen wat hy beloof het. En daarom is dit hom tot geregtigheid gereken. Nou is daar nie alleen om hom ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie; Maar ook vir ons, aan wie dit toegereken sal word, as ons glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het; wat oorgelewer is vir ons oortredings en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.