ROMEINE 4:17-25
ROMEINE 4:17-25 Bybel vir almal (ABA)
Want God het vir Abraham gesê: Ek het jou die voorvader van baie volke gemaak. Abraham het naby God gelewe en hy het in God geglo, God wat dooie mense weer laat lewe en wat dinge maak, dinge wat voorheen nie daar was nie. Niemand het gedink Abraham sal die voorvader van baie nasies kan word nie, maar Abraham het geglo dit sal gebeur, want God het vir hom gesê: Jou nageslag sal groot wees. Abraham was omtrent 100 jaar oud en hy het geweet hy is naby die dood. Hy het ook geweet Sara kan nie kinders kry nie. Maar sy geloof het sterk gebly. Hy het nie opgehou glo nie. Hy het aangehou glo dat God vir hom sal gee wat Hy belowe het. Sy geloof het sterker geword. Abraham het vir God geprys en hy het baie seker geweet dat God kan doen wat Hy belowe het. Daarom het God vir Abraham vrygespreek. Daar is geskryf dat God hom vrygespreek het, maar dit is nie net vir Abraham geskryf nie, dit is ook vir ons geskryf. God sal vir ons ook vryspreek, vir ons wat glo in God wat vir Jesus, ons Here, weer laat lewe het. God het vir Jesus laat sterf omdat ons sonde gedoen het, en God het vir Jesus weer laat lewe omdat God ons wou vryspreek.
ROMEINE 4:17-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
soos geskrywe is: Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak — voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie. En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken. Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.
ROMEINE 4:17-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.
ROMEINE 4:17-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
soos daar geskryf staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak” – dit was hy in die oë van die God in wie hy geglo het, wat die dooies lewend maak, en dit wat nog nie bestaan nie, tot bestaan roep. Hy het teen alle verwagting in bly hoop, en geglo dat hy die vader van baie nasies sou word, soos gesê is: “Só sal jou nageslag wees.” Sy geloof het nie verswak nie, al het hy besef dat sy eie liggaam reeds so te sê dood was – hy was reeds ongeveer 100 jaar oud – en dat Sara se moederskoot ook reeds dood was. Met die belofte van God in gedagte, het hy nie in ongeloof verval en begin twyfel nie; trouens, hy het sterker geword in die geloof, en het die eer aan God gegee. Hy was vas daarvan oortuig dat God dit wat Hy beloof het, ook kan doen. Daarom “is dit vir hom as regverdiging gereken”. Dat dit vir hom as regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.
ROMEINE 4:17-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
(Soos geskrywe is: Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak) voor Hom in wie hy geglo het, naamlik God, wat die dooies lewend maak en die dinge wat nie is nie, roep asof hulle bestaan. Wat teen hoop geglo het in hoop, dat hy die vader van baie nasies kon word, volgens wat gespreek is: So sal jou nageslag wees. En omdat hy nie swak was in die geloof nie, het hy nie geag dat sy eie liggaam nou dood was toe hy omtrent honderd jaar oud was nie, en ook nie die dood van Sara se skoot nie. Hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God gestruikel nie; maar was sterk in die geloof en het aan God eer gegee; En ten volle oortuig dat hy ook in staat was om te doen wat hy beloof het. En daarom is dit hom tot geregtigheid gereken. Nou is daar nie alleen om hom ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie; Maar ook vir ons, aan wie dit toegereken sal word, as ons glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het; wat oorgelewer is vir ons oortredings en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.
ROMEINE 4:17-25 Die Boodskap (DB)
In die Bybel sê God vir Abraham: “Ek maak jou die pa van baie nasies.” Abraham het hierdie belofte met sy hele lewe geglo. Hy het geweet dat God die onmoontlike kan doen: Hy kan dooies lewendig maak en met ’n enkele woord iets uit niks tot stand bring. Selfs toe alles hopeloos gelyk het, het Abraham geglo dat hy die pa van baie volke sou word. Hy het altyd vasgehou aan die woorde wat God vroeër vir hom gesê het: “Jy sal ’n groot nageslag hê.” Later, toe Abraham al by die 100 jaar oud was, het hy hom glad nie blind gestaar op die feit dat hy nie meer in staat was om kinders te verwek nie. En al was sy vrou Sara al te oud om ’n kind te hê, het hy nie moed opgegee nie. Abraham se geloof was die kragbron van sy lewe. Hy het God se hand styf vasgehou en aangehou om Hom te eer. Abraham het geweet dat God die een of ander tyd sou doen wat Hy belowe het. Daarom dat sy geloof hom in die regte verhouding met God laat leef het. Gelukkig is God se vryspraak nie net vir Abraham bedoel nie. Nee, dis ook vir ons bedoel; vir ons almal wat glo in God wat ons Here Jesus uit die dood laat opstaan het. Jesus is in ons plek vir al ons sondes dood, maar God het Hom weer lewendig gemaak. Daarom is ons elkeen wat in Hom glo se saak met God in orde.
ROMEINE 4:17-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is wat die Skrif bedoel het met die woorde: “Ek het jou die stamvader van baie volke gemaak.” By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is. Teen alle hoop in het Abraham met vaste hoop geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.” En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie. Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het. Inderdaad, God het Abraham regverdig verklaar omdat hy in Hom geglo het! Hierdie wonderlike waarheid – dat God Abraham regverdig verklaar het omdat hy geglo het – staan nie net opgeteken ter wille van Abraham self nie. Dit wil ook vir óns verseker dat ons net so vrygespreek sal word as ons in Hom glo wat Jesus ons Here uit die dood opgewek het. Hierdie Jesus is oorgelewer om ter wille van ons sondes te sterf, en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.